Nuuskommentaar: Praktiese wysheid ontbreek in sokker-borgskap

Logo van die sokkerklub Tottenham Hotspur (Foto: IAN STEPHEN / Pro Sports Images Ltd / DPPI)

Die afgelope week slaan SA Toerisme links en regs vure dood. Dit na ʼn ontbloting van die beoogde R1 miljard ooreenkoms en borgskap van die Britse sokkerklub Tottenham Hotspur.

Woede! Mense kan bloot nie begryp dat ʼn volle miljard rand ʼn buitelandse sokkerspan gaan borg nie – dit terwyl ons beurtkrag het, ons paaie steeds uitmekaar val, ons waterinfrastruktuur besig is om ineen te stort en inflasie ons soos ʼn doodskadu agtervolg.

SA Toerisme se verweer is dat hulle net toegang het tot hul begroting om hul eie mandaat uit te voer. Hul begroting kan nie nou skielik aangewend word om Eskom te help red nie. Dit is inderdaad hulle geld om te bestee.

Selfs al aanvaar ʼn mens dit, is daar steeds ʼn paar probleme met die hele sage.

Dié borgskap, en die wyse waarop dit besig is om te ontvou, herinner bloot te veel aan Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, se wolkekrabbelende vlagpaalprojek. Beide projekte is deurweek van die absolute toondoofheid oor mense se daaglikse stryd om oorlewing op grondvlak.

Beide projekte het ook groot onenigheid in die regering self veroorsaak. Minister Mthethwa het met groot fanfare sy R22 miljoen vlagpaalprojek aangekondig met pres. Cyril Ramaphosa wat gou ʼn stokkie daarvoor gesteek het. Dit nadat die projek reeds goedkeuring van die kabinet gekry het!

Met die ontbloting van die sokker-borgskap het daar ook vinnig teenstand uit alle oorde opgeduik. Selfs lede van die SA Toerismeraad het bedank in teenstand teen die besluit. Pres. Ramaphosa het ook vinnig kommentaar gelewer dat dié projek dalk nie geregverdig is nie.

Die derde, en dalk die belangrikste punt van ooreenkoms tussen die twee projekte is die totale pronkerigheid en ontkoppeldheid van albei projekte.

Hierdie borgskap is een wat SA Toerisme wil aangaan om Suid-Afrikaanse toerisme in die buiteland te bemark. Dit is ook SA Toerisme se mandaat – hulle is vir alle praktiese doeleindes die bemarkingsarm van die departement van toerisme in die buiteland. Hulle moet projekte onderneem wat buitelandse toeriste na Suid-Afrika sal lok – ʼn baie sinvolle ding om te doen.

Nou kan ʼn mens dalk vrede maak met dié mandaat. Die vraag is egter of hierdie werklik die beste moontlike roete is om te volg?

Dit is ook nou hier waar ʼn tekort aan praktiese wysheid van die Toerismeraad ter sprake kom. Hierdie borgskap veronderstel minstens tot ʼn mate dat daar onvoldoende bewustheid van Suid-Afrika in die Verenigde Koninkryk is – as mense ons naam op sokkertruie sien, sal hulle meer geneig en geneë wees om hierheen vir vakansie te kom.

Interessant genoeg is hierdie tekort aan bewustheid, volgens die bedryf self, nie tans hul grootste uitdaging nie.

In die mees onlangse uitgawe van die Tourism Business Council of South Africa (TBCSA) se Tourism Business Index ondersoek hulle die grootste uitdagings vir die bedryf tans. In die verwagte uitdagings vir die tweede helfte van 2022 het die akkommodasiebedryf spesifiek die volgende aangedui:

  1. Arbeidskoste
  2. Insetkoste
  3. Rampe/krisisse (plundery, droogtes en oorstromings)
  4. Veiligheid- en sekuriteitskommer

Ander uitdagings wat ook ʼn groot bydrae tot die onderprestering van die bedryf in 2022 verduidelik, is lugvaartonstabiliteit, oorblywende Covid-19-maatreëls en ʼn tekort aan buitelandse vraag.

Van al die moontlike uitdagings kry een móóntlik aandag – ook nie eers die grootste uitdaging nie. Eerder as om dieper ondersoek in te stel na waarom die buitelandse vraag afneem, lyk dit asof SA Toerisme aanvaar dat dit bloot weens ʼn tekort aan bewustheid is.

Die TBCSA het self verlede jaar benadruk hoe Suid-Afrika se misdaadvlakke ʼn groot probleem vir die bedryf is. Die raad verduidelik hoe die toksiese kombinasie van geweld en ekonomiese sabotasie hoog bo-aan die lys van uitdagings is wat aandag moet kry – dit belemmer nie net toeristeveiligheid nie, maar ook infrastruktuur.

Die TBCSA het ook benadruk dat die vermindering van regulatoriese rompslomp noodsaaklik is – veral in die lugvaartbedryf.

