Nuuskommentaar: Trump en Groenland

Huise tydens skemer in Tasiilaq, Groenland. (Foto: Felipe Dana, AP)

Dat daar in alle waarskynlikheid dadels gaan kom van pres. Donald Trump se aankondiging dat hy Groenland vir die VSA wil aanskaf, is meer te wyte aan grondwetlike ontwikkelings weens klimaatsverandering as aan ekonomiese realiteite. Trouens, dit is die derde keer wat die VSA in hierdie stap belangstel.

Mense, lande en instansies het uiteenlopend gereageer toe pres. Donald Trump onlangs belangstelling getoon het om Groenland te koop. Baie se reaksies was geamuseerd, en baie van hierdie mense en instansies wat geamuseerd gereageer het, se geamuseerdheid spruit uit onkunde by wie die idee van ’n yslike stuk gletserbedekte ysskots vasgesteek het. Maar hulle is eintlik die gekke van die verhaal, want klimaatsverwarming is geleidelik besig om Groenland weer meer en meer werklik groen te maak met landbouproduksie wat al meer en meer gewasse oor ’n al wyer gebied bewerkbaar en bewoonbaar maak. Omtrent soos hoe dit meer as ’n duisend jaar gelede was toe die bekende Erik die Rooie en sy volgelinge hulle daar gevestig het, en dit Groenland gedoop het.

Jare lank is gespot dat Erik immigrante deur ’n misleidende advertensie na Groenland wou lok, maar navorsing het aan die lig gebring dat die gebied destyds oor uitgebreide landboupotensiaal beskik het, wat goed deur die geharde Vikings benut kon word. Dit het ook die eerste bevestigde Europese en Christen ontdekking en kolonisasie in Noord-Amerika net meer as ’n duisend jaar gelede tot gevolg gehad, maar wat doodgeloop het na Groenland weens die toenemende koue onbewoonbaar geword het. Lees gerus Maroela se nuuskommentaar op 27 April 2018 oor dié onderwerp hier.

Om agter die kap van die byl te kom oor Trump se belangstelling verg egter heelwat agtergrondkennis waarvan baie mense min of niks weet nie. Die belangrikste is stellig dat dit nie die eerste keer was dat die VSA belangstelling getoon het om Groenland, en toe ook Ysland, te koop nie. Beide Groenland en Ysland was met die eerste planne vir die transaksie toe Deense besittings. Juis weens die verbeterde lewensomstandighede wat die klimaatsverwarming vir Groenland bring, neem Groenland se selfbeskikking geleidelik toe, en word volkome onafhanklikheid van Denemarke geleidelik ’n groter waarskynlikheid. (Ysland, sedert 1944 onafhanklik, het pas ’n gedenkplaat onthul ter herdenking van die Okjökull-gletser, die eerste van Ysland se 400 gletsers, wat weens klimaatsverandering daarmee heen is.)

Die tweede is dat die VSA tradisioneel belanggestel het om sy grondgebied in die Arktiese omgewing uit te brei. Die VSA het in 1867 Alaska vir $7,2 miljoen dollar van Rusland aangeskaf. Vandag is Alaska die VSA se rykste staat, te danke aan enorme goud-, vis- en oliereserwes, en reusewoude.

Te danke aan die miljarde dollar wat uit olie, vis, goud, sink, platinum en lood verdien word, is daar in Alaska geen persoonlike belasting of verkoopsbelasting nie, en kry alle burgers jaarliks ’n toelae (lees hier).

Destyds was die VSA in ’n fase van uitbreiding, en geopolitieke oorwegings het ook ’n beslissende rol gespeel. Toe Alaska weens die onbekostigbaarheid vir voortgesette Russiese kolonisasie in die mark kom, het die VSA belanggestel. Een van die geostrategiese oorwegings was om met so ’n uitbreiding sy rol as Pasifiese moondheid te bestendig, en vrese oor sprake dat Brittanje sou belangstel om die gebied aan te skaf en so sy invloed uit te brei, het swaar by die Amerikaners geweeg. Boonop het Rusland geleidelik sy gebied in Noord-Amerika verder en verder suid uitgebrei, met ’n vesting skaars 200 kilometer noord van San Francisco.

