Nuuskommentaar: Die seep-opera van Ace Magashule

Ace Magashule. (Foto: Twitter)

Die manier waarop Ace Magashule se skorsing van die ANC tans verloop, herinner aan ʼn slegte seep-opera. Byna elke stap wat hy neem, word meer absurd en eintlik regtig net vreemd. Tog kan ʼn mens nie help om verdwaas daarna te staar nie – selfs al wil jy wegkyk, kan jy nie. Ook voel die gebeure op die kommunisme-kassie al verder verwyder van die werklikheid.

Magashule het vandeesweek versuim om pres. Cyril Ramaphosa en die res van die ANC om verskoning te vra. Hoewel hy eintlik 48 uur hiervoor gehad het, het die ANC “gehoop” dat hy dit nog voor die einde van die week sal doen. Die versoek het gekom nadat Magashule sy skorsing verontagsaam en die ANC geminag het.

Eerder as om om verskoning te vra het Magashule Donderdag hofstukke op die ANC beteken. Hy wil klousule 27.50 in die ANC-grondwet ingevolge waarvan hy geskors is, ongeldig, onwettig en ongrondwetlik laat verklaar. So ook wil hy sy pos en posisie in die party hierdeur herstel.

Dié klousule bepaal dat ANC-lede uit die party geskors moet word wanneer hulle in ʼn hof van enige aard op ʼn aanklag van enige soort tereg staan. In die lig van sy voortgaande asbes-saak is dit waarom Magashule geskors is. Hy meen egter dat hierdie klousule indruis teen sy grondwetlike reg om onskuldig geag te word totdat hy skuldig bevind word.

Uit ʼn suiwer regsoogpunt behoort hierdie saak onsuksesvol te wees. Die spesifieke grondwetlike reg waarna Magashule verwys, het betrekking op gearresteerde persone wat op aanklag van iets in ʼn hof staan. Dit is nie ʼn grondwetlike bepaling wat sommer net gebruik kan word om by die interne werkinge van ʼn organisasie – die ANC as party – in te meng nie. Die saak is eintlik gedoem om te misluk – tog gaan hy daarmee voort.

Saam met die aankondiging van die hofsaak het Magashule via Carl Niehaus ʼn video laat sirkuleer waarin hy bokspassies oefen. Net ná Niehaus se twiet het Julius Malema dit ook gedeel met die byskrif “48 hours for who?” Dit natuurlik verwysend na Magashule se flagrante verontagsaming van die 48 uur-spertyd.

Dit herinner aan die onlangse foto van hom wat skaak speel wat getwiet is – nadat hy Ramaphosa “geskors” het.

Ná dié foto is skaakkenners gekonsulteer oor die diepere betekenis van die posisie op die skaakbord. Een kommentator het selfs genoem hoe dié foto ʼn bevestiging van die ANC se fundamentele beleid van swart teenoor wit is – die Radikale Ekonomiese Transformasie (RET)- faksie van Magashule bedryf immers blatante en harde rassepolitiek. ʼn Ander het die spesifieke posisie op die skaakbord ontleed en verduidelik wat dit alles vanuit ʼn diepere strategiese oogpunt kan beteken.

In alle eerlikheid moet daar waarskynlik nie sóveel in die foto gelees word nie. Dit was waarskynlik net ʼn boodskap waarin hy strategiese oorlog teen Ramaphosa verklaar – ʼn oorlog wat met ʼn wenner en verloorder moet eindig.

So ook is die video van hom wat boks een waarin hy verklaar dat die handskoene nou uitgetrek is. Hierdie geveg tussen hom en Ramaphosa gaan nou net vererger – hy gaan baklei vir ʼn oorwinning.

Tog is dit moeilik om na die video te kyk en nie te dink dat dit ʼn bietjie hartseer lyk nie. Dit bring ʼn mens dan terug na die seep-opera waarin ons vasgevang is. Dit is moeilik om daarna te kyk, maar net so moeilik om weg te kyk. Magashule is ʼn geharde politikus wie se loopbaan op ʼn duistere en kriminele geskiedenis gebou is. Tog lyk hy net nie so gevaarlik soos wat hy graag wil nie – hy lyk soos ʼn ou man wat met ʼn geveg besig is waarby hy nie betrokke moet wees nie. Dan wonder ʼn mens waarmee presies hy besig is.

