Nuuskommentaar: Steve se syfers

In die kritiek op Steve Hofmeyr oor die gebruik van syfers oor plaasaanvalle word dikwels uit die oog verloor dat die polisie nie amptelike syfers hieroor byhou nie. Dit is dus nie ‘n maklike taak om akkurate syfers hieroor te bekom nie, hoewel die TLU-SA hard probeer om dit by te hou, maar self grootliks weer van mediaberigte hieroor afhanklik is.

Die verrekening van die syfers om persentasies en byvoorbeeld moorde per 100 000 van die bevolking uit te druk, soos die internasionale norm is, is ook problematies. Terwyl dit redelik akkuraat bepaal kan word hoeveel boere daar in die land is, is dit moeiliker om hul gesinsgetalle by te reken, en verder moet in gedagte gehou word dat die kinders dikwels in koshuise is, en dus vir lang tye van die jaar weer van die totaal waaruit statistiek bewerk moet word, uitgesluit is. Soms word hoewebewoners ingesluit, en soms juis uitgesluit. ‘n Regeringsondersoek het ook aan die lig gebring dat die karakter van aanvalle op plaaswerkers en die boer en sy gesin, nie dieselfde is nie. Terwyl moorde onder die boere en hul gesinslede gereeld voorkom, is verkragtings meer dikwels die ergste misdaad wat tydens aanvalle op plaaswerkergesinne gepleeg word.

Boonop meen georganiseerde landbou behoort misdaad soos veediefstal, brandstigting en die diefstal van weiding, gewasse en gereedskap ook by plaasaanvalle ingesluit te word.

Maar dit is kliniese syfers, en selfs die mees konserwatiewe berekenings bepaal dat die moordkoers onder boere en hul gesinslede hoër is as die gemiddelde, hemelhoë moordkoers van die land as geheel.

Die stelling word dikwels gemaak dat slegs een moord, ongeag wie waar vermoor word, een te veel is. Dit bly moord.

Verskeie faktore veroorsaak egter dat plaasmoorde ‘n besondere nuuswaardigheid bly, en besonder emosies by ‘n deel van die blanke bevolking oproep. Dit word dikwels deur die ANC en ander partye negatief ervaar as sou swart lewens as  minder waardevol beskou word.

Die redes hoekom plaasmoorde so intensief ervaar, en ‘n politieke warm patat geword het, is kompleks.

Oor sommige aspekte is daar nog geen klinkklare bevindings nie, soos oor of die grondkwessie die emosies help opblaas. Oor min kwessie is wit en swart persepsies so uiteenlopend soos die vraag of wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Let wel – dit handel nie oor die werklike historiese feite nie, maar die persepsies. Hoe verskillend wit en swart hieroor voel blyk uit die meestersverhandeling van die Matie, Charl Swart, en die volgende tabel uit sy verhandeling vertel die verhaal van uiteenlopende sienings:

Vir die regering, wat nou die grondkwessie as ʼn verkiesinghoek gebruik, is dit ondenkbaar om nou die gevaar te loop om swart kiesers te verloor deur gesien te word as ‘n regering wat dit regtig erns het om die wit boer as volwaardige lid van die bevolking te projekteer, wat na behore beskerm moet word (en vir wie selfs spesiale maatreëls getref moet word).

Hierdie afsydigheid wat ervaar word, tesame met faktore soos afgesonderdheid, kwesbaarheid en die wreedheid waarmee die aanvalle gepaard gaan het noodwendig ‘n sosio-sielkundige impak. Die trauma wat ervaar word as ‘n besonder intense trauma ervaar wat nie wil genees nie, en word soms viktimologie genoem.

Binnekort word ‘n spesiale kamp vir slagoffers en hul naasbestaandes aangebied waar hulle bygestaan sal word om hierdie spesiale trauma te help verwerk – iets wat met groot belangstelling deur ander terapeute gevolg sal word.

Dit is jammer dat die kwessie van getalle omstrede moes word, hoewel dit miskien ook nodig is dat ‘n bietjie orde geskep word in wat as geloofwaardige syfers aangebied moet word. As, soos soms gebeur, erg opgeblase syfers in omloop kom, skend dit die geloofwaardigheid van die meer betroubare syfers. Dit verkry dan dieselfde vraagtekens as wat aan die “nag van die lang messe” gekoppel word wat sommige mense kliphard probeer verkondig.

Maar dit is die Afrikaner aan sy landbouers verskuldig – om hul lot op die hart te dra. Hulle is erg blootgestel toe die kommandostelsel opgeskort is, en plaasvervangende stelsels steeds sukkel om die plek daarvan in te neem. En die syfers – die geloofwaardige syfers – vertel dat hulle vir plaasmoorde meer blootgestel is aan moorde as die gemiddeld van die Suid-Afrikaanse bevolking, waar baie moorde – gesteun deur die syfers oor drankmisbruik – met bende-aktiwiteite, dwelms en gewone dronkensbakleierye verband hou.

En die Godvresende boer en sy gesin voldoen nie aan hierdie soort profiel nie. En tog vertel die syfers ‘n ander verhaal. En word ook klein kindertjies soms wreed vermoor…

Lees ook:
Steve en die plaasmoordstatistiek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Gert Vermaak ·

Die tabel beeld pragtig uit die effek wat propaganda en die media op mense se opinies het. Dis ‘n swaar pil om te sluk, maar die samelewing se IK is bitterlaag, en ongelukkig terselfdertyd beinvloed deur die zeitgeist. Mense is immers tropdiere.

Sarie ·

Ek kan nie sien dat Steve so geteer en geveer moet word nie,hy staan net sy man en se hoe hy voel,en die blou bul ondersteuners wat nog steeds sy aanhangers is,besluit net dat julle nie weer loftus of enige ander stadion gaan onder steun nie ,dit kan dalk help.Almal voel dieselfde oor die land,maar te lafhartig om iets te doen,Steve se sy se,hy mag mos,ons is mos in die vry land,vry en oop vir misdaad ja!Sterkte Steve.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.