Nuuskommentaar: Landbou en die nasionale begroting (of bekleining?)

Argieffoto: Reint Dykema

Stel u voor. Die minister van finansies, Tito Mboweni, stap in die parlement na vore om sy begrotingsrede te lewer. Hy groet die gehoor, en haal ’n spaarvarkie en ’n hamertjie uit sy tas.

“Dit stel vanjaar se begroting voor,” verduidelik die minister, en met die hamertjie moker hy die spaarvarkie flenters. Die varkie was dolleeg – nie eens ’n sent lê tussen die porseleinstukkies nie. Nog ’n houertjie word opgediep en op die kateder uitgestort. Dit was propvol – van I owe you-papiertjies.

“Dit dan, dames en here, was die begrotingsrede,” en hy tel sy tassie op en gaan sit.

Op ’n gewigtige skuldnoot, net die EFF en oudpres. Jacob Zuma sal meen dit kan ’n maklike begroting wees.

Die een ekonoom na die ander sê sake word eintlik deur die ANC se beheptheid met ideologie bespaarvark. Bygesê, daar word na ideologieë verwys wat nog nooit iewers in die wêreld kon werk nie. Sosialisme is immers al as ’n baie lekker ideologie beskryf tot iemand anders se geld opraak. Daardie punt is al lankal verstreke, goed verhaas deur diefstal van enorme bedrae geld, korrupsie en staatskaping, regeer deur ’n hibriede-zumafiakrasie.

Die gevolg is dat bykans almal wat naastenby kan, nou die hande opsteek om te bie op wat iewers gevind kan word. Soos die landbou.

Al is die regstreekse landbou nou net vir ’n kleinerige persentasie van die land se BNP verantwoordelik, is die impak op ander sektore en veral landbouverwante bedrywe groot. Talle dorpe se bestaansreg hang van die landbou af.

Ten spyte van knellende wetgewing oor ’n wye spektrum, meganisasie, droogtes, misdaad en politieke kastyding bly landbou ’n belangrike werkgewer, wat ook aan baie huisvesting, water en vele meer, selfs kos, voorsien. En volgens regeringsplanne moet landbou in die toekoms nog meer werkgeleenthede skep.

Voordat na landbou se begrotingsaansprake in die besonder gekyk word, ’n algemene inleiding soos skitterend deur die Vryheidsfront Plus geskets: “Ná 25 jaar aan bewind is die parlementêre debat oor transformasie van Suid-Afrika se ekonomie om die bevolking te dien, ʼn erkenning van die ANC dat hy volkome misluk het as regering van die land en dat sy skadelike beleid slegs bygedra het tot die vernietiging van die ekonomie.

“Die ANC het inderdaad reggekry om die land se ekonomie ingrypend te transformeer. Dit moet gemeet word aan ANC-logika wat transformasie gereduseer het tot ʼn obsessie met rasseverteenwoordiging ten alle koste, veral van ondervinding en vaardighede. Die gevolg is dat die ANC die land die afgrond in getransformeer het. Die lys van ‘transformasie-suksesse’ in ANC-terme is duiselingwekkend,” aldus adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Agri SA skets ook ’n helder prentjie van probleme waarmee die minister opgesaal sit. “Minister Mboweni het baie druk op hom om seker te maak dat Suid-Afrika se boeke klop,” sê dr. Requier Wait, Agri SA se hoof van ekonomie en handel. “As hy ekonomiese groei wil ontsluit, is die landbousektor die sleutel.”

Nog ’n stem uit landbougeledere lui: “Hierdie is ’n geleentheid om na die beste praktyk terug te keer – om met die hulp van die regte instrumente onnodige uitgawes sonder vrees of guns te sny,” sê Nicol Jansen, Agri SA se voorsitter van die Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel. “Hoewel fiskale konsolidasie van kardinale belang is, moet die eerste opsie nie belastingverhogings wees nie.”

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer die 2018 mediumtermynbegrotingsraamwerk in die parlement (24 Oktober 2018). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Landbou het gewys dat dit ’n bewese sektor is wat, met die ondersteuning van die regering, die ekonomie kan bou en fiskale stabiliteit kan verbeter. Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) erken oorweldigend die landbousektor as ’n groeisektor en sy potensiaal om werksgeleenthede vir landelike gemeenskappe te skep. Die minister moet die huidige ekonomiese omstandighede en die moontlike negatiewe impak van dié verhogings op groeivooruitsigte in ag neem.

Wait stel vervolgens ’n wenslysie op, waaronder droogte-ondersteuning, hulp aan beginnerboere en ’n Agri-ondersteunersfonds. Die volledige lys en mediaverklaring kan hier gelees word.

