Nuuskommentaar: Selfs ʼn dwaas kan terugskouend wys wees

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die lewering van sy staatsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

President Cyril Ramaphosa het gister sy repliek op die debat oor die staatsrede gelewer.

In sy repliek het hy wel die opposisiepartye gekasty vir die sogenaamde “geswets en moddergooiery” in hulle debatstoesprake. Hulle was volgens Ramaphosa veels te negatief en het eintlik die “maklike” roete gekies deur die regering net van voor tot agter te beledig.

Hieroor het hy gesê dat selfs ʼn dwaas terugskouend wys kan wees. Dit is maklik vir die opposisie om die regering te beledig en kritiseer – dit is altyd makliker om na die tyd kritiek te lewer as wat dit is om aanvanklik met oplossing vorendag te kom.

So ook het Ramaphosa ʼn beroep op Suid-Afrikaanse burgers gedoen om meer klem te lê op dit wat nog goed en reg aan die land is, eerder as om heeltyd te kla.

Een van die goed waaroor ons positief moet wees, is die diepte en diversiteit van kundigheid in wetenskap, navorsingsinstellings, universiteite, agentskappe en staatsentiteite wat deur die pandemie blootgelê is.

Ten spyte daarvan het Ramaphosa weereens bevestig dat die regering die alleenaankoper van die entstowwe gaan bly. Hulle wil dus ons diversiteit prys, maar dit nie toelaat om in die vryemark te floreer nie.

Een van die regering se grootste probleme is dat hulle vasklou aan die sentralisering van entstowwe.

Lande soos Israel, die VSA, Brittanje, Rusland en Meksiko het almal reeds in Desember van 2020 begin inent. Ander lande soos China, Brasilië, Indonesië, Bangladesj en Estland het reeds in Januarie vanjaar met inentings begin. Selfs Mianmar, wat tans in die middel van ʼn staatsgreep is, het voor ons begin inent! Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het reeds meer as die helfte van hulle bevolking ingeënt. Israel het reeds 78% van hulle bevolking ingeënt – dit beteken dat hulle reeds kudde-immuniteit behaal het. Dit voordat ons nog eers ons eerste mens ingeënt het.

Dit beteken dat ons nie net te min entstowwe te laat bekom het nie, maar ook dat ons ver agter die res van die wêreld is. In die lig hiervan is dit eintlik ondenkbaar dat die regering steeds aan sentralisering vasklou.

In die lig hiervan is Ramaphosa se kritiek teen die opposisie eintlik ironies: “Selfs ʼn dwaas kan terugskouend wys wees.”

Die regering kritiseer die opposisie omdat die opposisie niks anders doen as om die regering te kritiseer nie. Tog kan ʼn mens niks anders doen as om die regering te kritiseer nie – hulle doen niks prysenswaardig nie. Sodoende is dit eintlik belaglik om die opposisie so te kasty wanneer hulle kritiek teenoor die regering eenhonderd persent geldig is. Die regering self sal ten beste ook nét met ʼn terugblik wys kan wees.

Ramaphosa se opmerking herinner aan Venezuela se onlangse skuif na privatisering. Bloomberg berig hoe Venezuela nou, nadat hulle deur sosialisme verwoes is, in stilligheid na privatisering terugskuif. Dié regering dra tans dosyne maatskappye in staatbesit in die stilligheid aan private eienaars oor. Dit is almal maatskappye wat oor die afgelope twee dekades deur die regering “gekonfiskeer” is en sodoende gely het onder hulle swak sosialistiese beleid.

Die bestuurders van dié maatskappye is in beheer van salarisse, beleggings en produklewering – al wat hulle dan doen is om ʼn persentasie van hul inkomste aan die regering oor te dra.

Dit is natuurlik ver van ʼn ideale en vrye mark af. Dit is egter ook myle verwyderd van Venezuela se harde sosialisme van die afgelope paar dekades. Die regering het gesien dat hulle volledig en finaal ten gronde sal gaan indien hulle nie ʼn plan maak nie. Sodoende maak hulle sekere toegewings ingevolge beleid – net om te oorleef. Dit is waarskynlik nie ʼn radikale swaai na ʼn beter ideologiese uitkyk op die lewe nie. Hulle besef net dat hulle enige iets gaan moet doen – selfs dit waarvan hulle nie hou nie.

