Nuuskommentaar: Bly of gly – dit is die vraag

Argieffoto: Pixabay.com

Sommige kan nie, ander wil nie, maar niemand staan koud oor die groot, en skynbaar toenemende getalle Suid-Afrikaners, veral wit Suid-Afrikaners, wat die land verlaat nie.

’n Maroela Media-leser, Erik Coetzee van Bloemfontein, het onlangs in ’n besonder nugter trant die kwessie in Maroela Media onder die loep geneem, en ’n groot aantal lesers het in hul kommentare op die skrywe uiteenlopend gereageer. Daar is geen maklike antwoorde nie.

Hoe sou iemand voel as hy suksesvol daarin slaag om iemand te oortuig om nie die groener gras aan die oorkant van die draad te gaan opsoek nie, en kort daarna is die persoon deel van die land se skrikwekkende moordsyfer? Of sy vrou deel van die verkragtingsyfer, of sy kind se drome verwoes omdat die kind na jare se harde leerwerk, ’n beurs vir mediese studie moes misloop oor sy velkleur?

’n Paar jaar gelede, met stakings wat hongersnood en groot verliese vir Rustenburg gebring het, het drie Afrikaanse kerke op dieselfde dag ’n dag van gebed gehou. Die drie kerke het grootliks dieselfde redes aangevoer vir die hou van so ’n dag, maar een van die kerke het ’n “politiek inkorrekte” rede ook gelys – die gevoel van vreemdeling wees in jou eie land. En het iemand wat ’n vreemdeling in sy eie land voel, nie rede om te voel hy kan dan net sowel ’n vreemdeling in ’n ander land gaan voel waar hy nie die heel tyd bekommerd is dat sy kind die slagoffer van ’n wrede misdaad sal wees nie?

Of is ons met ’n doel aan die suidpunt van Afrika geplaas?

Media-opskrifte dag in en dag uit help nie juis om die gemoedere te kalmeer nie, veral as ’n mens maar neig om die donker wolk eerder as die silwer randjie raak te kyk.

Die hoofartikels in vandag se uitgawes van die drie groot Afrikaanse dagblaaie ruk die kwessie in geen onduidelike taal nie, ook. Die Burger skryf oor pres. Cyril Ramaphosa se ontwykende daeraad. Die eerste sin verduidelik reeds amper alles: “Soms wonder ’n mens hoeveel slegter dit in Suid-Afrika moet gaan voor dit beter sal begin gaan.” Die hoofartikel sluit dan na ’n voëlvlug van skroewe wat uitval, met: “Wetsgehoorsame burgers van hierdie pragtige land verdien die beloofde nuwe daeraad. Ons verdien nie ’n regering wat die land op sy knieë dwing nie.”

Die Volksblad het dit oor toestande in die Vrystaat wat so uitgerafel het dat selfs die premier ’n baie negatiewe prentjie geskets het. Beeld skryf weer oor dinge wat by die SAUK nie wil regkom nie.

’n Gemene deler is ’n regering wat verbrou.

Ja, daar is ook positiewe stories wat uit hierdie negatiewe insidente ontspring, soos Gert Coetzee, redakteur van Volksblad, se mooi en gepaste ode aan Mita Koromang, die buitengewone huishulp wat met haar lewe geboet het om haar werkgewer wat kanker het en sy outistiese seun se lewe te red.

Ook Maroela Media het breedvoerig oor die geval berig. Een van die artikels kan hier gelees word. Net so positief is die talle positiewe lesersreaksies wat nou gebundel word om as huldeblyk met Mita se begrafnis Saterdag aan die familie oorhandig te word.

’n Soortgelyke verhaal ontvou rondom die aanval op Naka Drotské. Ook hier is goedgesindheid en medemenslikheid oor kleurgrense weerspieël.

Die BLF en die EFF is regte, egte “pretbederwers” van ongelooflike boosheid.

Dit is nie ’n maklike taak om van die land ’n beter plek te maak nie. AfriForum, met sy talle projekte om te help en reg te ruk, word dikwels erg gekritiseer. Die hofsake wat AfriForum voer, word dikwels met groot ondankbaarheid begroet.

Die regering se reaksie is dikwels asof dit weerstand wil bied teen die regstel van iets wat duidelik verkeerd is.

Baie van die landsverlaters “ontpop” in die buiteland as besonder lojale Afrikaners. Die talle Afrikaanse kerkdienste in Nieu-Seeland, om maar een voorbeeld te noem, is aanduidend hiervan. Hul pragtige weeklikse e-tydskrif, Brokkies, bevestig dit. Hulle volg Suid-Afrikaanse nuus nougeset deur onder meer Maroela Media en die sosiale media. Familiebande word onderhou.