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, sê sy grootste enkele probleem met die begroting is dat politieke doelwitte voorrang geniet en nie werklike ekonomiese doelwitte nie.  “As ons werklik ekonomiese groei wil sien, moet die begroting geskoei wees op private eiendomsreg, die vryemark en algemene gesonde ekonomiese beginsels.”

Alles moontlik moet gedoen word om die ekonomie in ʼn sterk groeifase te kry, want dan kan armoede en werkloosheid verbeter word.

Die benadering om die ondernemers, wat juis die ekonomiese groei kan bewerkstellig, al hoe swaarder te belas is gevaarlik in die sin dat hulle sonder veel moeite hulle penne kan gaan inslaan waar dit meer vriendelik is om geld te maak.

Hy sê wat die landbou betref is dat daar net gepraat is oor die besteding aan kleinboere en opkomende landbou. “Dit is nie noodwendig verkeerd nie, maar waar is die besteding aan kommersiële landbou wat die sleutel tot ons landbousukses hou? Baie word gepraat oor geld vir ontwikkelingsprojekte vir kleinboere, maar nooit word gemeet watter bydrae dit tot die ekonomie lewer nie. (Lees volledige verklaring hier.)

ProAgri kyk spesifiek na die moontlike impak van die begroting op die landbou: “Groot verwagtinge is in die staatsrede geskep dat daar hierdie jaar meer aandag aan groei in landbou gegee sal word. President Cyril Ramaphosa het ’n paar keer na die belangrikheid van landbou in die ekonomie verwys en veral die rol wat landbou-uitvoere speel.”

Wessel Lemmer, senior landbou-ekonoom van die ABSA-groep, sê die begroting moet fokus op die uitbreiding van uitvoere, die gemak om sake te doen, grondhervorming, ondersteuning van bedrywe wat deur die kragonderbrekings geraak word, ondersteuning van opkomende boere en die skep van werksgeleenthede in die landbou.

Op sosiale media vra boere vir baie meer basiese ondersteuning, soos belastingverligting in moeilike tye, verligting van minimumlone in droogte, doeltreffende droogtehulp, beskerming van plaaslike bedrywe teen goedkoop invoere, gemakliker brandstofprysverligting, minder vaste koste vir Eskom en ’n beter kans vir boere om krag terug te stuur in die netwerk en so te bespaar.

Die landbou het veel meer uitdagings, maar hier is in die besonder gekyk na faktore wat deur die begroting hanteer, of minstens deels deur die begroting hanteer kan word.

Baie van hierdie ander faktore kan saamgevat word onder ’n erns met behoorlike beveiliging en die skep van beter gesindhede teenoor boere. Dit sluit in dat die voortdurende verspreiding van leuens soos gronddiefstal gestaak moet word, en dat die landbou hulle van die vrot appels in eie geledere moet distansieer.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Judge Dredd ·

Papegaai Ramaphosa/Pandor se nuutste woorde “4th industrial revolution”(automatisering) en massa werkskepping in landbou strook ongelukkig nie met mekaar.

As die ANC probeer voortgaan met massa-werkskepping en klein boere ondersteuning dan gaan dit ons landbousektor toekomstig onkompeterend laat met internasionale lande – dus boere sal nie kan bekostig om mense in diens te stel – dus minder werk.

Natuurlik kan die ANC dan probeer om van hierdie produkte te blokkeer/belas, maar soos ons gesien het met die AGOA verdrag met Amerika, staan SA om baie meer te verloor in handel. Die Europese unie het waarskynlik soortgelyke stelsels en China sal natuurlik ook sy goedkoop produkte hier wil aflaai.

So kortliks:
1.) SA meganiseer en ons probeer kompeterend bly en eindig met ‘n landbousektor wat minder werk voorsien- maar beter betalende werk voorsien – en as ‘n bate vir die land beskou kan word.
2.) Probeer massawerkskepping laat werk – onkompeterend – ruineer lanbousektor – eindig nogsteeds met minder werksgeleenthede, maar nou word die wat oorbly nogsteeds min betaal.

Afrikaner ·

Maar die armstes van die armes is nog steeds beter daaraan toe as wat hulle was, vir hulle kom die son die volgende dag met ‘n lied in die hart op, of dan nou nie, en die rykes onder die ANC raak nou net nog ryker.

Afrikaner ·

Skuus en die boere en die wit mense (Afrikaans en die minderheidsgroepe) gaan soos tot op hede aan hul eie oorgelaat word.

Jerry ·

Alle strukture wat nog bestaan wat geag word as koloniale strukture, soos onder andere landbou, moet eers ge”liberate” word, voordat dit gehelp word. Daarom moet ons staatsbeheerde entiteite privatiseer en dit “liberate” uit die ANC se kloue!

Adam ·

Niemand suig aan die agterspeen nie want die koei is ongelukkig dood.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.