Nuuskommentaar: Sewe korrupte swaeltjies maak nog geen somer

Olly Mlamleli. Foto: Mangaung-metro/Facebook

Met die seisoensverandering lyk dit ook asof die ANC ʼn nuwe blaadjie omgeslaan het. Verlede week is talle verdagtes, onder wie staatsamptenare, polisielede en sakelui, in verband met korrupsie in hegtenis geneem.

Dit het onder andere verskeie hooggeplaaste ANC-amptenare ingesluit. Voormalige ANC-LP Vincent Smith, die voormalige burgemeester van Mangaung, Olly Mlamleli, asook die sakeman Edwin Sodi is van die sewe beskuldigdes wat verlede week deur die Valke in hegtenis geneem is in verband met die omstrede Vrystaatse asbes-ouditkontrak.

Die verdagtes is reeds Vrydag ná hul verskyning in die Bloemfonteinse landdroshof op borgtog van tussen R50 000 en R500 000 vrygelaat.

Hierdie inhegtenisnemings is ook die eerstes wat vloei uit die Zondo-kommissie van ondersoek – dié kommissie wat reeds langer as twee jaar aan die gang is en die belastingbetaler al byna R1 miljard uit die sak gejaag het.

Die inhegtenisnemings is verwelkom as positiewe teken van hoop op verantwoordbaarheid vir ANC-kaders en -kamerade. In die ANC se 26 jaar lange heerskappy is dít die eerste grootskaalse inhegtenisnemings wat in verband met korrupsie gemaak word. Daadwerklike stappe word lank reeds onder pres. Cyril Ramaphosa se leierskap verwag.

Pres. Cyril Ramaphosa, (Foto: GCIS)

Ramaphosa het ná afloop van verlede jaar se nasionale verkiesing genoem dat die ANC ʼn morele herlewing onder leiding van die topses sou ondergaan. In die lig van Covid-19-korrupsie het Ramaphosa ook sterk gereageer – hoewel net in woord. In Augustus vanjaar het Ramaphosa selfs ʼn sterk bewoorde brief aan alle ANC-lede uitgestuur waarin hy die party beskuldigde nommer een genoem het wanneer dit by korrupsie kom. So asof ANC-lede, -kaders en -kamerade uit ʼn plek van morele onkunde die land gedurende die afgelope kwarteeu rot en kaal besteel het.

Met die inhegtenisnemings verlede week het die ANC vir die eerste keer vanaf sterk bewoorde briewe tot aksie oorgegaan. Die visse wat deur die Valke ingetrek is, is ook nie klein nie. Hooggeplaaste ANC-lede, van geliefde LP’s tot burgemeesters van metro’s, is geteiken. (Dit is dalk ook goed so – indien die Valke Mlamleli nie in hegtenis geneem het nie, was daar ʼn moontlikheid dat sy nóóit sou abdikeer nie.)

Dit is belangrik om te let op die feit dat sewe van die mees belanghebbende inhegtenisnemings verband hou met die omstrede Vrystaatse asbes-ouditkontrak. Dit is ook die ouditkontrak waarby Ace Magashule, as destydse premier van die Vrystaat, betrek en onder verdenking geplaas is. Indien Pieter-Louis Myburgh se boek oor Magashule, Gangster State, akkuraat is, sou dit beteken dat Magashule ook by dié kontrak baat gevind het.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Dit is veilig om te aanvaar dat die president ook ʼn rol in hierdie inhegtenisnemings gespeel het. Dit is naïef om te glo dat hierdie soort optrede, veral teen die betrokke faksie, in enige omstandighede tydens oudpres. Zuma se termyn sou plaasvind. Hierdie inhegtenisnemings is daarom ook ʼn belangrike skuif in die ANC-magspel en faksiegevegte waarin die party homself bevind. Daar is ʼn goeie rede waarom die hoëprofiel-inhegtenisnemings vandeesweek in die provinsie van Magashule se magsbasis plaasgevind het. Ramaphosa het ʼn politieke spel waaraan hy deelneem en waarin hy suksesvol móét begin raak.