Al hierdie aspekte dui daarop dat daar veel slimmer en sinvoller wyses is waarop die toerismebedryf positief bemark kan word – wyses wat selfs dalk in die interim ook tot Suid-Afrikaanse burgers se voordeel strek. Die versekering van veiligheid vir toeriste maak die bedryf outomaties meer aantreklik. Die opgradering van paaie rondom groot toeristeaantreklikhede gaan natuurlik ʼn verskil maak! ʼn Bedryfsubsidie vir sonpanele sal gedeeltelike beurtkragbestandheid kan help verseker.

Die Toerismewet stipuleer dat die SA Toerismeraad onder meer ʼn markstrategie kan ontwikkel en implementeer wat die bedryf bevorder. Hulle kan selfs ook die minister adviseer oor enige bemarkingskwessies rakende toerisme. Hulle is heeltemal in die posisie om ʼn daadwerklike positiewe en sinvolle impak op die bedryf te hê.

Dan wonder ʼn mens of ʼn vlag op ʼn sokkertrui-mou regtig die beste manier is om die bedryf te bevorder én bemark. Veral gegewe die uitdagings wat die bedryf self sê hulle teister. ʼn Positiewe beeld in die buiteland kan ook bes moontlik bevorder word deur éérs aandag te gee aan die grootste krake in die bedryf.

Iewers is daar weer eens ʼn groot kloof tussen die regering se mooi bedoelings om ʼn probleem op te los en die kwaliteit van die oplossing.

Praktiese wysheid handel juis oor die bemiddeling tussen teoreties-wetenskaplike kennis en praktiese kennis. Praktiese wysheid gaan daaroor om in alle gegewe omstandighede teoreties-wetenskaplike kennis so goed moontlik aan te wend vir die bepaalde situasie. Waar praktiese wysheid ontbreek, kom dwase oplossings na vore. Oplossings wat moontlik in suiwere teorie samehangend is, maar beslis nie gepas vir die omstandighede is nie.

Die regering het ʼn geneigdheid om by teoretiese oplossings (soms ook nog slegte teoretiese oplossings) vas te haak met ʼn weersin in die grondvlakomstandighede en werklikheid wat gehandhaaf word. Die spoggerigheid en status van oplossings weeg dikwels swaarder as die inhoudwaarde daarvan.

Dit is ongelukkig juis in hierdie (praktiese) dwaasheid wat die noodsaaklike probleemoplossings telkens in die slag bly!

Regeringsamptenare se krag bly aan, Suid-Afrikaanse burgers krepeer van ellende en die regering kies om R1 miljard vir ʼn Britse sokkerspan te gee. Ongeag hul mooi regverdigings drup hierdie projek van ʼn laat-hulle-koek-eet-sentiment. Dit is dwaas en uiteindelik net ten koste van ons.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gert ·

Die hele debakel bewys net die absolute onbevoegdheid van die hele gespuis.

marisa ·

Die wêreld is maar al te bewus van die tjol wat in die land aangaan en geen slogan op ‘n trui gaan dit verander nie!!

annie ·

G’n mense kan iemand anders omkoop of betaal om meer met jou om te gaan of selfs te trou nie. Dit was net gedeeltelik die plan. Dalk ‘n miljoen of so… Om mense miljoene te gee, hul reiskoste en verblyf te borg en dan te hoop hul koop ‘n stringetjie krale ook met die geld by ‘n stalletjie en betaal by die Wildtuinhek boosdoeners van die biljoen as losprys en dan hoop daai bedorwe toeriste sal graag weer op eie koste kom kuier vir nog van dieselfde chaos, is buite menslike begrip. Maar dit is nie die volle waarheid nie. Ons land word regeer deur staatskapers en ander… Soek daar vir die hoekom.

marius ·

Hoeveel ander onderduimshede vind nie elke minuut van die dag plaas nie . Verdoemende spul !

Marius ·

Wysheid ontbreek nie net in die sokker borg nie , maar in hulle alle daaglikse lewe.
Alles wat hulle doen is sonder wysheid.

Andries ·

Om besoekers na SA te lok is prysenswaardig. Maar met respek:
Om hulle aan ons misdaad bloot te stel.
Om beurtkrag te beleef – al het hotelle noodkrag moet hulle op n tydstip in beurtkrag verkeer vassit.
Om di massas te sien wat bedel in n poging om te oorleef.
Haglike paaie, vullis en riool is ook n sterk moontlikheid.

Dit verbaas my dat toeriste nog hierheel wil kom. Dit is seker maar as gevolg van die voordelige wisselkoers…

Suzette ·

Wysheid en anc kan nie in dieselfde sin gebruik word nie….

Nie Verbaas ·

Met verwysing na die berig se opskrif, vertel ons iets nuut asseblief. Daar is absoluut niks wat die hopelose spul reg kan doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.