Nuuskommentaar: ʼn Praktiese oplossing tot Suid-Afrika se politieke probleme

Herman Mashaba, oudburgemeester van Johannesburg en nou ook leier van The People’s Dialogue. (Foto: Twitter)

Aan die politieke front was dit ʼn besige naweek. Elkeen van die politieke gebeure dié naweek het ʼn unieke antwoord op Suid-Afrika se huidige politieke probleem probeer bied.

Saterdag het Herman Mashaba, Johannesburg se voormalige burgemeester, sy nuwe politieke party van stapel gestuur – ActionSA. Mashaba het in Oktober verlede jaar die DA verlaat en daarmee saam uitgetree as uitvoerende burgemeester van die Johannesburgse metro. Volgens Mashaba het die DA nie meer werklik belanggestel om die land se probleme op te los nie. Volgens hom is dit primêr vergestalt in die DA se onwilligheid en onvermoë om Mashaba as burgemeester van ʼn koalisieregering van ʼn vaste mandaat te voorsien.

Tog het Mashaba in sy bedankingsbrief genoem dat koalisieregering die toekoms van Suid-Afrikaanse politiek is – Suid-Afrika se bevryding van die huidige regime is gesetel in ʼn koalisieregering deur verskeie partye.

Verder het die Oos-Kaapse DA ook Saterdag ʼn virtuele provinsiale kongres gehou. John Steenhuisen, DA-leier, het die kongres toegespreek met dié boodskap: Die DA se projek móét slaag, daar is geen plan B nie.

Volgens Steenhuisen moet die DA Suid-Afrika van die dreigende ekonomiese afgrond red. Die toekomstige sukses van die land hang sodoende van die DA as politieke ingryping af. Indien die DA misluk, misluk die ganse land.

Steenhuisen het ook kritiek uitgespreek teenoor die gros nuwe politieke partye wat met elke verkiesing ontstaan. Hy sien die DA as die enigste party wat ʼn kans staan om die ANC te oorwin en sodoende ook die enigste minderheidsparty waarvoor kiesers behoort te stem. Die gros nuwe politieke partye fragmenteer bloot die kieserskorps wat die DA hiervoor benodig.

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die DA sien die land se politieke oplossing dus as een wat gelei word deur die DA as sogenaamde amptelike opposisie. Anders as Mashaba wat enige koalisieregering as antwoord sien, sien die DA homself as amptelike en grootste opposisie en as kernbelangrik tot die oplossing.

Die probleem met die DA sowel as Mashaba se oplossings tot ons politieke probleme is dat stabiele en suksesvolle koalisieregering in Suid-Afrika die absolute uitsondering, eerder as die algemene reël is.

Suid-Afrika het nie ʼn kultuur of geskiedenis van suksesvolle koalisieregering nie. Die ANC het oor die afgelope 26 jaar oorwegend meerderheidsteun geniet. Daar waar sy magsgreep verswak, is die ANC ongeneë om daarvan afstand te doen. Sodoende weier die party bloot om van mag afstand te doen of maak hy die koalisieregering so onstabiel dat dit byna onmoontlike word om te regeer.

Die Tshwane-metro het dié onstabiliteit beleef met die Gautengse regering wat verlede jaar die Tshwane-metroraad ontbind en onder administrasie geplaas het. Die ANC en die EFF het voor dié ontbinding verskeie vergaderings geboikot ten einde besluitneming in die raad te verlam. Sodoende is daar drasties ingegryp deur die raad te ontbind en onder administrasie te plaas.

Die beste voorbeeld van die ANC se onwilligheid om van mag afstand te doen, bly dié van Olly Mlamleli, voormalige uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, wat ná vier mosies van wantroue bloot geweier het om haar amp neer te lê.

Buiten die ANC wat politieke onstabiliteit in hierdie opsig sal kweek, is die EFF ʼn ander opposisieparty wat as koalisievennoot gaan móét dien. Die EFF is gemaklik daarmee om politieke anargie aan te wend tot sy eie voordeel. Sodoende is dit in partye soos die ANC en EFF se voordeel om suksesvolle koalisieregering byna onmoontlik te maak.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: The Presidency/Twitter)

Laastens het die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die naweek vergader oor ANC-korrupsie. Pres. Cyril Ramaphosa is steeds volstoom daarop uit om die ANC se korrupsie-probleem te takel – of dalk eerder die ANC se persepsie-probleem. Hoewel Ramaphosa sê dat hy korrupsie in die party gaan uitroei, bestaan die gaping tussen sy dade en woorde steeds.

