Nuuskommentaar: Het Ramaphosa die Ace gebreek?    

Die ANC het Maandag ‘n skorsingsbrief aan Ace Magashule, sekretaris-generaal van die party, gestuur. (Foto: Twitter)

Ace Magashule is uiteindelik uit die ANC geskors. Die geskorste sekretaris-generaal mag hangende sy korrupsiesaak aan geen partystrukture of -aktiwiteite deelneem nie.

Die somtotaal van Magashule se reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se skorsing van hom, via die nasionale uitvoerende komitee (NUK), was: “Nee, jý is geskors.” In ʼn absurde verwikkeling het Magashule sy eie skorsing sommer opgehef en vir Ramaphosa geskors.

Sodoende het dit wat eintlik ʼn belangrike morele oomblik vir die ANC moes wees natuurlik in ʼn absolute spektakel ontaard.

Dit is ook presies wat Magashule wil hê. Gisteraand, nadat briewe van skorsing oor en weer gestuur is, het Magashule ʼn foto getwiet van hom wat skaak speel. Ramaphosa het sy skuif gemaak deur Magashule geskors te kry. Magashule het sý skuif gemaak deur Ramaphosa te “skors”. Nou is dit Ramaphosa se beurt. Hierdie is ʼn geveg wat in skaakmat moet eindig.

Magashule en Ramaphosa is gewikkel in ʼn stryd tot die politieke dood. Die stryd is van so ʼn aard dat daar ʼn besliste wenner en verloorder gaan moet wees. Tot dusver het Ramaphosa én Magashule opgetree asof hulle gaan wen. Albei kan egter nie reg hieroor wees nie. Dit is onmoontlik vir albei faksies om te wen – tensy dit neerkom op ʼn partyskeuring. Dan verloor albei faksies uiteindelik ook.

Indien dié skorsing van Magashule teen die wil op grondvlak gaan, is ʼn moontlike teenreaksie op pad. Sodoende kan die komende nasionale hoofraadsvergadering in ʼn referendum met betrekking tot Ramaphosa ontaard. Politieke ontleder Ralph Mathekga merk regtens op watter fout oudpres. Thabo Mbeki destyds gemaak het deur toe te laat dat oudpres. Jacob Zuma van grondvlakondersteuning ʼn herlewing vir homself verseker het. Met hierdie herlewing het Zuma Mbeki ondermyn, homself as adjunkpresident van die ANC gered en uiteindelik ook president van die land geword.

Magashule is nie juis die tipe politikus wat net in vrede en stilligheid sy politieke loopbaan sal prysgee nie. Hy het die afgelope maand tot sy beskikking gehad om sy politieke toekoms te bedink. Hy het kans gekry om met die regte mense te vergader en die regte advies te kry. Omdat hy gewéét het wat op pad is, kon hy presies daarvoor beplan.

ʼn Zuma-styl herlewing is net dalk moontlik. Magashule sal ʼn plan hê om homself te red en Ramaphosa uit te knikker – of hy nou die regsroete, die politieke roete of ʼn kombinasie van die twee gaan neem.

Politieke kenners is dit eens dat die skorsing steeds ʼn belangrike simboliese oorwinning vir die Ramaphosa-faksie bly. Dit sal egter naïef wees om te glo dat dit die begin van ʼn morele hernuwing simboliseer. Magashule se skorsing was van die begin af vir Ramaphosa ʼn noodsaaklike simboliese en politieke oorwinning. Dit is die daad waarmee hy sy faksie se invloed en mag sou bevestig en bewys dat hy met mag en mening die ANC van korrupsie wil reinig.

Die groot vraag is dan nou of Ramaphosa die Ace kan breek wanneer dit kom by korrupsie in die ANC? Gaan die Ramaphosa-faksie werklik Magashule en sy trawante kan verwyder? Is hierdie die begin van ʼn daadwerklike skoonmaakpoging, of beskik Magashule nog oor genoeg invloed om Ramaphosa ook te pootjie? Buitendien, selfs al kry Ramaphosa vir Magashule geskors, beteken dit nie noodwendig veel in werklikheid nie.

Magashule kan ook net soos voormalige burgemeester van Mangaung Olly Mlamleli vir homself ʼn werklikheid skep. Mlamleli het ʼn volle vier mosies van wantroue teen haar gehad, maar bloot geweier om van haar pos afstand te doen en om haar voertuie, kredietkaart en toegekende veiligheidsbeampte aan die metro af te staan. Sy is uitgeskop, maar was net nie bereid om te gaan nie. So ook hóéf Magashule bloot nie gehoor te gee aan sy skorsing nie. Met min om in hierdie stadium te verloor sal dit juis slim wees om die ANC en Ramaphosa in ʼn hoek te druk. ʼn Verontagsaming van sy skorsingsvoorwaardes is die perfekte manier om dit te doen.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Ramaphosa moet redelik seker van sy saak wees om in ʼn verkiesingsjaar hierdie skuif te maak. Magashule se skorsing moet minder grondvlakskade aanrig as wat sy aanbly in die party sou. Sy skorsing moet swaarder weeg as die moontlike grondvlaksteun wat die ANC as gevolg hiervan in die Vrystaat en Noordwes kan verloor. In die lig hiervan en die onhoudbare interne spanning moet ʼn mens jouself afvra of hierdie dalk die laaste munisipale verkiesing is waaraan die ANC soos wat ons dit ken, gaan deelneem?

