Nuuskommentaar: Veiligheid lê in voorkoming, eerder as vervolging

(Foto: SA Polisie)

Dit was gister net meer as ses jaar gelede wat Senzo Meyiwa, doelwagter en kaptein van Orlando Pirates en Bafana Bafana, vermoor is. Vyf verdagtes is die week in verband met sy moord in hegtenis geneem.

In 2014 in die maand ná sy moord het die polisie ʼn verdagte gearresteer, maar nie genoegsame bewyse gehad om tot vervolging oor te gaan nie. In 2015 het die polisie ook by geleentheid genoem dat hulle “warm op die spoor” van verdagtes is. Teen Oktober verlede jaar – vyf jaar ná sy moord – het die polisie egter nog geen arrestasies gemaak nie. In Oktober verlede jaar het Meyiwa se familie uit desperaatheid en frustrasie met die polisie se trae vordering AfriForum se private vervolgingseenheid genader om hulp.

Die polisiediens en die vervolgingsgesag het dié moord uit die staanspoor geprioritiseer. Selfs die minister van polisie self het later persoonlik by die saak betrokke geraak. Tog het Meyiwa se familie steeds verlede jaar AfriForum genader vir hulp – nie omdat die polisie die saak afskeep nie, eerder omdat hulle bloot nie die vermoë het om dit suksesvol op te los nie.

Sifiso Meyiwa, Senzo se broer, het oor die familie se samewerking met AfriForum gesê: “Die Meyiwa-familie is trots om met ʼn organisasie verbind te word wat die waagmoed het om saam met ons standpunt in te neem in die stryd om geregtigheid in hierdie saak. Ons doen dus ʼn beroep op alle billike Suid-Afrikaners van alle rasse om saam met ons te staan en hierdie ongeregtigheid te beveg.”

Hierdie stelling is ook gister tydens die hofsaak deur Meyiwa se ondersteuners geëggo. Die ondersteuners het gedurende die dag spontaan “AfriForum” en “Gerrie Nel” begin sing. Dié ondersteuners het nie skielik aanhangers van AfriForum se groter saak geword nie – hulle en AfriForum het mekaar eerder gevind in ʼn wedersydse soeke na geregtigheid. Dit is juis AfriForum se bereidwilligheid om geregtigheid na te jaag en hulle gepaardgaande bevoegdheid wat by Meyiwa se ondersteuners en familie geresoneer het.

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Meyiwa se moord is so hoë profiel as wat ʼn mens waarskynlik kan kry. Dit is ʼn voorval wat in enige ander normale land nasionale ontsteltenis sou uitlok en die gepaardgaande aandag en doeltreffende optrede sou geniet. So ʼn moord wat vir meer as vyf jaar onopgelos bly, is byna ondenkbaar. Dit is soortgelyk aan die Oscar Pistorius-saak wat op televisie 24 uur-uitsending geniet het, waarvan daar verskeie dokumentêre gemaak is en wat deur die land soos ʼn gunstelingsepie gevolg is.

Hierdie onaanvaarbare werklikheid herinner egter aan die duisende mense wat jaarliks slagoffers van misdaad is en nie belangrik genoeg geag word om die minister van polisie se persoonlike betrokkenheid te lok nie. Die wel en wee van die meeste van dié slagoffers gaan ongesiens verby – die ANC kan bloot nie wet en orde handhaaf nie, maar reageer beslis ook nie op elke misdaadvoorval soos wat hulle op die hoë profiel-saak van Meyiwa gereageer (het) nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aan die einde van verlede jaar die somber prentjie geskets van die ware stand van ons wetstoepassing. Vir ernstige misdade het vervolgingskoerse tot so laag as 2% gedaal. Net twee uit elke 100 klagte van die trio-misdade – motorkapings, huisrooftogte en rooftogte by sakeondernemings – het in suksesvolle skuldigbevindings geëindig. Net nege uit elke 100 gevalle van seksuele misdrywe het uiteindelik in suksesvolle skuldigbevindings geëindig. Minder as 20 uit elke 100 moorde het uiteindelik in die hof beland.

Die skuldigbevindingskoers in ons land is daarom onaanvaarbaar laag. Verreweg die meerderheid van mense wat misdaad pleeg word nooit suksesvol skuldig bevind nie. Die hartseer werklikheid hiervan is egter ook dat private vervolging nog nie ʼn antwoord vir almal kan wees nie. Private vervolging in Suid-Afrika is nog relatief onbekend, skaars, baie duur en baie beperk. Private vervolging kan bloot nie almal help wat deur die land se polisiediens en NVG in die steek gelaat word nie.

Argieffoto

Dit beteken egter nie dat ons in radeloosheid moet óf kán verval nie. In ʼn artikel oor wenke vir plaasveiligheid het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, verskeie wenke gegee wat ook vir algemene veiligheid aangewend kan word. Een van die belangrikstes is dat misdaadvoorkoming die voorkeurstrategie moet wees.

Dit is duidelik dat die regering nie wet en orde kan handhaaf nie, maar ook nie die verval daarvan kan mitigeer deur suksesvolle vervolging nie. In hierdie stadium is ons as landsburgers se beste moontlike strategie ook een van misdaadvoorkoming. Dit is veel moeiliker om misdadigers verantwoordbaar te hou met private vervolging as wat dit is om jouself in weerbaarheid te beveilig.

Hierdie voorkoming begin by eenvoudige stappe soos om in veiliger omgewings te woon en werk, private sekuriteit, gemeenskapsveiligheidstrukture soos buurtwagte en sonder twyfel om jouself binne die wet met ʼn wapen te beveilig en beskerm. Sulke eenvoudige veranderinge kan jou van die nodige weerbaarheid voorsien om misdaad te help voorkom. Deur misdaadvoorkoming as voorkeurstrategie aan te wend word misdaad nie net gekeer nie, maar word die onreg wat met swak vervolging gepaardgaan ook stopgesit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cornelius ·

So lank die ANC Alliansie in beheer is gaan niks verbeter nie, inteendeel dit gaan vererger.

Kokerboom ·

Dis ‘n edele idee om gevolge aan te spreek maar dis meer belangriker om oorsake uit weg te ruim. Die gemeenskaplike oorsaak is die ANC . Dis ‘n gif, ‘n siekte en ‘n pandemie veel erger as Covid-19. Elimineer dit en land sal floreer. Vraag is egter hoe met massas wat hul blindelings volg..dit ten spite van swaarkry, verdrukking en party misbruik!!

Anoniem ·

Verkeerd, eers vervolging en swaar strawwe wat boosdoeners sal afskrik, dan sal voorkoming eers werklik werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.