’n Fiktiewe verhaaltjie demonstreer die deernis wat in die situasie voorkom. ’n Oupa vra sy vyfjarige kleinseun om hom te help dat hy met ’n kind oorsee kan Skype. Na die gesprek is die oupa vol lof vir dié slim kleinkind. Toe vra die kleinkind dat die oupa hom ook met iets help – om sy skoenveters gebind te kry.

Dit bly baie mense se oortuiging en instink om eerder te bly, en dit is goed so. Dit sal al baie help as die goeie mense oor die kleurgrense kan saamspan om die nuwe daeraad moontlik te maak. ’n Regering wat verbete om kleur bly saamspan, al word dit deur opperste skelms gekaap, verdien niks anders as oranje oorpakke nie – terwyl hulle dan so kleurbehep is.

Gee die Afrikaner met sy diep gevestigde Christelike onderbou en kulturele ingesteldheid afgestem op uitnemendheid ’n kans, en beleef dan die nuwe daeraad.


  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.
Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

35 Kommentare

Ekke ·

Ek ondersteun almal wat die land verlaat. My kinders gaan ook. Hier sal dit nooit weer veilig en vooruitstrewend wees nie.

Nee dankie ·

Andile, ek was al meer as een keer in Orania en dit staan my glad nie aan nie. Inteendeel, dit maak my skaam om ‘n Afrikaner te wees.

Anne ·

Ekke stem saam met jou, hoe kan iemand kwalik geneem word wat die land onder die huidige omstandigdhede verlaat.

Ian ·

Die vraag is nie bly of gly nie. Vir 99% van mense wat ek ken is dit eerder – kan ek dit bekostig of nie. DIT is die omvang, en die ENIGSTE omvang, van patriotisme teenoor hierdie land vandag.

Verskil ·

Stem nie saam nie. Daar is baie mense wat dit wel kan bekostig, maar nie emigreer nie. Die wat dit nie kan bekostig nie voel meestal hulle sal gaan as hul sou kon, bloot omdat hulle reeds swaarkry.

HvH ·

Sal baie graag hierdie gemors wou ontvlug aangesien die ergste nog voor ons wit mense is, maar het nie die miljoene, kwalifikasies en is reeds verby 45 jaar merk, so al my jare se werksondervinding is te min om my uit die kloue van anargie te kry.
My kind sal wel die land verlaat.
Statisties is dit bloot ‘n kwessie van tyd tot ek ook deel word van die getal gehate wittes wat uitgemoor word omdat ons durf woon in hierdie land.

Bly of gly – Feite is ook belangrik nie net emosie nie ·

Ek verstaan dat hierdie ‘n hoogs emosionele berig en aangeleentheid is wat daarop gerig is om kommentators te laat kla oor hoe ongelukkig hulle is. Maar feite is ook belangrik en moet ook in die berig gestel word. In 2018 is daar ‘n beraamde 4.52 miljoen wit Suid-Afrikaners terwyl daar in 2017 ongeveer 4.49 miljoen was. Tussen 2013 en 2018 het ongeveer 82 000 geemigreer. Daar was ook wit mense wat na Suid-Afrika toe geimmigreer het. Ensovoorts, ensovoorts.

Dit sal nooit moontlik wees vir almal om te emigreer nie. Baie sê al so die afgelope 20 jaar maar slegs 82 000 was die afgelope 5 jaar suksesvol om wel te emigreer. Baie sal nooit kan nie weens ‘n magdom faktore: finansies, ouderdom, geskooldheid, gesondheid, beperkte moontlikhede, kiriminele rekords ensovoorts ensovoorts.

Dit is nie miljoene of selfs derduisende wat al geemigreer het nie.

Leon ·

Registreer op “facebook – Ausikaners” en kyk wat gaan aan. Byna daagliks verlaat mense die land, en nie net Aus toe nie

Hendrik ·

Ek is ‘n blyer en bly seker op die regte plek in veiligheid (Nie agter diefwering en hekke). My voorstel aan die blyers, wat agter hoe mure met kameras en alarms skuil, om maar net bietjie wyer te kyk. Daar is plek en baie plek vir julle. Ons wag vir julle hier buite Pretoria.

Hendrik ·

Kleinfontein is 20 km oos van Silverlakes, 550 huise, 1500 inwoners.