Dan sê ʼn mens weereens: “Selfs ʼn dwase (sosialis) kan terugskouend wys wees!”

Ons land is regtig nie op pad om oornag in dieselfde puin as Venezuela te verval nie. Tog word ons geteister deur dieselfde slegte idees wat hulle tot ʼn val gebring het. Ons regering wat entstowwe in ʼn proeflopie vir die Nasionale Gesondheidsversekering wil verander, spruit maar uit dieselfde idees as Venezuela wat alles genasionaliseer het. Dit kom alles neer op sentrale beheer – dit is so eenvoudig soos dit.

Ons regering gaan duidelik nie binnekort wys word nie. Die voordeel wat ons het – in vergelyking met ʼn land soos Venezuela – is dat ons ʼn ongelooflike veerkragtige en goed georganiseerde burgerlike korps het. Dit gaan waarskynlik ook een van die deurslaggewende faktore wees wat maak dat ons nie soos Venezuela eers wys gaan word wanneer dit te laat is nie.

Net as ʼn bewys. Al meer dorpe in die Vrystaat begin met amptelike regrukprojekte om hul vervalle dorpe te help red. Inwoners van Kroonstad maak byvoorbeeld al maande lank die dorp skoon. Die sakeondernemings neem weer verantwoordelikheid vir die instandhouding van verkeersirkels. Inwoners van Winburg beplan weer om in Maart hulle konsentrasiekampkerkhof te begin skoonmaak. In Bethlehem het inwoners onder die vaandel van #onssalself begin om vullis op te tel en die lang gras langs sypaadjies te sny. Inwoners van Ventersburg doen ook onlangs dieselfde tipe instandhouding self. Senekal het ook verlede jaar die dorp begin regruk en verfraai. Die Senekal-Matwabeng-gemeenskapsforum kom maandeliks bymekaar om slaggate te vul, padstrepe te verf en gras te sny.

Verder is Koster en Swartruggens in Noordwes ook onlangs beheer oor die munisipaliteit se water- en sanitasiewerke gegee – juis omdat die munisipaliteit te onbevoeg is om dit self suksesvol te bedryf.

Hierdie tipe projekte wat al meer met al meer spontaniteit, al meer volhoubaarheid en al meer energie begin en voortgesit word, is juis dit wat ʼn mens hoop moet gee. Die regering gaan waarskynlik aangaan met hulle slegte idees en onbevoegde regering. Dit beteken egter nie dat ons aan ʼn hooplose toekoms uitgelewer gaan word nie.

Die praktiese wysheid en veerkragtigheid van gemeenskappe gaan telkens hoop gee waar die regering se dwaasheid volhard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Genis ·

Hou op om jou stelende korrupte ANC beheer te beskerm, dan sal almal dalk ophou kla…. Net n dwaas sal korruptes beskerm en as dwaas hulle breskerm, Is hy ook n skelm

JohanR ·

Genis – en ons het in Mei maand 2018 gedink Cyril Ramaphosa is ‘n goeie ou! Maar dan het ons eens op ‘n tyd gedink Pravin Gordhan, Tito Mboweni is goeie ouens. ‘n ANC slang bly ‘n ANC slang!

Die Wolf ·

Het van die begin af teen CR gewaarsku. Het eerstehandse ondervinding van hom.

Strandloper ·

The blind is leading the blind….hoe kan ons anders verwag?

JohanR ·

Die ANC regering hou net die daarvan as hulle hof toe gevat is nie. Hulle gaan hulle baie stadige gang soos gewoonlik, todat iemand soos Soldariteit, AfriForm, DA ens hulle hof toe vat en dan is hulle skielik op en wakker. As dit geldelik moontlik is vat die ANC hof toe vir elke moontlike ding. Hou hulle dag en nag besig in die hofe. Self verloor jy 50 sake uit 100 sal hulle weet hulle was vir die 100ste keer in drie maande in die hof. Enigste probleem is dat hulle gebruik die belastinbetalers se geld om ‘n hof geding te beveg, terwyl enigeiemand anders hulle eie geld moet gebruik.

