Nuuskommentaar: Benoude katte maak benoude spronge

Benoude katte maak benoude spronge. ʼn Mens kan nie anders as om te wonder of hierdie spreekwoord nie dalk ook van toepassing op die regering se reaksie op die optogte in Senekal vandag is nie.

Die swaar polisieteenwoordigheid, lemmetjiesdraad-versperring tussen verskillende groepe, reusepadblokkades, die minister van polisie se teenwoordigheid asook die gereg se harde reaksie op die beweerde opstoker van die vorige protesaksie is nie kenmerkend van protesaksies in ons land nie. Die wyse waarop die regering met sogenaamde reg en geregtigheid op hierdie optogte teen plaasmoorde neergedaal het, is vreemd.

Die vraag wat dan geopper word, is waarom hulle hierdie saak en hierdie optogte uitgesonder het as teiken. Waarom het die ANC so oordadig hieroor gereageer as wat hulle het? Waarom nie teen die EFF wat etlike weke gelede winkels vir absoluut geen rede gevandaliseer het nie? Waarom nie teen die horde diensleweringsbetogings wat oor die jare heen in buitebandbrandery en klipgooiery ontaard het nie?

Alida Kok het in gister se Beeld dieselfde vraag gevra en tot die gevolgtrekking gekom: Die antwoord lê dalk in die verskil tussen die aard van die Afrikaner se opstand en die aard van die ander opstande.

Hoewel die EFF altyd vreeslik uitvaar teen die onbevoegdheid van die ANC, is hulle eintlik heel gemaklik daarmee om saam met ʼn ANC-regering te heers. Hoewel die EFF sogenaamde rewolusionêres is wat die regering gaan omverwerp, ry hulle eintlik met graagte op die rûe van die werkersklas wat hulle veronderstel is om op te hef. Die EFF is die ANC se de facto MK-vleuel wat oproerigheid veroorsaak, die politieke agenda radikaliseer en blatant antagonistiese narratiewe bedryf, sodat die ANC dit nie self hoef te doen nie. Die EFF het eintlik bloot die ANC Jeugliga, wat met die uittog van Julius Malema gesterf het, vervang.

Die EFF behou daarom geen daadwerklike bedreiging vir die ANC se heerskappy in nie – hulle help in teendeel soms juis die ANC se saak aan.

Diensleweringsbetogings het ook nie ten doel om die ANC omver te werp of bedreig nie. Mense sal eerder jaar na jaar in ongelukkigheid betoog, verarm en onderdruk word as wat hulle daadwerklike stappe sal doen om die ANC te onttroon. Die diensleweringsbetogings is vir die ANC ontwrigtend, maar op die keper beskou hou dit geen gevaar vir hulle in nie. Die feit dat die mense hul ongelukkigheid in betogings uitdruk, eerder as by die stembus, pas die ANC eintlik heel goed.

Albei hierdie soorte optogte en ontwrigtings is vir die ANC grootliks irrelevant, omdat dit hulle nie eintlik bedreig nie. Die betogers is ongelukkig, maar druk hul ongelukkigheid binne die ANC se politieke reëls uit. Hulle bly binne die grondwetlike raamwerk en politieke werklikhede – hulle wil bloot veranderinge bínne die raamwerk hê, eerder as om die raamwerk self te verwerp.

Die Afrikaner se verhouding met die politiek is egter anders. Na die regimeverandering het politiek ʼn wrang smaak in ons mond gelaat en wou ons die formele politiek eerder vermy. Ons het steeds binne die raamwerk van die politiek gebly, bloot omdat dit die regte ding is om te doen. Aan die begin het ons selfs vasgehou aan die idee van ʼn nuwe gelyke Suid-Afrika vir almal – dit was daarom ons plig om ook te probeer om dié idee te laat werk.

