Nuuskommentaar: Eerlikheid naas R1,1 miljard nodig vir stryd teen geweld teen vroue en kinders

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Gaan Suid-Afrika se skandalige ignorering van internasionale VN-verdrae waarvan Suid-Afrika medeondertekenaar is en wat die land geratifiseer het, nie bydra daartoe dat die regering dit onmoontlik gaan vind om sake in die binneland reg te laat ruk nie? Kan pres. Cyril Ramaphosa se noodaksieplan vir die herstel van reg en orde, en die R1,1 miljard wat daarvoor bewillig is, die regering se droogmakery elders oorleef?

Wanneer ’n regering ’n ongewilde besluit moet neem, kan dit aangepak word deur dit met ’n semi-ander saak te verweef; een waarvoor die publiek wél bereid is om die hand in die sak te steek. Ook die vorige bedeling moes periodiek hiervan gebruik maak, soos om ’n nasionale maksimum spoed te bepaal, maar dit aan kwesbaarheid van fossielbrandstofvoorsiening te koppel. Menige besluit was weens die gevare van die totale aanslag gemotiveer.

Hoe om ’n bykomende R1,1 miljard vir misdaadbekamping gemotiveer te kry is betreklik maklik – beklemtoon bloot die syfers. Veediefstal in veral dele van die land het krisisafmetings aangeneem, geweldsmisdaad, en spesifiek moorde, eis twee lewens per uur. Plaasmoorde bly kritiek hoog, en is waarskynlik steeds die de facto hoogste moordsyfer per 100 000 van die groep wat dit verteenwoordig ter wêreld.

Maar dit is ’n riskante manier van doen – daardie syfers kan beleggersvertroue in die land skaad, dit kan ook meer mense soos vreemdelinge in hul eie land laat voel en na die buiteland laat uitwyk, veral gegewe dat invloedryke mense soos Comrade Eisj blankes as ongewenste “vreemdelinge” in die land beskryf, en boonop as parasiete in die samelewing. (Hierdie aspek word ook vanoggend op Netwerk24 uiteengesit in ’n artikel deur die bekende rubriekskrywer dr. Leopold Scholtz. Hy reageer op ’n artikel van prof. Anton van Niekerk van Stellenbosch wat ook gister in hierdie rubriek onder die loep geneem is, en spruit uit die feit dat Van Niekerk in sy kritiek op rassisme, slegs blankes se name genoem het. Lees Scholtz se artikel hier.)

Trouens, die regering hét nie ’n keuse nie, hy moet nou ernstig teen misdaad optree, en verkieslik ook politieke munt daaruit slaan. Om te wag vir resultate en daarop te roem, sal eenvoudig nie deug nie, want die regering se reputasie as voltrekker van planne vir beterskap is terminaal beroerd. Sommer by voorbaat sal baie landsburgers verwag dat ’n hele klomp van daardie R1,1 miljard gou soek gaan raak. En die uitvoerders is die polisie, en juis vanjaar het die regering erken polisielede wat versuim om hul pligte na te kom, is ’n probleem.

In daardie opsig is die probleem van geweld (en ander misdade) teen vroue en kinders, met respek, soos manna uit die hemel. Die strategie om dit as invalshoek te gebruik het sommer gou wiele gekry toe die regering self aan die koor van protes begin deelneem het. Boonop volg dit op Vrouemaand en die indruk is geskep dat dié kwessie vanjaar meer “aangeblaas” is as voorheen. (Niks daarmee verkeerd nie – die kwessie het inderdaad meer bewuswording geregverdig.) Die regering het voorts die fokus skerper gedraai deur georkestreerde propaganda deur die regering dat die land nie ’n xenofobiese probleem het nie, maar ’n geweldsprobleem, en dat die xenofobie-persepsie eintlik deur die Suid-Afrikaanse media geskep is. Enigeen wat die nuus redelik volg, sal egter weet hoe gereeld die afbrand en plundering van buitelanders se winkels deel is van die geweld wat met selfs die geringste oproer in selfs die kleinste gehuggie gepaard gaan – en maak nie saak wat die oorsaak van die oproer was nie. Negatiewe reaksie uit Afrika vereis dat die fokus van xenofobie weggedraai moet word.

’n Raps meer as die helfte van die land se volwassenes is vroue. Deur die fokus op vroue en kinders te laat val, word heelwat meer as die helfte van die teikenmark gunstig aangespreek.

Maar namate Ramaphosa se toespraak vorder, word ook ander kategorieë so onopgemerk as moontlik bygevoeg – die gay-gemeenskap, die mense met gestremdhede, die kwesbares soos bejaardes … min mense is nog nie by die plan ingebind nie. Maar ook hulle word ingesluit, soos die verwysing na vragmotorbestuurders.

