Nuuskommentaar: Afrikaner en ander minderheidsgroepe – gryp die geleenthede nou aan terwyl dit daar is

Afrikaner

Argieffoto.

Uit onder meer mediaterugvoer en braaivleispraatjies is dit duidelik dat baie Afrikaners as deelgenote van die land mismoedig oor die toekoms is. Maar die onlangse toekomsberaad van die Solidariteit Beweging het groot optimisme opgelewer – Afrikaners wat Horatius se woorde meer as 2 000 jaar gelede, carpe diem, aangeneem en die geleenthede wat die oomblik bied, aangegryp het.

Die bekende Romeinse digter, Quintus Horatius Flaccus (65 v.C. tot 8 v.C.), het die bekende term, carpe diem, gebruik. Hoewel die term toe nog nie die begrip van Christelik kon inhou nie, is dit vandag baie bekend in Christelike uitlegte en gebruike. Dit is byvoorbeeld die afgelope naweek deur dr. Izak Burger, vorige hoof van die AGS, gebruik toe hy by die jaarlikse liefdesmaal wat die bekende Bloemfonteinse internis, dr. Frieda Pienaar, en haar praktyk vir haar pasiënte aanbied, die groot groep mense toegespreek het.

Nou hoe beland ’n gerespekteerde, afgetrede kerkleier en leraar se opelugboodskap in ’n nuuskommentator (wat dikwels as politieke kommentator optree) se rubriek?

Carpe diem word dikwels in Engels vertaal as “seize the moment”. In Afrikaans word dit waarskynlik ten beste as “gryp die oomblik aan” vertaal, en die konteks is dat daar dalk nie ’n môre sal wees nie. Baie van dr. Frieda se pasiënte is kankerlyers vir wie môre nie gewaarborg is nie. Maar eintlik handel dit net oor die bewussyn daarvan, want niemand se môre is gewaarborg nie.

Nou wat van die Afrikaner en ander minderheidsgroepe? Hoekom lui die opskrif dat juis die Afrikaner en ander groepe nou die geleenthede moet aangryp?

Juis nou, met die Brexit-tameletjie, het die Skotse eerste minister weer die onafhanklikheidstrom geslaan. Die Britse premier, Boris Johnson, het elke moontlike parlementêre stem nodig om die voltrekking van Brexit, veral met ’n ooreenkoms, deur die Britse parlement te voer. Die meerderheid Skotte, Noord-Iere en Walliesers deel egter nie die Brexit-sentimente nie, en die Skotte wil skynbaar, gegewe die referendumuitslae oor lidmaatskap van die EU, eerder deel van die EU as deel van Brittanje bly terwyl dit óf die een, óf die ander moet wees. (Lees gerus Maroela Media se nuuskommentaar hieroor hier.)

Kortom, vir die Skotte het ’n geleentheid opgeduik, en die eerste minister gryp die geleentheid aan om weer ’n onafhanklikheidsreferendum aan te vra.

Wat die Afrikaner se eie toekomsvisie betref, geld twee uiteenlopende uitdrukkings.

Die een is ’n visie van byna volslae mismoedigheid, met manifestasies soos om met alle geweld te wil emigreer, sou dit realisties moontlik wees, of wel so te maak al gaan dit met enorme opofferings gepaard. Die pessimisme by sommiges is soms so erg dat rubriekskrywers wat beroepe doen op optimisme te dikwels deur lesers uitgetrap word daaroor. Die gevoel van soos ’n vreemdeling in eie land voel, slaan dikwels deur, en het juis weer ’n stewige hupstoot gekry deur die onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die posisie van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch (US), wat in wese die brose voete waarop Afrikaans in Suid-Afrika staan ’n harde voorhamerhou toegedien het.

Terselfdertyd is daar ’n deurlopende stroom lesers wat om geografiese onafhanklikheid roep. Terwyl een deel hiervan se geografiese verwagtinge krimp om binne werklikheidsperke te bly, behou ander hul verwagtinge van groot dele van die land wat baie groot eise aan realisme stel.

