Nuuskommentaar: Renate Barnard en internasionale vrouedag

Renate Barnard en dr. Dirk Hermann van Solidariteit

Renate Barnard en dr. Dirk Hermann van Solidariteit Foto: bloemfonteincourant.co.za

Saterdag is internasionaal vrouedag gevier. Suid-Afrika het meegedoen, hoewel verskeie sake in Suid-Afrika die land se verbintenis tot vroueregte erg bedenklik laat lyk. Wetgewing wat vroue in tradisionele gebiede van sulke basiese regte soos verskyningsbevoegdheid stroop vorder deur die parlement, en een groot saak hang soos ‘n klagstaat oor die regering – Renate Barnard.

Oor die polisie se verset om haar vir die pos waarvoor sy goed gekwalifiseer is, en waarvoor sy aanbeveel is, te bevorder is reeds regsgeskiedenis gemaak. Die staat het reeds tot in die appèlhof bloedneus gekry, maar probeer dit steeds verder voer.

Haar “sonde” is dat sy ‘n wit vel het, en die diskriminasie handel in die eerste plek nie oor haar geslag nie. Maar tog is die grondwet baie duidelik oor dié kwessie – regstellende aksie is bedoel vir diegene teen wie in die verlede onbillik gediskrimineer is, en voorsien dan ‘n lang lys van kategorieë, waarvan ras een is. Ander sluit in gestremdhede en geslag.

In die rasbenepe omgewing van die ANC, het die voorvereiste van “in die verlede onbillik teen gediskrimineer” so te sê in die vergetelheid verdwyn.

Die norm is oorheersend ras, en iemand “kwalifiseer” vir “affirmative action” (wat nie dieselfde as regstellende aksie is nie, ongeag of hy of sy in die verlede enigsins diskriminasie ervaar het.

Om bloot nie-wit te wees, is boonop geen “kwalifikasie” vir rassebegunstiging nie. Die saak tussen Solidariteit en die departement van korrektiewe dienste (DKD), het duidelik getoon dat dit oor “African African” handel. Terwyl daardie saak onderweg is na die grondwetlike hof, word nuwe verskerpte wetgewing in stryd met die hofbeslissing in Kaapstad – deur ‘n opvolgsaak bevestig – wat weer sterk op die sg Manyi-doktrine gebou is, deur die parlement gevoer. Dit behels dat minderhede wat in sekere provinsies “oorverteenwoordig” is maar daarmee verlief moet neem dat hulle in hul tuisprovinsies – hul gemeenskap se hartland – erg onder rassediskriminasie sal deurloop.

In die Suid-Afrikaanse reg is ‘n wet ‘n hoër gesag as die presedentereg wat deur hofuitsprake gestel word. Terwyl die howe dus fokus op die beginsel van natuurlike geregtigheid, probeer die staat sy rasbenepe stempel afdruk.

Die begrip “affirmative action” kom nié in die grondwet voor nie. Die bewoording waarop die begrip “regstellende aksie” gebou is, leen hom nie tot ‘n vertolking van rasgegunstiging soos “affirmative action” nie, en daarom verkies staaatsregkenners soos Cachalia, Davis en Maduna in hul boek, Fundamental Rights in the New Constitution dat eerder van “corrective action” gepraat word. Op die internasionale front is die beweging baie sterk dat dit ‘n individuele toets behels om te verseker dat die persoon wat vir bevoordeling geoormerk is, inderdaad deur omstandighede buite sy beheer benadeel is. In die VSA het pres. Barack Obama, self ‘n regsgeleerde, byvoorbeeld daarop gewys dat sy dogters nie behoort te kwalifiseer nie omdat hulle nog nie ‘n dag in hul lewens benadeling ervaar het nie. Daarenteen is daar ook blankes vir wie die agterstande oorerflik geword het.

Volgens die internasionale begrip is “regstellende optrede” daarop gemik om te kompenseer vir die agterstande wat minderhede byna outomaties in die lande waarin hulle woon ervaar. Die teenargument, dat Maleisië ook die meerderheid bevoordeel het, word ook gereeld gebruik, maar dan word daar versuim om te meld dat daar ook voorsien is dat die minderheid nie benadeel word nie, en dat daar ‘n sonsondergang voorsien is.

Die enigste manier om te voorkom dat die regering sy meerderheid gebruik om sy beleid van rassebevoordeling in beton te giet, is om dit ongrondwetlik te laat verklaar. Die Renate Barnard-saak is wat dit betref ‘n voorloper, en geweldig baie is op die spel – ‘n land waarin ‘n groot deel van die gemeenskap soos vreemdelinge in hul eie land sal moet voortbestaan, of ‘n land wat gerig word volgens die bedoelings van die onderhandelde grondwet.

Om dit te kan doen, moes iemand egter bereid wees om die hand op te steek, en die jare lange spanning van hofsaak op hofsaak te kan verduur. Dis nie enige mens wat in staat is om so iets vol te hou nie.

Solidariteit, wat haar rugsteun, verdien al die lof wat dit kan kry. Net te veel is op die spel om nou die handdoek in te werp. Ongelukkig is daar derde kolonners, soos DSTV wat weier om ‘n ondersteunende advertensie waarvoor reeds betaal is uit te saai.

Barnard het elkeen se gebede en ondersteuning nodig. Anders beteken vrouedag net mooi niks.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Manfred Delport ·

Kyk, ek stem 1000% saam dat rasstellende aksie onbillik is en inderdaad niks anders as anti-blanke rassisme is nie.

Ongelukkig maak 90% van alle blankes mee hieraan, en kan hulle net hulself blameer. 90% van blankes stem vir ‘n party vir wie RA en SEB amptelike beleid is (en nee, dis nie die ANC nie.) Nou goed, kla soveel as wat julle wil, maar as julle dan kalkoene wil wees wat vir Kersfees stem, kry vir julle.

As jy willens en wetens jou kruisie gaan trek neffens die naam van ‘n party wat RA as sy amptelike beleid het, kan ek jou klagtes oor RA eenvoudig nie ernstig opneem nie.

Gaan lees jou gekose party se handves baie mooi. Gaan vergewis jouself van watter partye RA steun en watter nie.

Karen Appel ·

Ongelukkig klas die blanke volk onder hierdie problem, ons jong mense is ook ingesluit.

Elke mens moet seker maak voordat hul n kruisie gaan trek, stop verander dit kan gedoen word!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.