Nuuskommentaar: Gaan grondonteiening sonder vergoeding slaag?

Argieffoto.

Jare gelede het die hoof van die weermag se mediese korps besoek gebring aan ’n tydelike SAW-basis op die grens. Hy wou by die troepe weet hoe hulle hul water drinkbaar kry.

Die korporaal verduidelik: “Generaal! Eers gaan haal ons water by die rivier. Dan gooi ons dit deur ’n sif, en dan deur ’n doek. Dan kook ons dit, en gooi die watersuiweringspilletjies by. En net om doodseker te maak, drink ons bier, generaal!” Hulle eie koppe het hulle gevolg, ongeag.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het sy regspan opdrag gegee om die moontlike aanvaarding van ’n verslag van die parlementêre grondwethersieningskomitee se aanvaardingsprosedures voor die howe te toets. Daar word algemeen aanvaar dat die meerderheid van die komitee gaan aanbeveel dat artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word.

Parlementslede van partye wat gekant is teen grondonteiening sonder vergoeding, is onder meer ontevrede omdat hulle meen die komitee gaan nou ’n besluit deurstoomroller sonder dat 99,9 % van die sowat 720 000 skriftelike voorleggings ooit onder oë geneem is. Sowat 80% van dié voorleggings was teen grondonteiening sonder vergoeding gekant.

Op die oog af lyk dit of die kiesers nou ’n skitterende voorbeeld beleef van waar die diktatuur / tirannie van die meerderheid die basiese beginsels van demokrasie, en veral grondwetlike demokrasie, verdring.

Jacob Zuma, die voormalige president, het ook nie die onderskeid verstaan nie, en is herhaaldelik in die media aangehaal waar hy bitterlik teen die howe uitvaar wat in die pad van die meerderheidswil gaan staan het. Hierdie “regeer deur regters” staan as kritargie of kritokrasie of dikastokrasie bekend. Dit is in pas met ’n hoeksteen van die demokrasie, naamlik dat ’n regering nie in belang van die meerderheid regeer nie, maar in algemene belang. Dit word onder meer duidelik in die president se ampseed uitgespel.

In sy artikel oor grondonteiening sonder vergoeding vandag op Netwerk 24 bespreek Willie Spies die veronderstelde invloed van artikel 1 van die Grondwet in hierdie verband.

Onteiening sonder vergoeding (OSV) het egter ook ander implikasies, soos die verhouding tussen mense van ’n diverse gemeenskap. Daar is byvoorbeeld kommer oor die toename in rassisme in Europa, maar volgens aanduidings is dit ’n taamlike globale probleem. Dis onnodig dat die vuur nog blindelings gestook word.

Agri SA wys op sekere ekonomiese gevolge wat onafwendbaar word: “Studies wys dat die gevolge van OSV ’n kredietafgradering, ’n dieper resessie, reuse-kapitaalvlug en groter werkloosheid veral in landelike gebiede, insluit. Verder sal OSV die volhoubare ontwikkeling van nuwe boere onmoontlik maak, omdat die grond geen waarde sal hê waarteen finansiering bekom sal kan word nie. Dit sal dié boere afhanklik van die regering en belastingbetalers maak.

“Ekonomiese groei is wat Suid-Afrika nou meer as ooit nodig het. Die impak van OSV sal die armstes die hardste tref. Agri SA is van mening dat grootskaalse grondhervorming bespoedig kan word op ’n volhoubare manier sonder om die Grondwet te verander en die ekonomie te skaad.”

Verskeie ekonome waarsku in dieselfde trant.

Die IRV is nie al wat met regstappe dreig sou met die wysiging van die Grondwet voortgegaan word nie.

Dit is jammer dat die ANC (om nie van die EFF te praat nie) wil deurdruk hiermee. Die landbou het boonop ook nog te kampe met droogtes en ander klimaatsverwante probleme, terwyl plaasaanvalle voortduur. Teen gister was daar vanjaar reeds 372 plaasaanvalle en 48 plaasmoorde. Altesaam 13 aanvalle het die afgelope maand voorgekom. (Lees hier).