Hierteenoor is ’n onlangse toekomsberaad van die Solidariteit Beweging goed bygewoon, en die uwe is van verskillende kante verseker dat positiwiteit en optimisme sterk by van die teenwoordiges aanwesig is. Anders as met die bekendmaking van die oorspronklike Plan B, wat ook met optimisme gepaardgegaan het, was daar dié keer nie sprake van ’n duidelike dwarsboming van die voorstelle deur ’n segment van die Afrikaanse pers nie. Met die vorige ronde is selfs van lokvaljoernalistiek gebruik gemaak om dit te laat klink of ’n gerespekteerde Afrikanerfiguur hom teen die plan uitgespreek het. Maar toe reeds was die tekens daar toe die betrokke koerant aan ’n boikotaksie onderwerp is, en die koerant sy danspassies se voetwerk by die oorheersende dansmusiek se melodie moes aanpas.

Maar die grootste rede vir die media-omkeer was stellig dat planne en ideale nie op die beplanningstafel bly lê het nie. Dit het saamgeval met die sooispitseremonie van ’n kampus vir tegniese onderrig van meer as R300 miljoen. Ook ’n nuwe kampus vir Akademia van meer as ʼn miljard rand in die vooruitsig gestel.

In plaas van negatiewe beriggewing hieroor in die Afrikaanse media, is onder andere dr. Blade Nzimande oor sy lawaai oor die boosheid van dié nuwe kampusse nie net in die media gelooi nie, maar deur die media self. Hy en sy maters het verskeie lesse gekry oor die uitleg van grondwetlike taalregte. Trouens, selfs die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die US is in verskeie rubrieke deur gesaghebbendes gelooi. (Lees hier.)

Wat het gebeur? Veel meer as die sywaartse verskuiwing van ’n voorsanger van die Seunse Weenkoor.

Die antwoord is dat ’n groot deel van die Afrikaners die geleentheid aangegryp het toe dit hom voorgedoen het. Dit realiseer met mening, en word deur positiwiteit gevoed – positiwiteit wat in realiteit omgesit word. Ministers se onwaardige reaksie hierop word kragtig platgeslaan as die kaf wat dit is.

Anton Rupert se befaamde woorde, “Hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie ’n realis nie”, word wesenlik afgestof. As Christene word die afhanklikheid van God veranker in die boodskap dat God wel gebede verhoor, maar nie noodwendig soos ons dit wil nie, want Hy weet die beste.

Van die uitlegte oor die betekenis van die woorde carpe diem meen die woorde “sonder om hom oor môre te steur” hierby is onvanpas, want dit is juis oor môre wat die wil van die Here gesoek, en vir sy onderskraging gebid word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Leon ·

‘n Verslaggewer het die naweek in ‘n Afrikaanse koerant die hele situasie perfek saam gevat. Die blankes en Afrikaanssprekendes sit in presies dieselfde situasie as wat die Jode destyds in Duitsland onder Hitler was. Ons het ook ‘n diktatoriale mag doen net wat hulle wil. Ignoreer die Grondwet want dit is kwansuis net vir die blankes.Verander straatname en dorpe en stede se name sonder demokratiese deelname. Moedig plaasmoorde en rooftogte aan (hulle doen niks daaromtrent nie). Laat die EFF en BLF toe om rassistiese uitlatings te maak wat meer moorde en aanrandings aanhits. So, ons is net mooi waar Hitler se Jode was. Ons moet net wag vir die ANC om seker te begin met hulle massa uitwissing van blankes. Die wêreld sal nie ‘n vinger lig nie want hulle steun alles wat die ANC doen. Sal selfs hulle agterkante blink lek.

Andrea ·

Ek sien die ooreenkoms tussen ons en die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog al vir baie lank en dit bekommer my baie. As ek en my kinders kon padgee, sou ons.

Digitale optimis ·

Gryp digitale besigheid aan, laat ons almal daarin beweeg en leiers daarop word, dan is ons toekoms verseker.