Paul ·

Dankie vir die raad. Die realliteit egter, is hoe maklik en bekostigbaar is dit om sommer net jou skipskopgoedjies te vat en te trek. Maak sommetjie.

Hendrik ·

Het dit self gedoen 8 jaar gelede die skuif van die weste na die ooste van Pretoria gemaak en met dieselde standaard behuising as in Pretoria is die lewe op die ‘platteland’ net soveel lekkerder. Kan nie wag om in die aande na werk in Centurion by die huis uit te kom nie.

John ·

Ongelukkig skets die geskiedenis ‘n donker prentjie van een groep wit mense, nogal glo erge Christene, wat ‘n ander groep wit mense met onderduimse planne uit die land wou werk… en dit was kort na 1652. Dat selfs Mosjesh vir die Franse sendelinge moes vra waarom los hulle nie die Boere uit nie hulle doen mos geen skade nie. Menige briewe pryk egter oorsee in biblioteke waarin die Boere erg beswadder word glo deur Mosjesh in hogere Engels geskryf, maar dan is dit met ‘n X geteken… Ha, ha. Hierdie probleem sou later uitkring tot Anglo-Boere-oorloe. Wapens en perde is aan uitskieters vanuit die nou Lesotho verskaf om die Boere se huise, wat glo op Mosjesh se grond staan, af te brand en hulle daar te gaan vestig. Die naastes het in SA groter skade aangerig as ons verstes en sodoende die kiem van haat gesaai. En kyk waar trek ons nou… selfs die ‘saaiers’ se nasate sit nou self in die rubberbootjie… na no place like Home?

PieterJohannes ·

Dankie Herman. Dit bly elkeen se keuse en besluit om te bly of te gly. Vir die menigte wat, soos ek nie ‘n keuse het nie, net die volgende om aan te dink:
Kameras, heinings en al die gewone veiligheids metodes is nie die enigste uitweg nie. Die beste metode om te oorleef lê in samewerking. Ons Afrikaanse mense het so indiwidualisties geword dat ons nie meer weet wat dit beteken om saam te staan en saam te werk nie. Elkeen dink net hoe EK moet probeer oorleef. Fisies, finansieel, emosioneel ens. Toe die mens nog primitief gelewe het sonder tegnologie, kon hy nie oorleef sonder sy medemens nie. Nou kom die ander redes, wat welvaart veroorsaak het, naamlik trots en hoogmoed, by. Wanneer gaan ons ons trots in ons sak steek en erken dat ons mekaar nodig het? As jy met ‘n vuurwapen teen die kop sit, en enige oomblik kan sterf, tel jou bankbalans of huis of motor niks meer nie. Ek kan nie verstaan waarom boere nie lankal in groepe saam woon nie. Dan kan hulle mekaar beskerm. As 10 boere se huise bymekaar is kan hulle selfs gewapende wagte aanstel. As ons nie besef dat ons ook ander mense wat nie dieselfde as ons is of dink nie, ook nodig het nie, en kan beïnvloed nie, het ons geen kans op oorlewing nie. Laastens kan jy slegs oorwin deur te groei in jou verhouding met jou Skepper. “Ek sal aanhou probeer, al kos dit my lewe.”

Kwalifiseer almal om te emigreer? ·

Hoeveel duisende wit Suid-Afrikaners emigreer elke dag/week/maand? Kwalifiseer alle wit Suid-Afrikaners om na ‘n eerste wêreldse land te emigreer? Wat is die feite.

Andreap ·

Ja dit sal interessant wees om n kort opsomming van n paar lande se wette te kry. Dit lyk v my na n baie ingewikkelde proses. Eks te oud, maar bearbei my kinders om te gaan.

Grys ·

Jy hoef nie na die rykste land toe te hardloop nie net een wat nie soveel haat het nie…dis maklik, nog eendag gaan ons vlug vir veiligheid nie beter geld nie…

marco polo ·

Die emigrasiesyfers vertel nie die ware storie nie. Daar is derduisende SAners, myself ingesluit, wat nie geemigreer het nie, maar in die buiteland bly op werkspermitte en waarskynlik nie teruggaan nie. Dit is baie moontlik en redelik maklik, veral vir diegene bo 50, om onbepaald in die buiteland te kan bly. Daar is vele lande wat jou met ope arms sal verwelkom en n verblyfpermit gee, sonder dat jy jou nasionaliteit hoef op te gee.