Nie almal was ewe geneë met die VSA se jongste aanwins nie, en het onder andere na die gebied as Seawards’ folley en Seawards’ Icebox verwys. (William H. Seaward was die destydse minister van buitelandse sake en het ’n sleutelrol gespeel.)

’n Jaar na Alaska aangekoop is, was daar ’n poging dat die VSA ook Groenland en Ysland aanskaf. Onder die redes wat voorstanders genoem het, was die indrukwekkende visbronne, en moderne myntoerusting wat enorme reserwes van sekere minerale op Groenland sou moontlik maak. Sou die VSA in besit van Groenland en Ysland wees, sou dit saam met Alaska vir Kanada eintlik “omsingel,” en dié land moontlik oorreed om ook by die VSA aan te sluit. Volgens oorlewering het talle kongreslede die planne egter uitgelag, en dadels het hiervan gekom.

Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: File Photo/IANS)

In die 1970’s is argiefdokumente in die VSA egter gedeklassifiseer en het dit aan die lig gekom dat die VSA in 1946 vir Denemarke $100 miljoen vir Groenland aangebied het. Onder andere sou Denemarke ook olieryke dele van Alaska aangebied gewees het vir dele van Groenland waar die VSA militêre basisse wou oprig. Uiteindelik het die VSA die militêre basisse kon oprig waar hulle wou.

Groenland se regering het in reaksie op die jongste nuus reeds per twiet laat weet dat die land nie te koop is nie, maar samewerking sal verwelkom.

Voorts is die aankoop van grondgebied deur die VSA niks nuuts nie. Onder die deelstate wat die VSA aangekoop het, tel Louisiana, Florida, in ’n sekere sin Texas, en Oregon. Puerto Rico, vandag ’n tipe dominiumgebied, is ook aangekoop, en selfs die Filippyne was aangekoop.

Maar hoe voel die Amerikaners self oor die moontlikheid om Groenland as 51ste staat (al word staat-status eers later verwerf) by te voeg?

In ’n splinternuwe peiling deur die agentskap Rasmussen is bevind dat die meeste Trump-aanhangers ten gunste daarvan is. Volgens die peiling is net dertig persent van al die kiesers egter ten gunste van so ’n kopie, en wel ter wille van sy natuurlike hulpbronne en geostrategiese belangrikheid. Altesaam 41% van die kiesers is egter daarteen gekant, en 29% se mening kan na enige kant swaai.

Van Trump se Groenland-planne sal waarskynlik dadels kom, maar die vernaamste “hindernisse” het te make met Groenland se huidige status. Met die uitbreiding van Groenland se selfregeringstatus, het die Groenlanders self ook die reg op selfbeskikking gekry. Denemarke het dus nie meer die reg om oor Groenland se toekoms te beslis nie. Grondwetlik kan die Groenlanders nou bloot ’n referendum hou, en op onafhanklikheid besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kallie ·

Soos ons die ANC ken sal hulle die RSA sal verkoop aan wie ook al bereid is om te betaal. Dit lyk of China voor in die ry staan.

Sarie ·

SA is nie te koop nie, dit word sommer op ‘n skinkbord weggegee!

Sarie ·

Hy kan Groenland koop en Suid-Afrikaanse boere kry om daar te Boer vir hom

Deon ·

Die DA moet die Wes Kaap aan die VSA verkoop. China kan die res van SA vat. Ek weet nie wat Orania dan sal doen nie.

Leon ·

Ag, moenie bekommerd wees nie. Die CIA sal onmin tussen Groenland en Denemarke veroorsaak. Daar sal “oorlog” uitbreek en die VSA sal wapens aan beide kante verskaf en Groenland sal sy olie en minerale aan die VSA aanbied. Die VSA sal sê hulle moet vrede maak en siedaar hy het Groenland.
Dit is wat die VSA in Angola aangevang het. Hoekom nie met Groenland en Denemarke nie.

Rubber ·

Hi Donald, ek bied Suid Afrika te koop aan. R1 of naaste aanbod.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.