Nuuskommentaar: Vir die stam om te leef, moet die nasie sterf?

(Argieffoto: Wikimedia Commons)

Samora Machel, eertydse president van Mosambiek, het bekenderwys opgemerk dat die stam moet sterf vir die nasie om te leef. Hierdeur het Machel die onderliggende sentiment van nasiebou verwoord – iets waarmee ons op eie bodem natuurlik ook heel vertroud is.

Aldus die teoretiese ooreenkoms wat in 1994 in Suid-Afrika gesluit is, sou eenheid vanuit en diversiteit gevier en gevestig word. ʼn Reënboog word immers gedefinieer deur die verskillende kleure waaruit dit afsonderlik en gelyktydig bestaan. Kort voor lank is veral minderheidsgroepe ontnugter deur die werklikheid van Machel se uitspraak. Dit geld ook vir enige groep wat dit sou waag om kultuuridentiteit verhewe bo nasionale eenheid te plaas.

Diversiteit, kultuuridentiteit en etnisiteit is verdraagbaar in sover dit nie inmeng met oorhoofse Suid-Afrikanisme nie. Die vind, uitbou en ononderhandelbare aanhang van ʼn sentrale en oorkoepelende identiteit is nie juis opsioneel nie. Kultuurregte en -identiteit is tot ʼn persoonlike luuksheid gereduseer met die openbare sfeer wat prakties gehomogeniseer is.

Nelson Mandela as sentrale anti-apartheidsvegter het sy deel gedoen om as nasionale samebindende simbool te dien. Hy het uiteindelik die ding geword wat blote Suid-Afrikaanse burgers verenig het tot Suid-Afrikaners – ʼn onskeidbare groep met ʼn gedeelde identiteit en karakter.

Namate die staat verkrummel het, het sy grootste projek van nasiebou ook ineen begin stort. Terugskouend kan ʼn mens waarskynlik sê dat dit is omdat staatsmag die enigste ding is wat werklik dié projek aan die gang gehou het. Soos wat Zondo se staatskapingsverslae reeds gewys het, is nie net miljarde rande nie, maar ook hierdie nasiebouprojek tydens veral die Zuma-regering gesteel.

Ons sit en wag ook nou vir die laaste staatskapingsverslag. Dít terwyl ons nog steeds in ongeloof sit oor die feit dat die Gupta-broers ook uiteindelik, blykbaar, gekniehalter is. Dit is omtrent ʼn pad wat ons gestap het vanaf daardie eerste rillende Carte Blanche Sondagaande van ontnugtering en skok.

Heel toevallig bars daar ná die Gupta-nuus ʼn verdagte storm oor pres. Cyril Ramaphosa se kop los. Die hele Phala Phala-storie hul Ramaphosa in omstredenheid met meer vrae as antwoorde wat opduik. Is dit dan werklik so dat Ramaphosa miljoene dollars in sy banke weggesteek het? Met dié geld wat in ʼn onaangemelde misdaad gesteel is? Tussendeur het Ramaphosa ook die hoof van sy presidensiële beskermingseenheid gevra om die saak te “ondersoek”. Selfs ʼn miljardêr wil seker nie besteel word nie – tensy hy met vuil hande ʼn diefstalsaak sou moes open.

Dít is feitlik sonder twyfel ʼn doelbewuste poging van die sogenaamde Zuma-ANC om Ramaphosa te destabiliseer. Dit beskadig natuurlik sy beoogde herverkiesing in Desember. Piet Croucamp meen selfs dat ʼn siek en sat Ramaphosa dalk nog die pad gaan vat voor Desember. Verder trek dit tog vir ʼn oomblik die aandag van die “Zuma-staatskaping” af.

Dit is ook juis wat oud- Openbare Beskermer Thuli Madonsela vandeesweek in ʼn meningstuk kritiseer. Hierdie polities gemotiveerde mediastorm trek doelbewus die aandag van staatskapingsaanspreeklikheid af. Regtelike aanspreeklikheid staan aan die kern van ons sogenaamde oppergesag van die reg – iets wat dringend en drasties herstel moet word vir ons konstitusionele orde om ʼn kans op oorlewing te staan. Daarom moet mense se verbeelding eerder hierdeur as deur Ramaphosa se mediastorm aangegryp word. Hoewel dié storie meriete het, moet mense nie hul koppe so daaroor verloor nie.

Hierdie sentiment van Madonsela impliseer egter dat ʼn strenger fokus op Ramaphosa nie ook neerkom op ʼn staatskapingsfokus nie. Dalk aansienlik verder verwyder van vervolging as die Guptas, maar vir doeleindes van die openbare bewussyn nie minder belangrik nie – veral nie betreffend die miteverbreking van die stryd tussen goeie en slegte ANC nie. Selfs al is Ramaphosa volledig onskuldig, inkrimineer sy hantering van die mediastorm hom beslis.