Hierdie inhegtenisnemings het in dieselfde week plaasgevind as Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie, se uiteindelike vonnisoplegging. Mdluli en sy medebeskuldigde het reeds in 1999 die wandaad gepleeg waaraan hulle skuldig bevind is. Hulle vervolging het eers in 2011 ʼn aanvang geneem en is vanjaar uiteindelik afgehandel.

Indien die wiele van geregtigheid in ons land draai, kan dit tot 20 jaar lank neem. Dit is indien dit ooit suksesvol aan die draai kan kom.

Oudpres. Jacob Zuma het verlede week natuurlik ook sy Stalingrad-strategie voortgesit deur te vereis dat adjunkhoofregter Raymond Zondo hom as voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek verwyder. Zuma weier om aan die kommissie deel te neem indien Zondo hom nie onttrek nie. Dit is bloot die jongste taktiek in Zuma se sloerstrategie om vervolging tot die dood te ontwyk.

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Ongerymdhede waarby Zuma betrek word, dateer ook reeds uit die 1990’s. Selfs van Zuma se medebeskuldigdes is reeds vervolg, tronkin en tronkuit weens “terminale siekte”. Dié oudpresident sal daarom enigiets in sy vermoë doen om uit die beskuldigdebank en tronk te bly.

Korrupte amptenare gaan nie skielik na eerlikheid oorslaan wanneer die gereg op hulle neerdaal nie. Verskeie suksesvolle veldslae is uiteindelik nodig in die stryd teen korrupsie. Inhegtenisneming is maar die eerste klein oorwinning in ʼn reusestryd.

Hierdie inhegtenisnemings moet daarom eerder met skeptiese optimisme ontvang word. Die ANC het lankal die morele hoë grond wat hy met bestelverandering gekry het, verloor. Gewone landsburgers het lank reeds op die morele korrupsie van die ANC gereageer met die verwytende wantroue wat hy verdien. Daarom verdien die ANC dit ook nie dat almal hom in naïewe geloof moet prys wanneer hy oplaas die regte ding doen nie.

Hoewel hierdie inhegtenisnemings verwelkom kan word, lê daar nog ʼn lang pad voor in die stryd om geregtigheid. ʼn Paar korrupte swaeltjies maak nog geen somer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Androclus ·

Dis waar ‘n paar korrupte swaeltjies maak geen somer,ons kyk uit na nog soos Ace Magashule en Jakob Zumpies en daar’s nog vele swaeltjies voordat die somer reg in is.

JohanR ·

Ek het onlangs op iemand se Twitter die volgende gelees wat die man gese het en dit is soe waar……how many times must this be pointed out? The entire ANC is rotten, top to bottom. It’s not a party. It’s not a government. It’s not a liberation movement. It’s just one big criminal money sucking parasite that is killing our country. It has to go.

Dup ·

Mense het voorheen tong in die kies gesê dat jy n kriminele rekord moet hê om n ANC lid te kan word.As ek alles gadeslaan wat tans in SA aangaan dan het die grappie meer van n waarheid geword.Die media berig elke dag oor nuwe korrupsie en bedrog sake wat aanhangig gemaak is waarby munisipale of regeringsamptenare betrek word.Die Valke en ander vervolgingsowerhede het genoeg werk om vir die volgende dekade of wat besig te bly.

Wielspore ·

Hierdie is geen swaeltjie, hierdie is eerder volstruise want dit is groot korrupsie!

Genis ·

Hierdie is net n rookskerm om vir wereld bank te wys, die ANC vat nou korrupsie vas… kom ons kyk of hulle vir Ace/Jacob bende gaan vasvat… En die ander korruptes in die Parlement…

Cornelius ·

Een manier hoe om van die Magashule-Zuma faksie in die ANC ontslae te raak. Sal maar moet sien of daar ooit iets van die Zonfo Kommisie se ondersoek gaan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.