Anneli ·

Marco Polo, ek stem 100% met jou saam.
Ons het 12 jaar in Engeland gewoon. Daar is letterlik duisende Suid Afrikaners wat daar woon en werk. Tog het ek bykans niemand geken wat amptelik emigreer het nie. My twee seuns woon ook in Engeland, het dubbel burgerskap en het nie amptelik emigreer nie.
Emigrasie syfers is na my mening slegs ‘n fraksie van die hoeveelheid mense wat in ander lande woon en werk.

Chris Aucamp ·

Marco Polo, ek hou van jou voorstel, so kan jy asb verduidelik hoe mens in ‘n ander land kan gaan bly. Jy noem dat vele lande my sal verwelkom en verblyfpermit gee. Watter lande is dit, en wat is die proses om aansoek te doen? Dankie

marco polo ·

Chris, ek het al gekyk na Oosterse lande soos Thailand, Malaysia en die Fillipyne, en het dit self besoek ook. Ekself mik na Thailand vir aftrede. Daar is BAIE witmense wat daar afgetree het. Die lande wat ek genoem het, het almal spesiale programme vir buitelanders, maar kom ons kyk na Thailand. Jy moet ouer as 50 wees en 20,000 US dollar in Thai bankrekening hou, dan kry jy n aftreevisa, wat jaarliks hernu kan word. Jy kan die geld natuurlik gebruik, maar moet dit net aanvul wanneer jou visa hernu word. Met n aftreevisa mag jy ongelukkig nie werk nie, maar jy mag n besigheid begin. Daar is n paar lande in Suid Amerika ook, Colombia en Uruguay, maar ek was nog nie daar nie. As mens nie miljoene het om na Eerstewereld lande te gaan nie, is plekke soos hierdie jou uitweg. Lewenskoste is goedkoop en jy gaan in n vreemde kultuur wees, wat beteken jy kan steeds voluit Suid Afrikaner wees, maar moet ander respekteer. Ek is al lank in die Ooste doenig en het al baie plekke en lande besoek. Dis nie SA nie, maar jy kan lekker lewe as jy die kopskuif kan maak. Hoop ek het jou vraag beantwoord.

Paul ·

Dankie Herman, vergun my die volgende kort ervaring hoe die realiteit my stonk. Aanvanklik het ek gedink dis maar persepsies wat ons het oor hoe die land bestuur word, maar leer mens na 24 jaar nog om dieselfde werk te doen? En wat het geword van die basiese van menseregte, beginnende by veiligheid, so kan mens aangaan, water en wat nog?

As ek aanhou opnoem raak die spasie op, dan tik ek ‘n volgende kommentaar en binne ommesientjie is daardie spasie ook opgebruik.

O ja, en die ekonomie storm voort, so ons oorleef nie werklik meer nie, maar genadiglik sorg die natuur so effe vir ons benarde, of moet ek sê, aan flarde, bankbalans om die maag te help voed. Ons het by tye termiete by die huis, nou en dan vlieg hulle, sulke groot vettes, by die kombuis se venster in, partykeer kom hulle sommer onder die agterdeur na binne. Ek het toe plan gemaak, nou vang ek hulle met ‘n net, en siedaar, wat ‘n wonderlike proteïen aanvulling het ons nie.

B ·

‘Polities inkorrek’ om te stel mens voel soos ‘n vreemdeling in jou eie land? 😲

Wel wat van ‘n staatlose derdeklasburger dan. (Hier vanaf 1685 in der waarheid)

Paul ·

Ek heet jou vir ‘n tweede keer welkom, die eerste keer was toe jy voet aan wal gesit het, toe was ek al reeds daar langs die Liesbeeck ingeburger.

Weet nie meer ·

Ek werk baie in die buiteland, en Suid Afrikaners is al so gewoond aan al die veiligheidsmaatreëls dat dit vir ons allerdaags is. Hoe meer ek ander lande besoek, hoe meer kom ek agter dis nie normaal om elke aand 3 verskillende veiligheids hekke te sluit, alarms aan te sit, honde in te bring ens nie…ons benodig die doodstraf terug sodat misdaad kan afneem

Droom Voort ·

Sedert 1994 het al meer as 1.7 miljoen wittes die hool verlaat (en hulle het nie terug gekom nie) en in 2018 was dit die mééste nog per enige jaar, om nie eers van die sowat 15 duisend boere te praat wat van plan is om na Rusland te emigreer nie.

