Asbesondersoek: Inhegtenisnemings verwelkom, koppe geëis

(Argieffoto: Unsplash)

Die inhegtenisneming van minstens 48 verdagtes, onder wie staatsamptenare, polisielede en sakelui, in verband met wydverspreide korrupsie, is die afgelope paar dae verwelkom.

Die koppe van talle ANC-hooggeplaastes wat glo ook by die korrupte bedrywighede betrek word, word nou ook geëis.

“Die ware toets van ons stryd teen korrupsie sal wees of die inhegtenisnemings en aanklagte wat ons hierdie week gesien het, verder sal strek as die voormalige ANC-LP Vincent Smith, die voormalige burgemeester van Mangaung, Olly Mlamleli, en die sakeman Edwin Sodi wat bande met die ANC het,” sê John Steenhuisen, leier van die DA.

Steenhuisen meen dat alle hooggeplaaste ANC-lede wat by skandale soos die Bosasa-ondersoek en die omstrede Vrystaatse asbes-ouditkontrak betrek word, ook agter tralies hoort.

“Dit is algemeen bekend dat Bosasa-omkoopgeld nie net aan Smith betaal is nie en dat senior ANC-kaders soos Dudu Myeni, Nomvula Mokonyane en die minister van mynbou, Gwede Mantashe, ook begunstigdes van die skandaal was. Selfs die president en sy seun het verdagte betalings van hierdie maatskappy ontvang. Nie een van hierdie mense is bo die wet verhewe ​​nie.”

Steenhuisen wys verder daarop dat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, ook na bewering voordeel getrek het uit die asbeskontrak.

“Met ons land op sy knieë ná die algehele landwye afsondering wat ons ekonomie uitgewis en miljoene werksgeleenthede gekelder het, kan ons nie bekostig dat korrupsie ongestraf bly nie.”

Die Organisasie vir Belastingmisbruik (Outa) het ook die inhegtenisnemings verwelkom.

“Ons is bly om te sien dat die oppergesag van die reg geld en diegene wat betrek word by korrupsie, bedrog en ander oortredings nou verantwoording doen. Dit is die optrede waarop ons nou al geruime tyd geduldig wag en dit is ʼn bewys dat die wiele van geregtigheid begin draai. Die momentum begin beslis opbou,” sê Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa.

Volgens Duvenage stuur Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie by die polisie, se vonnis boonop ʼn sterk boodskap uit dat niemand bo die wet verhewe is nie.

“Net ʼn paar jaar gelede was dit duidelik dat mense soos Mdluli beskerming geniet het deur doelbewuste inmenging in die strafregstelsel weens die Zuma-administrasie se manewales en pogings om ʼn staatskapingsagenda te dryf. Gelukkig het die lang arm van die gereg hom uiteindelik ingehaal.”

Vandeesweek se inhegtenisnemings sluit sewe verdagtes in verband met die omstrede Vrystaatse asbes-ouditkontrak in. Die verdagtes verskyn vandag in die Bloemfonteinse landdroshof.

Altesaam 42 verdagtes het ook Dinsdag in die Pretoriase landdroshof verskyn in verband met grootskaalse beweerde tenderbedrog by die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Androclus ·

Mense wees asb net geduldig die wiel is besig om aan die rol te kom,die stof is egter af en die ghries is besig om sy deel te doen nl om die wiel vinniger te laat rol.

Persheks Adri ·

Kom kom ons wag vir die oranje pakkies vir AL die kaders wat betrokke is! Elke liewe 1 van hulle.

Wat op dees Aarde ·

Ons kan nou net hoop dat die Regters aan die regte kant van die wet is, en nie geld onderdeur die tafel sal aanvaar nie.

Hennie J ·

Daar sal heel moontlik n tekort aan oranje oorpakke wees as die lot by pappa se winkel aanmeld en wie gaan dan oorbly om die oorpakke op korrupte wyse te bekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.