‘Nog geen datum’ vir operasie vir Vernon Koekemoer

Cassie Booyse net voor die hospitaal hom op 17 September 2022 by die huis kom haal het. (Foto: verskaf)

“Hy is by sy positiewe en gesels met my. Hy is nie meer so deurmekaar nie en hy lyk beter.”

Só sê Linda Coetzee, lewensmaat van Cassie Booyse – beter bekend as Vernon Koekemoer – wat tans om sy lewe veg in die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg ná drie onsuksesvolle heupoperasies.

“Sondag het ek regtig gedink ek gaan hom verloor, maar sy pyn word nou verdoof,” sê ʼn emosionele Coetzee aan Maroela Media.

Maroela Media het vroeër berig Booyse het drie onsuksesvolle heupoperasies ondergaan. Hy het egter weer infeksie gekry en hy kon sedert Februarie nog glad nie weer loop nie.

Booyse (66) sou vandag (Donderdag) ʼn vierde operasie ondergaan het in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, maar wag nog vir ʼn bed voordat hy oorgeplaas kan word.

“Volgens die dokter wat hom voorheen geopereer het, is Cassie nou op die waglys vir ʼn vierde operasie. Dit gebeur egter nie vandag nie en ons weet ook nie wanneer dit gaan gebeur nie,” sê Coetzee.

“Hy ontvang nou sterker antibiotika en pynmedikasie en ontvang ook terapie wat sy bloedsirkulasie bevorder.”

(Foto: verskaf)

Die mediese personeel wag ook op uitslae van bloedtoetse wat Woensdag gedoen is. “Ek probeer sterk staan, maar ek is bitter moeg.”

Booyse het in 2008 oornag ʼn sensasie op die internet geword ná ʼn foto van hom by ʼn musiekfees, met ʼn kortbroek, geknoopte hemp, mullet en glasie in die hand, versprei het. Hy is “Vernon Koekemoer” gedoop en die foto het wêreldwyd versprei. Hy was só gewild dat hy selfs in ʼn Nando’s-advertensie daarna gevolg het.

Volgens Coetzee is sy nie seker wat presies Booyse se volgende operasie gaan behels nie, maar sê dat die prostese wat nou in Booyse se heup is ʼn bakteriële infeksie veroorsaak en sê sy is bekommerd oor onder meer bloedvergiftiging en bedsere.

“Al wat ons nou kan doen, is wag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Alain ·

Kyk eks nou nie snaaks nie maar as ek so aan die agter kant van daai muur dophou???? dit lyk maar nie baie skoon daar nie. Wat gaan aan met ons staats diens……

Jillian ·

Net soos hy wag duisende ander mense ook vir datums op operasies in staats hospitalsle… Hoekom hoor ons nie van hulle ook nie?

George ·

Het hulle almal fame bereik, en het mense op sosiale media gevra “where are they now?”

Annakapat ·

Want hulle was nie in ‘n Nando’ s advertensie nie…

Kruidjie-roer-my-nie ·

Al moet jy kostes op kos en ander noodsaaklikhede sny, kry ten minste ñ hospitaal plan! Mense besef nogsteeds nie! dis lewensbelangrik. Ons het nie meer staats gesondheids diens nie. Ongelukkig.

Skim ·

Ek hoop nie hy is by dieselfde dokter wat met al die ander operasies gefaal het nie. Deesdae is mens dankbaar as jy uit die hospitaal kan kom sonder hospitaal bakterië in jou liggaam. Ek het al twee maal deurgeloop in privaat hospitale. Dis nie net staatshospitale nie. Ek wens Cassie ‘n spoedige herstel sonder komplikasies toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.