Dossiere wat verdwyn, en die polisie wat heropgelei moet word, tel onder die vele fokusareas wat aandag moet geniet.

Skielik voel die aanwending van R1,1 miljard nie meer na ’n rojale bedrag nie. In teendeel, eweredig gesmeer oor die totale veld wat aandag moet kry, begin dit na ’n suinige meevaller lyk. Buitendien dra die bedrae van miljarde rande wat gebruik word om die skade weens staatskaping, korrupsie en staatsvermorsing te skets, asook die omvang van bedrae wat semi-staatsinstellings skuld, by dat miljard eenvoudig ’n gatsak-kleingeldjie verteenwoordig.

Dit alles geskied teen die agtergrond van optredes en uitlatings van onbekwame en onverantwoordelike regeringslui, soos Panyaza “Milner” Lesufi (lees hier) en ampsdraers van die ANC soos Ace Magashule (lees hier). Voorts kan die regering se optrede om die Menseregtekommissie se gelykheidsverslag, asook Solidariteit, hof toe te neem om die MRK se verslag tersyde te laat stel, slegs as siek beskryf word.

Nie alleen probeer die MRK en Solidariteit die regering dwing om bepalings van ’n internasionale verdrag van die VN te laat nakom nie, maar die regering het die verdrag reeds tydens pres. Nelson Mandela se presidentskap onderteken, en daarna ongeveer 20 jaar geneem om te ratifiseer, en nou te weier om die bepalings daarvan na te kom (lees hier, hier en hier).  As die regering ’n verdrag waaroor hy 20 jaar gedink het voor ratifisering eers blatant ignoreer en dan waninterpreteer en uiteindelik hof toe gaan om die effek van die verdrag mee weg te doen, dan is daar geen rede hoekom die regering hom tot enige van talle verdrae sal verbind wat onteiening sonder vergoeding verbied nie. En van hierdie verdrae het verpligte strafmaatreëls vir ondertekenaars teen lede wat van die bepalings verbreek.

Kortom, die regering besoedel self sy beeld as ’n land waarop staatgemaak kan word, en word sy eie grootste saboteur.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Magda ·

Nice – Get all the stolen money back and you will have enough.

Piet Badenhorst ·

Nog geld wat in die bodemlose put van Inkompotensie gegooi word.
Dit is skrikwekkend om die verskil tussen die ANC/EFF en Beskaafde Norme waar te neem.
“We are the worlds Laughing Stock”.

Jan Nel ·

Hierdie is ‘n uitstekende artikel. Baie dankie, Herman.

HEVW ·

Die anc kan dit nie meer verberg nie. Die verdeeldheid sny al dieper. Hierdie voogenome hofsaak gaan nog verder daartoe lei.

T ·

So waar dis is hartseer waar is al die geld en die goeie dienslewering en alles

DT ·

Puik artikel Herman.
Vraag is wat is plan van aksie? Ons praat maklik en doen min.
Waarom buitelandse staatshoofde betrek om probleem binnelands te identifiseer? Wat weet hul van RSA probleme. Koste?
My gevoel is CR spreek weereens die gevolge en nie oorsake van probleem aan.
Grootste oorsaak is sosio-ekonomies van aard: swak/geen onderrig, werkloosheid, frustrasies,korrupsie, planlose regering en veel meer.

emily ·

Waarvoor soek julle geld, In wie se sak wil julle dit nou weer druk.
Vat julle korrupte SAPS lede en al die regering se korruptes vas, En maak n voorbeeld van misdadigers en dit behoort klaar bietjie te help.
Julle is te bang vir hulle.
Nou wil julle wakker skrik.

T ·

Ons moet net gee en gee, en intussen kry die mense swaar op die “grond” dis baie hartseer

John ·

Hierdie suffragette-geskenkie sal ons duur te staan kom. Die ANC gaan ‘n SUFFRA voeg by antie-SASSA en… en… wat vir ewig reddingsbloeie gaan vra… wat erger as erg gaan wees… want wie kan nou nee sè vir ‘n tranetrekker van die ANC.

emily ·

Waarvoor soek julle geld, In wie se sak wil julle dit nou weer druk.
Vat julle korrupte SAPS lede en al die regering se korruptes vas, En maak n voorbeeld van misdadigers en dit behoort klaar bietjie te help. Kyk ook sommer na al Julle sepies op TV vernaamlik ETV, Liewe hemel die geweld teenoor die vroue is uiters swak smaak. Scandal, Rhythm city en vele meer
Julle is te bang vir hulle.
Nou wil julle wakker skrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.