Selfs Christi van der Westhuizen waarsku nog dat Ramaphosa se partypolitieke teenstanders nie so gretig moet wees om van hom ontslae te raak nie – hulle moet eers die kat uit die boom kyk. Ramaphosa se ondergang kan volgens haar net dalk ʼn meer korrupte kleptokrasie aanvuur. Om Ramaphosa te behou en beskerm is in ons beste belang. Daar bestaan veral in Van der Westhuizen se waarskuwing nog ʼn beter en ʼn slegter ANC. Dit is feitlik onmoontlik dat Ramaphosa vir so lank polities in sulke mag oorleef het sonder om ook aan korrupsie te raak – hy het sy hande dalk net beter gewas as Zuma.

Daar is ʼn argument daarvoor te maak dat mense se verbeelding juis weens hierdie rede méér deur Ramaphosa se skandes aangegryp word. Ons weet Zuma en Kie is korrup. Ramaphosa en Kie is egter met groot moeite aangebied en voorgehou as dié antwoorde op ons probleme. Ramaphosa in besonder is nog afkomstig van die goeie ou Mandela-generasie. Hy is dus die laaste lewende simbool van die Mandela-gees – die edele Suid-Afrikaanse nasiebouprojek waardeur ʼn morele ANC ons verenig in nasionale identiteit sál hou.

Dalk meen Van der Westhuizen juis dat ons Ramaphosa beter moet oppas omdat hy die laaste gare in ons nasionale josefskleed is. Wat presies bly vir Suid-Afrikanisme oor as Ramaphosa gaan?

Tim du Plessis benadruk onlangs in Rapport presies hierdie probleem. “Wat is die alternatief?” is volgens Du Plessis geen leierseienskap nie. Dus staan ons op ʼn sentralistiese Suid-Afrikanistiese noot in ʼn redelike krisis. Selfs die fiktiewe goeie ANC se plakkaatkind blyk ten beste polities lamsakkig en ten slegste ook korrup te wees. Diegene wat alternatiewe in leierskapsoplossings soek, gaan dus sukkel. Diegene wat alternatiewe in bedelingsoplossings soek, staan egter ʼn beter kans.

Dit is dalk nie nodig om so vreeslik te “oorreageer” oor Ramaphosa se oënskynlike onderduimshede nie. Dit is egter belangrik om te verstaan dat hierdie skandaal dalk meer ingrypend is vir Suid-Afrika soos wat ons dit tans ken. Dit verteenwoordig en bevestig die verbrokkeling van Suid-Afrikanisme en die moontlikheid op herstel. Sterk gemeenskappe weerstaan afsonderlik en gesamentlik elke dag (uitsonderlik suksesvol) die dooiegewig van ʼn falende staat. Die nasiebou wat die stam probeer verswelg het, is weens staatskaping reeds vervang met grootskaalse de facto-federering. Is die vooruitsig dan dalk dat die sogenaamde stam uiteindelik kan floreer noudat die nasie begin sterf?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Petrus Albertus ·

Uitstekend gestel Monica! Ek kan maar net daarop sê, dit is waar en seker. Vir daardie nuuskommentators en lede van die publiek wat nogsteeds hoop op Suid-Afrikanisme: sterkte vir die onbegaanbare pad vorentoe.

Nettie ·

Ek is in die 70’s gebore en getoe. Ek het nooit die Nuwe SA as “Een Nasie” gesien nie. Dit was nog altyd vir my ‘n land van 12+ nasieS saamgegooi onder een vaandel. Ek het die dae van Mandela se bomme deurleef. Van die kindertjies wat gesterf het. Ek het hom nooit as die Engel gesien wat hy nou nog voorgehou word as nie. Hy het MY nie “saamgebring” in een nasie nie. Ek was nog altyd apart, saam met my groep. Een nasie van 12+ ander onder een vaandel. Vanaf 1910.

Ek noem myself NOOIT ‘n Suid-Afrikaner nie. Ek is ‘n Afrikaner/Boer VAN Suid-Afrika.

Manie ·

Dit was absolute wensdenkery om so ‘n mengelmoes van mense onder een sogenaamde reënboog nasie te wou saamgooi en verwag alles sal reg uitwerk. Dit het nog nooit gewerk nie en sal ook nie.

H.A. ·

Ramaphosa moet net gaan, slinkser en skelmer as mantel draer (mandela) en zuma. Almal in die kommunistiese tent.

Oom ·

Wat staan in Spreuke: “Weë die land wat deur sy slawe regeer word.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.