Nuuskommentaar: Sentrale beheer sal altyd sneuwel

(Foto: SA Polisie/Facebook)

Die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) het die afgelope Woensdag weer vergader om moontlike strenger inperkings te bespreek en pres. Cyril Ramaphosa sal die land vanaand toespreek. Dit kom na die onlangse styging in Covid-19-getalle in verskeie brandpunte in veral die Oos- en Wes-Kaap.

Dit klink in hierdie stadium asof die bevelsraad ten gunste van ʼn nuwe verbod op alkoholverkope en beperkte handelsure vir kroeë en restaurante sal wees – die keer slegs in die land se brandpunte. Dit klink dus asof daar gekyk word na strenger maatreëls op spesifieke plekke, eerder as reg oor die hele land.

Indien die regering wel hierdie besluit neem, gaan dit ongelooflike groot vrae oor die afgelope jaar se besluite en inperkings laat. Indien hulle nóú inperkingsmaatreëls op ʼn gedesentraliseerde vlak instel, sal hulle ʼn streep dwarsdeur die afgelope jaar se inperkings trek. Minstens deur enige iets na die aanvanklike drie weke lange inperking.

Die hele jaar lank het die regering vasgeklou aan ʼn gesentraliseerde aanslag tot die virus. Regdeur die eerste piek van getalle in Julie was dit die regering se keuse om die hele land oor dieselfde kam te skeer. Dit ten spyte van die feit dat die Wes-Kaap en Gauteng vir die meerderheid gevalle verantwoordelik was. Ten spyte van die feit dat ʼn meer genuanseerde en gedesentraliseerde aanslag duidelik beter sou gewees het, het die regering besluit om deurgaans ʼn lomp sentrale aanslag te neem.

Dit is egter nie asof die idee van ʼn slimmer inperking nie van die staanspoor af beskikbaar was nie. Begin April reeds het die Solidariteit Beweging ʼn voorstel vir ʼn slimmer inperking by die regering ingedien. Hierdie aanslag sou een wees waarin Covid minstens op provinsiale vlak en verkieslik op munisipale vlak hanteer word. Sodoende word die virus met die nodige erns op die nodige plekke opgeneem, sonder om die hele land se ekonomie te kniehalter.

Ten spyte hiervan het die regering gekies om trou aan hul wortels te bly. Hoewel Suid-Afrika tegnies gesproke federale elemente het, bestuur die ANC ons eenvoudig as sentrale staat. Nes die sentrale beheer van ʼn ekonomie sleg werk, werk die sentrale beheer van menslike beweging ook sleg. Die sentrale regering het uiters beperkte inligting oor mense se behoeftes, omstandighede en vermoëns op grondvlak. Sodoende wil hulle aan mense dikteer hoe om te leef en beweeg, sonder enige kennis van die mense self.

Dit is nie net ʼn lomp strategie nie, maar is ook een wat uiteindelik deur mense se eie besluitneming oorheers word. Mense wou graag hul samewerking vir die regering gee – maar nie verder as wat hulle dit kon bekostig nie. Mense het sodoende uiteindelik self die balans tussen gesondheid, ekonomiese oorlewing en basiese vryheid gevind. Mense wat dit self gedoen het, het op die ou einde ook beter gewerk as wat die regering se plan het. Ongeag die regering se reëls het mense naderhand bloot volgens hulle eie gewete en gesonde verstand geleef.

Indien die regering nou ʼn gedesentraliseerde aanslag volg, is dit egter nie omdat hulle tot beter politieke insigte gekom het nie. Dit sal eerder weens die werklikhede op grondvlak wees. (Dit is soortgelyk aan die regering wat ten spyte van hul groot ideologiese besware vroeër vanjaar ʼn geskiedkundige en noodgedwonge IMF-lening aanvaar het.)

Die regering het – nadat hulle eiehandig die ekonomie verlam het – uiteindelik besef dat die ekonomie nie nog ʼn landswye inperking gaan oorleef nie. Verder is hulle ook deeglik bewus daarvan dat mense nie sommer weer in massas gehoor sal gee aan ʼn landswye inperking nie.

Sodoende het die politiek en werklikhede op grondvlak die regering uiteindelik ingehaal. Hulle sal net dalk teen hul ideologiese instinkte toegewings moet maak. Dit is belangrik om op te merk dat dit nie is omdat hulle die land lei nie, maar eerder omdat hulle die land volg.