Magashule en oudpres. Jacob Zuma het eintlik maar dieselfde doelwit voor oë – om letterlik tot die dood reg en geregtigheid te vermy. Albei het ʼn geskiedenis van korrupsie waarvoor hulle regtig nie verantwoording wil doen nie. Tog verskil hulle strategie en taktiek redelik baie.

Zuma het sover die roete met die minste weerstand gekies. Hy het nog altyd die onskuldige slagoffer gespeel – die ou eerbare struggle-held wat onregverdiglik deur die ANC geteiken word. Nes hy destyds deur die apartheidsregime geteiken is. Hy wil net in vrede saam met sy familie in aftrede leef. Hy vermy geregtigheid letterlik tot die dood deur ewige vertraging en sloering – Stalingrad tot die einde.

Magashule, daarenteen, is eintlik heel aggressief en aanvallend teenoor Ramaphosa en die res van die party. Dit lyk asof hy eerder ʼn korter, maar meer intense oorlog voer. Een waarin hy aggressief baklei, maar sommer die hele party ook daarby insleep – ʼn geveg wat uiteindelik die ANC in gevaar stel. Magashule tree op asof hy nie bereid is om onder te gaan sonder dat die party ook in die proses saam afgesleep word nie. Hy is nie eens bereid om alleen die risiko hiervoor te dra nie.

Zuma het nog altyd net daarin belanggestel om die weelde wat hy vir homself gesteel het, te gebruik om ʼn gemaklike lewe te leef. Sy optrede het nog altyd gedui op ʼn langtermynstrategie waarin hy net na homself omsien. Hy wil nie ontwrigtend wees of oorlog verklaar nie – hy het tydens sy heerskappy reeds genoeg waarde (weelde) uit sy magsposisie geput. Hy is ook deeglik bewus van die stand van die staat wat hom moet vervolg – siende dat hy ʼn kerndeel van die verwoesting van staatskapasiteit was, weet hy ook wat die kanse is dat hy vinnig en deeglik deur dié staat vervolg gaan word.

Dit lyk egter asof Magashule die pad met aansienlik meer weerstand gekies het. Dit laat ʼn mens wonder oor die verskille in strategie, ten spyte van die ooreenkomste in einddoel. Magashule se aanslag word vergestalt deur die video waarin hy boks. Zuma se aanslag word vergestalt in die video waarin hy saam met sy familie dans. Gaan geregtigheid uiteindelik beter met bokspassies of met danspassies vermy kan word?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Genis ·

Kom ek julle dit se, ou papbroek CR met nie ding AM is n walk-over soos zumpie nie… I will make a wild statement: they all had their hands in the cookie jar… some just longer

Kokerboom ·

Hierdie is ‘n sprekende voorbeeld hoe tandeloos die regstelsel is en die publiek faal . Weereens 2 stelle reels nl een vir politici en een vir jan publiek. Absoluut absurd

annie ·

Die hof moet Ace uit die hof hou, soos vir Zuma. Waar kry hy die bynaam/naam want daar is aangedui dat hy ‘n ander naam en van het. Magspeletjies is in die ANC aan die orde van die dag. Sekerlik sal die pandemie benut word en inperkings volg wat CR en sy groep kan gebruik om beheer te behou. Die ANC weier om die landsregering te deel met ander partye en beskou die parlement as benede hul wette en mag. Dit haal hulle in.

Dolf ·

Ek is persoonlik verheug oor wat gebeur het. Dink net daaraan, as dit nie gebeur het nie sou Magashule n kans gestaan het om na ons huidige President die volgende President van ons land te word, en dit sou n volgende Zuma beteken het.

daniel ·

Wat hy eintlik begeer is die totale kwytskending van kriminele dade deur ANC elite m.a.w anargie

Henk ·

Gaan huis toe en bly daar, jy is incompetent en skelm en al twee is ewe sleg vir SA se mense

Anoniem ·

Die nuusmedia gee teveel aandag aan ACE Magashule Wie is hY? Is hy die Staatspresident? Dit raak nou dringend tyd dat Ramaphosa vir Ace Fire!!! en sê hy moet die geld terugbetaal!!!!

SjN ·

Hierdie nar het hom ingewurm in n posissie waar hy almal aan die korthare beet het, te veel weet van Alle ongeruimthede en gaan moeilik wees om van hom ontslae te raak, hulle beskerm mekaar.

JohanR ·

Betaal hy vir sy eie regs koste, of kom die weer uit jy en ek se sak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.