In verlede week se parlementêre vraag-en-antwoordsessie het John Steenhuisen Ramaphosa uitgevra oor Zandile Gumede se omstrede heraanstelling. Ramaphosa het hierdie vraag egter ontwyk deur te sê dat Gumede se aanstelling deur die prosesse van en strukture in die party ondersoek en hanteer moet word. Ramaphosa kan nie as diktator mense bloot in die tronk stop soos wat hy wil nie.

Ramaphosa stel skynbaar daarin belang om die ANC se openbare beeld te red, eerder as om onbeskaamd die ANC se korrupsieprobleem op te los. Indien hy in laasgenoemde belanggestel het, bestaan daar ernstige vrae rondom heraanstellings soos die van Gumede en VBS-beskuldigdes. Ramaphosa is bewus daarvan dat die persepsie-probleem ter wille van die party ondersteuningsbasis aandag moet kry. Tog weet hy goed dat korrupsie nie té ernstig aangespreek kan word nie – dit sal dalk tot ʼn skeur in die party lei wat die ANC nie kan bekostig nie.

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: AP)

Voor Ramaphosa se termyn as president was die antwoord op die land se probleme bloot om Jacob Zuma te vervang. Nou is dit om bloot die ANC se korrupsie(persepsie)-probleem op te los. Die ANC se oplossing tot ons land se probleme bly dus ook polities en beperk.

Tog word daar selde vrae gevra oor moontlike oplossings buite die politiek.

Ons het ʼn baie bepaalde en uiters beperkende politieke raamwerk in Suid-Afrika. ʼn Raamwerk wat hoegenaamd nie gepas is vir ons heterogeniteit óf ons bevolkings- en geografiese grootte nie. Tog bly mense oplossings binne die beperkende en ontoepaslike raamwerk vind.

Dit is eerder tyd dat ons oplossings buite die politiek begin soek. In die burgerlike samelewing en die private sektor bestaan daar soveel meer vryheid, geleenthede en sodoende ook soveel meer antwoorde op ons probleme. Hierdie sektore het nie dieselfde rigiditeit wat ons politieke stelsel het nie.

Hierdeur kan ons in die tussentyd die werklikhede vestig wat ons verlang, sonder die byna onoorkombare beperkinge wat ons huidige politieke bestel inhou. Die de facto- werklikhede moet eers op grondvlak stewig gevestig word voordat ʼn mens begin tob oor hoe presies dit in die politieke raamwerk inpas.

Dit is tyd dat ons weer onthou dat regerings bo-op mense gebou word. Mense word nie rondom regerings gevorm nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cornelius ·

Die enigste oplossing is n federale stelsel, wat natuurlik nooit sal gebeur nie want ons is pad na n kopie van die Chinese kommunistiese stelsel.

annie ·

Kul-jou-hier-kul-jou-daar of ‘by hook or by crook’ of speel die bal nie die man nie of ‘the ANC is the darling of the world’ of bieg-broer-bieg en sè mooi sorry en dan gaan ons voort met die ‘show’… en talle meer truuks is deel van die regering se bloudrukke vir oorlewing. Die laaste oorlewingsplan lè knus in die prez se onderste laai, nl Abrakadabra hetsy ‘Open Sesame’ maar daai towerstokkie se ‘battery’ is ‘kaput’. Tito weet dit maar al te goed.

koos10 ·

Herman Mashaba, jou begin is nie goed nie. Jy stel jou kollegas voor en stel ook Genl. de Lange, die vorige provinsiale kommissaris van Gauteng voor, maar is sy nie tans as beskuldigde in ‘n groot SAPS korupsie saak nie, of is sy onskuldig bevind?

Jakes ·

Ek lees net n deel van hierdie kommentaar want om eerlik te wees leef jy in n droomwereld my vriend.

Werner ·

Skiet my nou maar af maar ek dink nie meer politiek kan hierdie land se probleme oplos nie . As jy sien hoe modus operandi van plaasaanvalle verander na terroriste aanvalle is ons te ver heen

Andrew ·

Goed, sien Afriforum & Outa webtuistes oor oplossingswat reeds gesoek en ge-implimenteer word deur burgerlike organisasies.

Ek stem met Cornelius, Federale stelsel.

Sarel ·

Nog ‘n Politieke Party…. hy moet mooi kyk wie hy met hom saamvat. Die A NC is nie lief vir hierdie wegbrekers nie en stuur gewoonlik iemand saam.om dir van binne te vernietig

LANA is ELANè ·

Die arrogansie van die DA se leier – hy wat reken hulle is die enigste opposisie party wat ‘n verskil kan maak. Dit is dieselfde retoriek wat die DA al vir jare die publiek probeer wysmaak.
Dankie, maar nee dankie, nie eens as die perde horings kry nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.