Snowball ·

Terugskouend, oor 5 of 10 jaar van nou af, gaan Ramaphosa besef, jy kan nie ‘n beesmiskoek ‘n laag versiersuiker gee en dink die mense gaan dit vir soetkoek opeet nie.

Nie Verbaas ·

Selfs n dwaas leer uit sy foute. ANC het in 26 jaar nog niks geleer nie behalwe om korruptes te beskerm. Die gevolg daarvan is dat dit net gaan toeneem. Opposisie partye slinger nie modder nie, hulle spreek feite aan. Daar is n groot verskil. Wie is dan nou eintlik die dwaas?

Blikkies ·

Hulle kritiseer , wat my insiens korrek is, want Cyril wil nie eers die voorgestelde oplossings oorweeg nie….

Natasha ·

CR dryf homself met sy dubbelsinnigheid in ‘n hoek en sy mooi paai praatjies werk nie meer nie. Om self alle instandhouding ens. as ‘n gemeenskap te doen is nie die probleem nie. Die probleem is dan doen die munisipaliteite nog minder hulle werk en soek tog steeds hulle geld. Indien die EFF ontevrede is oor iets, verwoes hulle als wat die dorp se mense opgebou het. Dis ‘n bose kringloop. Ons moet meer doen as net ons dorpe weer opbou. Ons moet saam staan en die boelies begin terug boelie.

Die Wolf ·

Stem saam om regruk aksies te begin. Dit moet egter gepaard gaan met fondse wat oorbetaal word en dit dan aanwend vir daardie doel. Help nie om die regruk aksie te doen en dan nog geld aan die verkwisters te gee nie. Hulle gebruik dit net om hulle karre te finansier.

Werner ·

Net n dwaas sal nog dink jy weet waarvan jy praat ou Cyril

JM ·

Dit is nooit die ANC se skuld nie, dit is die opposisie! “They always pass the buck.” Altyd so selfregverdigend; klomp narre en hierdie mense wil ‘n land regeer! Gaan ons ooit van hulle verlos wees?

jzjz05 ·

n mens moet jou so gedrae en lewe dat iemand dit nie nodig ag om jou met modder tegooi nie en te beledig en te kritiseer nie of is dit net dwaase wat dit nie kan verstaan nie?

Joe Olivier ·

Om te dink ‘n klomp dwase het in ’92 JA gestem sodat ons onder die goed se bewind kon kom.

pompies ·

Joe jy beledig baie mense met jou opmerking, dit was dwase wat nie kon insien die land was op sy kniee nie, niemand wou iets met die muishond land tedoen gehad het nie. Jy kan nie daardie mense verantwoordelik hou vir wat nou gebeur nie. Dieselfde probleem gaan in Amerika ook gebeur wie gaan daar geblameer word. So dink mooi voor jy net iets se om iets te kan se.

Thom ·

Siestog ! Terwyl hy dan nou nie slaap nie loop alles verkeerd onder sy wakende oë !

Pieter ·

Die deler is so goed soos die steler!!!

Wat hy nou eintlik seker se is dat verandering tyd gaan neem en dat die mense nie geduldig is met hom nie….
Die sisteem is so korrup dat dit jare of selfs dekades sal vat om skoon te maak as hulle dit van binne doen.

Wat hy nie verstaan nie is dat die organization wat hy voor werk, cANCer die grootste probleem is en as hulle net die regte ding doen en uit tree dan sal dinge seker klaar beter gaan. Weet net nie of die ripple effect so mooi sal afgaan nie.

Een ding wat ek wel weet is dat ek politiek nie kan verdra nie… in my oe is hulle almal agteraf want die game se reels in ons land is mos so…
Ons het ‘n hard reset nodig. ‘n Fresh install.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.