Jerry ·

Bou jou huis op rots, nie op dryfsand. Diegene wat moet bly, moet bly en diegene wat moet gly, moet gly omrede daar n rede en n doel met beide bly en gly is. Die stem om mense te oorreed om te bly is egter die stem wat meer en meer dringend en desperaat begin klink en dit is heeltemal te verstane gegewe die boosheid wat dreig om witmense en hul kinders en troeteldiere te verswelg! Die stem om mense te oorreed om te bly is nie n stem van rede nie, dit is n stem van selfsugtigheid, maar selfs dit, gegewe die desperate situasie, is te verstane. Die hoop beskaam nie dat ten spyte van dit alles sal die ANC die rand wat hulle laat val het deur plundering, wel optel en sal dit beter gaan tydens CR se termyn na die verkiesing. Dit is gedurende hierdie tyd dat mense wat dit nog nie gedoen het nie en wat kan, hulle eiendomme en besittings moet verkoop en moet emigreer omrede die ANC NDR proses om die rand weer te laat val deur plundering, homself enige tyd weer na CR se termyn, sal herhaal!

Geregtigheid ·

As Iemand met sy hele hart Op die Almagtige God vertrou. Sal die God so n persoon oorlaat om vernietig te word? Weet dit, as ons ons harte vir Jesus gegee het, sal Hy toesien dat ons veilig is. Vandag is ek al ou man en my lewe lank het hierdie beginsel my gered. Ons geloof in God moet weer op die plek kom waar God in beheer van jou lewe is. Te vergeefs kan die mens planne maak om veilig te wees, as God nie deel is daarvan nie, is alles te vergeefs. Mense as ek die kommentare so lees, se dit een ding SA het weer SY GOD nodig. Tyd om nederig voor die Almagtige te buig, opreg ons skuld en sonde bely en laat sonde laat staan, dan sal God ingryp en ons deur mekaar land en volk genees. God het ons hier geplaas met n doel. Bid dat daardie doel in jou lewe tot vervulling kom.

PieterJohannes ·

Ek stem 100% saam. Met die klem op NEDERIG. Ek dink nie die meeste van ons verstaan wat dit beteken nie. Ons het nog te veel van ons eie planne.

MTSteyn ·

Ek lees gereeld rubrieke en kommentaar op hierdie en ander webwerwe waar daar konstant melding gemaak word van die sg. ‘goedgesindheid en medemenslikheid’ wat tussen verskillende bevolkingsgroepe in SA blykbaar sou bestaan. Hierdie uitsprake word dan gewoonlik gestaaf met ‘n paar voorbeelde wat skrywers dan voorhou, en dan daarop voortborduur asof dit die norm is.

Die norm is egter die vlg: meeste Suid-Afrikaners stem verkiesing na verkiesing vir politieke partye wat spesifieke beleid het wat Blankes, as ‘n niksseggend-klein minderheidsgroep, teiken vir absolute benadeling. Hierdie partye het met wette vorendag gekom wat Blankes regverdige toegang tot tersiere opleiding, werksgeleenthede, beleggingsgeleenthede, die beoefening van sport, ens. ontse. Partye wat Blank-geskepte instansies soos skole en universiteite transformeer tot plekke waar Blankes se taal en kultuur nie meer welkom is nie.; ‘n land waar Blankes as ‘n non-entiteit slegs verdra word.

Die feit is dat welwillenheid oor kleurgrense absoluut beperk is tot enkele uitskieters, al wil meeste dit nie glo nie. Die BLF en die EFF is nie randfigure nie, maar word deur honderde duisende lojale landsburgers ondersteun; hulle boodskap vind aanklank by meer as ‘n miljoen mense regoor Suid-Afrika. En luister asb mooi; hulle boodskap klink nie veel anders as die regerende party s’n met sy miljoene ondersteuners. Dis ‘n boodskap met groot aanhang, lank voor die Kliptown manifes van 1955.

Politici in Suid-Afrika se beleid word bepaal deur dit wat belangrik is vir sy potensiele kiesers. Dink goed na oor die welwillendheid van jou mede burgers.

JG ·

@ MTSteyn…n baie goeie en wel-deurdagte kommentaar…dit is die absolute waarheid.

Hendrik ·

Ek voel dat daar is oplossings in S.A en dat mense uit gerieflikheidshalwe dit net ignoreer/miskyk. Alles het sy opoffering en daar is 870 hektaar om te bewoon net oos van Pretoria te Kleinfontein. Dit moes nou al vol gewees het en ander plase in die omgewing moes uitgekoop gewees het vir nog woongebiede. Nog steeds sal die mense nog steeds kla en mor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.