Die ANC en sy surrogaatpartye en ander simpatiseerders gaan heel duidelik, soos die troepies op die grens, hul eie koppe volg en probeer deurdruk.

  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.
Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Grysburger Pretoria ·

Suid Afrikaners het blykbaar vergeet die land word regeer deur ‘n party wat die meeste van hul skoling in die diktatuur van kommunisme ontvang het. Hulle spreek mekaar aan as “comrade” en gebruik hul “kaders” om op elke moontlike vlak van die sosio-ekonomiese bestel die botoon te voer. Ons het gekapituleer, onsself oorgegee aan hierdie mag. Dit ten spyte van al die opofferings van twee vryheidsoorloë teen Britse imperialisme en ‘n grensoorlog van meer as 20 jaar. Nou moet ons maar aanvaar wat Winston Churchill se siening oor so ‘n situasie was: ” nations that go down fighting rise up again, those that surrender tamely are finished”.

Johannes ·

Stem 100% saam! Is hierdie heelaas die laaste spykers in die Afrikaner se doodskis…?

Frans C ·

Die verstommenste van alles is,dat die groot hervormers doodstil is en nie hul teenstem
laat hoor nie.

GP ·

Gaan JM bekend staan as die een wat al die blankes uit SA gedryf het?

legens ·

Burgers wat grond besit en in ordentlike huise woon , is minder geneig om brand te steek , te plunder , te roof en te moor . Hulle sal ook meer inskiklik wees om tot die fiscus by te dra . Gee hulle grond en hulle word waardige bydraende burgers .

James ·

En so pas – wyl ek hier lees – kom die aankondiging…

Die tyd vir verset, lydelik, en andersins, is nou hier. Die ooreenkoms van 1994 is nou gerepudieer – derhalwe voel ek moreel vry om weerstand te begin bied: Lydelik, en andersins.. In my gedagtebeeld kom op: ‘n Bezuidenhout op sy ossewa in Potchefstroom, ‘n paar maande voor Majuba. Asook die ware Afrikanermans wat inry, en die Engelse se Balju reghelp.

Ek wonder wat gaan gebeur – sodra die Balju met die Weermag opdaag by die eerste plaas wat ingevolge die Grondwet gevat word?

Ek weet nou wat om te doen….

Johann ·

Orals waar ek lees van die onteining, lees ek glad nie van die kommoditeite wat op die aandele mark verhandel word nie. Daar word orals gepraat van die geld wat die banke gaan verloor maar ek glo die impak op die kommoditeite gaan baie groot wees.

Ellisras ·

Die vraag of die ANC weet wat die ekonomiese gevolge is.
En die dantwoord is: Die ANC gee nie ‘n bloue duit om nie.

GP ·

Tyd om honger te word.
Wonder of daar al ‘n plan van aksie is vir die eerste plaas, as mense daar opdaag om net te vat? Die aanval het nou skerp toe geneem, gaan verdediging ook toeneem?

Rasper ·

James, ek neem aan jy praat dan van oorlog. Oorlog is ‘n “middel/apparaat” wat partykeer in die geskiedenis gebruik is, wanneer ander “middelle/apparate”, soos bv. onderhandelinge misluk het. Jy gebruik dan die geweld, sodat teen die einde, jy iets kry wat jy graag soek. Wat wil die Afrikaner hê? As ons nou begin skiet, en na ‘n maand of twee, d.m.v die VN, kom al die partye by ‘n tafel uit, wat is die lysie waarvoor die Afrikaner baklei het? Is dit selfbeskikking? Is dit beheer oor die hele Suid-Afrika? Gaan ons net baklei vir die ossewa, en dan oormore weer aangaan asof alles reg is? Wat is die Afrikaner se langtermyn strategie? Of gaan ons net baklei totdat of ons of hulle uitgewis is? Dan my vriend, moet ons maar almal eerder emmigreer….

Charles ·

Die Here hoor my, ons het nie meer ‘n ander keuse nie, ons het nie daarvoor (burgeroorlog) gevra nie, ons het NIKS gedoen om dit te verdien nie!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.