Indien hulle tot ʼn gedesentraliseerde aanslag oorgaan, sal dit bloot weens noodsaak wees. Dit sal nie wees weens hul eie briljante en visionêre leierskap nie, maar eerder omdat hulle die onvermydelike werklikhede op grondvlak volg. Hierdie werklikhede is weer geskep deur mense se eie besluite wat gelei is deur hulle eie vermoëns en behoeftes op grondvlak.

Selfs al neem die regering nou steeds ʼn gesentraliseerde aanslag, gaan mense dit waarskynlik bloot nie gehoorsaam nie – veral nie as hulle van die regering se besluite verskil nie. Mense het oor die afgelope jaar veels te gemaklik en slim met burgerlike ongehoorsaamheid geword om nou weer net blindelings die regering te volg.

Sodoende is daar tog ʼn “bottom up”‑ eerder as ʼn “top down”‑effek. Die regering het net nie meer die gesag oor mense om vir hulle van bo af te sê wat om te doen nie. Mense het vanjaar geleer dat die regering onleefbaar onbevoeg en magsbehep is. Daarom sal mense eerder self besluit en sodoende hulself so goed as moontlik beskerm – gesondheidsgewys, ekonomies asook hul verhoudings met gemeenskap en familie.

Dit is regtig bemoedigend. Mense weet op die ou einde self die beste wat hulle nodig het en waartoe hulle in staat is. Sodoende sal hulle self die beste moontlike besluite vir hulself, hul gesinne en gemeenskappe neem. Mense sal altyd doen wat hulle moet om te oorleef – indien dit beteken om die regering te verontagsaam, sal hulle dit ook doen. So ook kan die regering net aan ideologie vasklou solank as wat die werklikheid dit toelaat.

Uiteindelik gaan die regering leer dat die mense die regering beheer – die regering beheer nie die mense nie. Veral nie ʼn regering wat so lomp, onbevoeg en uit voeling met die werklikheid is soos hierdie een nie. Sodoende sal die regering mettertyd noodgedwonge by die werklikhede moet aanpas. Nie omdat hulle wil nie, maar eerder omdat hulle nie werklik ʼn keuse het nie. Uiteindelik sal ons land ook stadig maar seker op voetsoolvlak wegbeweeg van die sentralistiese staat wat die regering wil bedryf, en beweeg na die meer gefragmenteerde land wat ons eintlik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Phillip ·

Het ek mos ge se haal drank van rakke af dan sal daar sommer midder snotters dronk bestuuders wees

Henro ·

Ja Phillip. Ek aanvaar aangesien jy so maklik praat, dat jou gesin, kinders se skoolgelde en huis wat afbetaal moet word afhanklik is van drankverkope uit jou enigste bottelstoor wat jy besit? Anders sal geen regdenkende en geleerde persoon sulke aanmerkings maak nie.

Michael ·

Met jou redenasie sal die volgende dan ook uiters goed werk: sluit sommer alle vroue en kinders in kampe toe dan sal daar ook minder geweld teen hulle wees

katerinadiekat ·

Soveel soos ek dronk bestuurders haat en alhoewel ek self nie drink nie, en my man bitter min drink – moet ek se dis verregaande wat jy aanbeveel, Philip. We are not living in North Korea. Lets keep it so, mmmkay?

Sarel ·

Los inperking en laat elke self verantwoordelikheid vir sy/haar gesondheid aanvaar.

domheks ·

cr – praat met ‘our people’ hulle wil nie hoor nie! Jy sal moet probeer om tot hulle deur te dring dws as dit ooit moontlik is!

JM ·

Diegene wat nie gehoor wil gee nie, moet dan maar die gevolge dra!

Hendrik ·

Ek dink niemand gaan terugreis na die Oos Kaap waar daar drank inperkings gaan wees. Al die werkers gaan maar in die Wes Kaap bly vir Desember…

Peter ·

Die groot probleem le in die townships en taverns… spreek dit aan en moenie die onskuldiges ook penaliseer nie.

annie ·

Ons liewe unies toi alweer na hul Uniegebou en so beheer hulle, die massas, die staat, die land. Die ANC is bloot die front. Geen ontnugtering gaan plaasvind nie of besef word dat dinge nie so of so kan werk nie. Demokrasie is in 1994 afgeskaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.