Die regering se ware kleure het egter vinnig begin wys en daarmee saam het die vooruitsigte vir ʼn een Suid-Afrika vir almal ook begin taan. Dit het duidelik geword dat die ANC graag ʼn sentrale meerderheidsregering wil bedryf ten einde mag in eie hande te hou. ʼn Een-man-een-stem demokrasie in ʼn heterogene land soos ons s’n is net demokrasie vir die meerderheid. Die ANC het ons stelselmatig uit die politiek verskuif en in die samelewing gedemoniseer.

Eerder as om in opstand te kom binne die ANC se politiek, het ons egter besluit om dit te verwerp. Eerder as om klein veranderinge bínne die stelsel te bewerkstellig, het ons die stelsel verwerp. Waar die regering ons uit universiteite gedwing het, het ons dit nie in protes afgebrand nie. Ons het eerder ons eie gebou. Waar die regering instansies vir tegniese opleiding verwoes het, het ons ons eie gebou. Waar die regering se dienslewering ineengestort het, het ons nie diensleweringsbetogings gehou nie. Ons het self paaie reggemaak.

So hard as wat die regering probeer het om ons te onderdruk, soveel het ons bloot na onsself begin omsien. Die oomblik toe ons werklik ongelukkig met die regering se politiek en politieke raamwerk geword het, het ons dit verwerp. Nie in ʼn gewelddadige rewolusie nie, maar eerder in stille selfdoen.

Dit is hierdie houding wat die ANC bedreig, eerder as die EFF se militante optrede en diensleweringsbetogings. Dit is die Afrikaner se verwerping van die politiek van die nuwe Suid-Afrika wat vir die ANC ʼn bedreiging inhou. Die oomblik wat ons hulle reëls verwerp, kan hulle ons nie meer daarmee benadeel nie.

Die ANC weet wat die gevaar is wanneer onderdrukte groepe hulle eie reëls skryf en daarvolgens speel. Dit is presies wat hulle onder die NP-regering gedoen het. Daarom wéét die ANC ook dat hulle besig is om ons te onderdruk. Hulle weet hoe onderdrukking en die reaksie daarop lyk.

Dit is ook waarom die ANC só streng gereageer het op die vorige betogings in Senekal asook die protes van vandag – die regering weet dat hulle dit bloot nie kan bekostig wanneer die Afrikaner ernstig in opstand kom nie. Die Afrikaner se teenwoordigheid in Senekal het hulle vrees bevestig dat ons klaar is met die regering en hulle politiek.

Die reëls wat die ANC egter destyds gekies het, was terrorisme – bomme in winkelsentrums, landmyne op plaaspaaie en aanvalle met handgranate in kerke. Die reëls wat ons gekies het, is selfdoen en opbou – private universiteite, eie tegniese opleiding en ʼn eie werkherstelprogram. Die reëls wat die ANC gekies het, het uiteindelik die land gevorm wat dié party ná die regimeverandering regeer het. Ons reëls sal ook die samelewing vorm wat ons graag wil hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Wel as hierdie n verskriklike groot mag was in die regering se oe ,het hulle my net vandag gewys dat hulle nie die vermoe het om ons te onderdruk nie.As daar vandag geweld was het die bietjie polissie beamtes gehardloop dat die stof so staan

Persheks Adri

Hulle is bang en daar is net tande gewys dan skrik hulle so groot! Ek is bly hulle besef die volgende stelling:

“Die Afrikaner se teenwoordigheid in Senekal het hulle vrees bevestig dat ons klaar is met die regering en hulle politiek.”

Klomp rassiste kyk hoe gedra hulle hulself sies man! Hoop hulle word aan gekla van haatspraak en aanhitsing van geweld!!!

B-Man

#TsekANC

Johan

‘n Baie raak opsomming, Monica. Ek is oortuig dat ons selfs deur die vernietigende grendeltydperk sterker anderkant uitgekom het en die ANC is magteloos teen ons oorlewingsvermoe.

Pieter

Ons praat en dreig te veel ons moet begin doen. Die ANC is n klomp terroriste jy onderhandel nie.