Nuuskommentaar: Gaan Suid-Afrika vooruit of die kreeftegang?

Collins Chabane, ‘n minister in die presidensie, het Dinsdag verslag gedoen oor die land se ontwikkelingsindikatore. Die minister het, verstaanbaar in die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing, hard probeer om ‘n algemene prentjie van vooruitgang op gebiede soos onderwys (matriek-slaagsyfer styg van 60% in 1994 tot 73% in 2012), gesondheid en veiligheid aan te bied.

Kritici van die ANC-geleide regering sal geen moeite ondervind om bykans elke argument vol gate te skiet nie. Dit haper…

Universiteite sit met die hande in die hare oor die gehalte van baie matrikulante, en moet al hoe meer leun op oorbruggingskursusse om studente min of meer universiteitsmateriaal te maak. ‘n Duisternis vaardigheidskolleges word benodig om mense vaardighede te leer … Die kanselier van die Vrystaatse Universiteit, dr. Khotso Mokhele, moedig studente by ‘n gradeplegtigheid aan om hul spraakvryheid te gebruik om hulle uit te spreek “teen die algemene verval om ons.”

Die DA meen daar moet ‘n onderskeid getref word tussen wat die afgelope twintig jaar gebeur het, en wat gebeur het sedert pres. Jacob Zuma aan bewind gekom het. Suid-Afrika het die afgelope twee jaar altesaam 14 plekke op die internasionale korrupsie-persepsieindeks teruggesak.

Maar dit is nie al nie. Op bykans elke saakmakende indeks gaan Suid-Afrika die kreeftegang. Op die internasionale persvryheidsindeks word Suid-Afrika nou al deur verskeie ander Afrikalande uitgestof, waaronder veral Namibië. Suid-Afrika boer ook agteruit op die geweldsindeks (ten spyte van aansprake deur Chabane dat die veiligheidsituasie verbeter en dat mense ook veiliger voel), op die indeks vir mislukte state (die piesangrepubliek-indeks), en die innovasie-indeks (hoewel Suid-Afrika op enkele van die talle subindekse goed, en beter vaar).

Die regering sit tussen die duiwel en die diep blou see. Vertroue wek vertroue, en ter wille van ontwikkeling is dit nodig om so ‘n rooskleurige prentjie as moontlik te skep. Om donkievye suksesvol as kaviaar te kan opdis, moet die chef oor besondere geloofwaardigheid beskik, anders word alles gewantrou, en elke saak ontleed, en met bewyse van ‘n brousel verloor die chef net nog meer geloofwaardigheid. Uiteindelik word werklike kaviaar vir parra-eiers aangesien en vir die asblik gevoer.

En hierin het die regering nou ‘n groot probleem. Verhandelings kan al geskryf word oor die impak van “wyshede” soos wat die president in Davos kwytgeraak het. Sy honde-uitlatings, en ‘n uitspraak oor ‘n nasionale reinigingsdag waaraan ook toordokters sou deelneem, en hy voorgestel het emeritus aartsbiskop Desmond Tutu sou moes lei en ‘n hele verskeidenheid ander vreemde godsdiensuitsprake het die president internasionaal sy geloofwaardigheid laat verloor. Nou het Suid-Afrika, saam met die SAOG, Zimbabwe se verkiesing wat duidelik op ongelyke speelveld gespeel is, gekondoneer en sommer die weste gevra om sanksies teen die buurland op te hef – na die einste Weste verbied is om amptelike waarnemers by die verkiesing te hê.

Nie alles is heeltemal tuisgemaak nie. Suid-Afrika is deel van Afrika en dié feit word tydig en ontydig onder die wêreld se neuse gevryf. Hoewel Afrika se gemiddelde groeikoers betreklik hoog is – aansienlik hoër as dié van Suid-Afrika weens groot olievondste en ander sektorale gebeure, is ander Afrikalande volledig van buitelandse ontwikkelingshulp afhanklik. Met die jongste internasionale humanitêre dag wat Maandag gevier is, het dit ook geblyk dat vier uit die vyf lande wat die meeste humanitêre hulp nodig het, in Afrika is. Eintlik is dit vyf uit ses omdat Soedan en Suid-Soedan vir hierdie doeleindes as eenheid gemeet is.

Uiteindelik, soos die DA uitgewys het, het regstreekse investering in Suid-Afrika van R100,291 miljard in 2008 voor Zuma aan bewind gekom het, afgeneem tot R1,673 miljard in 2012. Die hoeveelheid mense wat al moed opgegee het om werk te soek het sedert Zuma aan bewind gekom het met meer as ‘n miljoen toegeneem.

Chabane erken ook daar is probleme. Onder meer erken hy dat die armoedevlak in die land – diegene wat met R500 of minder per maand oor die weg moet kom – tot 52% van die land se bevolking toegeneem het.

Tog dui peilings daarop dat die meeste swart kiesers die meeste vertroue in die ANC bo ander partye het om sake te verbeter. Agang en die Mokhele’s wat ander insigte kan bring is nog te yl gesaai.

Die rondte wat die Afrikanerbond in die parlement geloop het oor grondhervorming, het net soos die skrobbering wat dr. Pieter Mulder met sy geskiedenisles oor grondbesetting op die lyf geloop het, opnuut onderstreep hoe duidelik daar twee teenoorgestelde persepsies van die waarheid in die land is. En hierdie verskillende persepsies van die waarheid, meer as die “normale” verkiesingsfaktore beïnvloed nog die verkiesings te veel sodat dit eintlik rassesensusse word. En die algemene verkiesing waar ‘n kentering gebring kan word, is baie naby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gawie Botha ·

,,,,,,,,,,,,,,,raak gerwoond daaraan,dat die ekonomie van suid Afrika nie so vooruitstrewend is,as die meerderheids bevolking se aanwas!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.