Joziklong ·

Ek hoor julle. Ek luister wat julle sê. Staan saam, pellies. Dit is al wat ons gaan red.

Nee Dankie ·

Al ons vriende het geëmigreer en ons is ook nou oppad. Stel geensins belang in enige iets van/in Afrika nie… nie eens sogenaamde ‘wonderwerke’ nie.

Piet left the Building ·

Jou beste besluit ooit. Witmense daar is gedoem. Al wat Solidariteit kan doen is om dinge gerieflik te maak vir die wat agterbly. Teen 2070 sal die laaste generasie begin afsterf.

sweis ·

N onafhanklike tuisland, die noordkaap sal doen bou n hawe by Kleinzee en ontsout die see water en maak die dorre noordkaap die kosmantjie van afrika ,begin van vooraf en bou n voorspoedige land op met onafhanklike skole,besighede banke,hospitale universiteite waar ons in vrede en veiligheid kan lewe.

Frik ·

Stem saam. Die selfbestuur strooi is vir mense wat kla oor die ANC maar steeds in gerief wil leef.

Stephan de S ·

Uitstekende artikel Herman, wat vir
my baie hoop gee. Dit sluit aan by n uitstekende artikel deur Prof H Gillomee die naweek in Rapport. Inderdaad,as n mens beplan en iets doen en mense hoop gee, is wonderwerke moontlik. Wonderwerke beteken slegs dat die toekoms nie geslote of reeds bepaal is nie. Oor alle eeue het dinge, idees, ideologieë en skynbare politieke vastighede verander. Die wat nie in wonderwerke glo nie , moet ook glo dat niks in hd tydelike aardse lewe verander of kan verander nie. Dinge verander wel en onverwagte dinge gebeur vir die wat daaraan werk. Dankie MM vir die rol wat julle speel om Afrikaners….met hul vele kwaste….polities te rig en te monster.

Andrea van Vuren ·

Teen die tyd dat al hierdie beloftes van onafhanlikheid, Afrikaans, ens bewaarheid word, is ons almal reeds dood of iewers in ‘n vreemde land. Ek kry my nageslag bitter jammer.

Judy Steyn ·

Ek kan net bid dat dit haalbaar is. Ek kan nie glo dat die buitewêreld sit en toekyk na wat in SA aangaan en nie ‘n vinger lig om te help nie. Hoe ver moet dit nog gaan voor hulle sanksies teen SA instel?

Realis ·

Ons land se leuse was nog altyd “Eendrag maak mag”. Ek kan nie dink hoeveel keer het ons al daai leuse verbreek nie. Dis nou maar net eenmaal in ons volk se bloed om dwars te trek. Die voorbeelde is legio. Tel die hoeveelheid kerke, politieke partye, rade, kommissies en wat nog, is daar. Om te sê ons moet saam staan is ‘n rein gedagte. Dis net so moeilik met onse mense.

Grys ·

Dalk kan ek ʼn derde plan voorstel , soos ons weet in ons verlede was daar verskillende rigtings in die destydse groot trek, ek is vasbeslote dat daar geen toekoms in suid Afrika nie( 2mil teen 50mil) of in Afrika (2mil teen 1miljard) nou europa is ook nie ʼn trugkeer plan nie want daar is steeds meer Afrika immigrante en sal ons daar ook uitnommer, wat van ons vind ʼn onbewoonde eiland, en streef ons reg tot selfbeskikking en onafhanklikheid buite Afrika ? Dit klink dalk mal, maar die wêreld streef om mars te bewoon, hoekom kan ons nie ʼn alreeds onbewoonde bestaande eiland ons tuisland maak nie ? Dit gaan nie maklik wees nie, maar ook nie ontmoontlik nie ?

Judy Steyn ·

Die hele wereld is oorbevolk. Waar sal mens so ‘n eiland kry? Dit klink na ‘n goeie idee, maar daar is nie so ‘n eiland wat onbewoon is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.