Die grootste grap van hierdie hele saak is dat Zuma letterlik die tyd om dans terwyl die ANC homself van binne verwoes. In ʼn TikTok-video het Zuma saam met sy gesin aan ʼn dansuitdaging deelgeneem. Zuma leef ʼn sorgelose lewe, verwyder van die hittige faksiegevegte wat die ANC tans verteer.

In die lig hiervan wonder ʼn mens ook of Magashule nie dalk met die “skorsing” van Ramaphosa ʼn fout gemaak het nie. Was dit regtig slim om hierdie bombastiese magsbetoning te doen gegewe die situasie? Zuma het die kuns vervolmaak om nie toe te laat dat sy uitdagings met die reg en geregtigheid sy lewe omverwerp nie. Hy leef soos ʼn koning voort in die weelde wat hy in sy tyd as president versamel het. Eerder as om ingesleep te word by die drama, stel hy die voorwaardes waarvolgens hy leef. Eerder as om vyandig te staan teenoor Ramaphosa leef Zuma in nederige verontwaardiging oor die “onregverdige agenda” wat die staat en Zondo-kommissie teen hom voer.

Magashule het nou gekies om ʼn lewe van drama vir homself te skep. Indien hy ʼn bladsy uit die Zuma Stalingrad-handboek geneem het, kon hy dit dalk vermy het. Soos wat Zuma aangaan is die plan ook om met vertragingstaktieke vir ewig reg, geregtigheid en onnodige drama te vermy. Albei hierdie rolspelers dwing die ANC en Suid-Afrika in krisisse in met hulle optrede. Die vraag gaan dan wees of Magashule se aanslag of Zuma se aanslag op die duur beter gaan uitwerk om hul eie posisies te preserveer?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Genis ·

Ou ace se hy gaan nerens heen nie… en dat eindelik CR geskors is… Hier kom n ding….

Werner ·

Glo die moontlikheid vir staatsgreep en geweld is nie uitgesluit nie

JM ·

Mag die Here ons land bewaar! Dinge kan waaragtig nie so aangaan nie!

Sarel ·

Hu gaan sy eie Politieke party stig en dalk nog vir Zuma in neem

Adam Adriaan ·

‘n Paar ore is raak gebyt en die bloed begin stadig vloei. Sal wil sien hoe dit gaan lyk as die spul mekaar aan die nek begin beet kry en die hoof slagare word stukkend gebyt. Hier kan die bloed oortappings diens ‘n paar liters bloed bymekaar maak vir toekomstige gevegte se slagoffers wat in die hospitale gaan op eindig.

Groen Ghoen ·

Al verskil tussen die twee menere is dat een die padda geleidelik in die pot wil gaar kook, terwyl die ander een die padda dadelik in die kookwater wil gooi. Die resultaat gaan maar dieselfde wees: ‘n Gaar padda. President Paddakoker is ook maar ‘n voorstander van omtrent alles wat Sekretaris-generaal Paddakoker wil doen.

Vonkprop ·

Dit is so bitter jammer dat ons pragtige land deur sulke platvoerse aksies en magsbehefte mense beheer word. Dit gaan al lankal nie meer oor die land nie, maar oor mag en geld. Ons land en mense het so baie om te gee, maar dit word verwoes deur hierdie handjievol selfbehepte “leiers”

Pietertjie ·

Maar net nog ‘n bewys dat ons land deur ‘n spul misdadigers op ‘n mafia-agtige manier regeer word. Party is al uitgevang, ander nog nie. Maar bitter min van hulle het al die tronkdeure voel toeklap agter hulle.

Jannie van Niekerk ·

Skorsing met volle betaling is nie skorsing. Dis net n baie lang betaalde vakansie. Merk my woorde: Kort voor lank is ou Ace weer in een of ander belangrike pos in die ANC. Daar is vyf groepe wat mens nie eers met ‘n oop Bybel op die preekstoel vertrou nie: ANC, EFF, SAKP, COSATU en BLF. (En o ja , BLM ook)

Thom ·

Terwyl jy van preekstoel gepraat het ___ voeg nog ‘n groep daarby ; NG – predikante ; kyk vanaf die preekstoel watter van die gemeentelede se vrouens volgende op die lys gaan wees .

Kattebol ·

Ramaphoza is g’n seker van sy saak nie, Anton Rupert oefen druk uit op Ramaphoza dat Ace moet gaan. Rupert gaan sy finansiële steun aan anc onttrek indien Ace bly!

Lood ·

Dit is ‘n sirkus! Beide van hulle sou beter gedoen het as narre in ‘n sirkus!

Pablo ·

Dis die begin van die einde van die huidige ANC en die begin van die Kommunistiese een, the African National Communist Party (ANCP).

Blikkies ·

Dis ‘n Sirkus julle, soos ‘n laerskool skool fight agter die pawiljoen. Dis nou n Land se leiers ten aanskoue van die hele wye wereld. Ek skaam my dood, het hulle nie net bietjie self-respek nie. Die wereld dink seker ons almal in die land is so……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.