Nuuskommentaar: Vuurhoutjie by die kruitvat

Amcu-stakers by Marikana. Foto: Power987 News / Twitter

Amcu-stakers by Marikana. Foto: Power987 News / Twitter

Na wat berig word, het sowat 70 000 werkers by verskeie platinummyne van gisteraand af begin staak nadat Amcu se staking in werking getree het. Formeel eis Amcu ‘n salaris van R12 500 per maand ná aftrekkings, maar dié kwessie is op die oog af skynbaar ‘n bysaak.

Amcu het ook sy spiere by verskeie goudmyne probeer bult, maar is minstens vir eers deur ‘n hofbevel gestuit.

Waaroor gaan die staking werklik?

Amcu is in ‘n magstryd met Cosatu se NUM gewikkel. Deur ‘n beeld van werklik omgee vir die mynwerkers, en nie bo hulle uit te styg nie, kon Amcu die NUM maklik rysmier. Die NUM, waar die shopstewards en ander hoës eerder as vennote van die mynbestuur begin vertoon het, het van Cosatu se ruggraat tot waarskynlik die derde grootste Cosatu-filiaal gekrimp.

Dié verwikkelinge het die huidige ANC-leierskap nie aangestaan nie. Die NUM se bestuur is sterk Zuma-gesind, en die Numsa, wat ook ten koste van die NUM begin groei het, het nie juis ooghare vir Zuma nie.

Intussen het Amcu ook tweespalt begin ervaar, en is dit “nodig” om terug te val op die “resep” wat vir Amcu groot sukses gebring het – onredelike salariseise.

Die ANC het ook intussen geleer dat sy aanvanklike benadering tot Amcu – een van minagtende ignorering – sleg boemerang en die Marikana-tragedie was ‘n manifestasie daarvan. Ter elfder ure is adjunk-president Kglame Motlanthe ingespan om die sake te probeer beredder, en die vlam van hoop brand steeds.

Die probleem is dat die staking begin het, en dat die werkers nie meer salaris kry nie. Die geskiedenis leer dat wanneer die geldsake eers begin knyp, frustrasies maklik oorkook en tot geweld lei. Voeg hierby intimidasie, en die bloedige stryd tussen Amcu en die NUM, met moontlik nog die Amcu-afvalliges wat sake verder kan kompliseer, en dit lyk onwaarskynlik dat daar nie geweld gaan uitbreek nie.

Trouens, daar het reeds gevalle van geweld by ander platinummyne begin voorkom waar al ‘n ruk losstaande van die huidige staking, ook gestaak word.

Diensleweringsbetogings wat op geweld uitloop, het ook weer ‘n domino-effek begin kry.

En ‘n verkiesing is onderweg, ‘n verkiesing wat vir die ANC groot simboliese waarde inhou, maar wat op die oomblik lyk op ‘n teleurstelling afstuur. Kiesers moet dus opgekommandeer word, en dit lyk of blote beloftes nie meer die gemoedere kalmeer nie. Daar moet iets gedoen word, en plek-plek word daar iets gedoen. ANC-ontplooide kaders, soos ‘n burgemeester en ander ringkoppe, is “herroep”, daar is weer (plek-plek) water in die krane – weliswaar aldus die TLU SA nie altyd drinkbare water nie – maar die boodskap is duidelik: Maak nou amok, en die kanse is goed dat die regering gaan vinger trek weens die komende verkiesing. Ongelukkig soms nog ook die vinger op die sneller…

Hoewel dit onbekend is hoeveel Amcu-lede nog uiteindelik hul kruisies agter die ANC gaan trek, lyk dit nietemin of ‘n eskalasie van Amcu-verwante spanning die ANC stemme kan kos. Met die aanvanklike probleme het die UDM geblyk redelike steun te hê, maar sedertdien lyk dit asof Julius Malema se EFF goed kan oes onder die stemme. Baie kan dalk doodeenvoudig van die stembus wegbly.

Die Amcu-fenomeen is deeglik ingekleur deur sub- en anti-kulture wat onder meer uit die trekarbeidsgeskiedenis ontwikkel het. ‘n Deel van die looneise is om twee gesinne te kan onderhou – een gesin in die Transkei of iewers in die Oos-Kaap, en die ander in nedersettings – soms kwalik die term nedersetting waardig – in die omgewing van die myne. Minstens ‘n deel van die “wingerdoorlog” rondom De Doorns kan ook na die verskynsel van twee gesinne teruggevoer word.

Groot vraagtekens hang ook oor hoe goed die land se intelligensiedienste, waaronder Misdaadintelligensie, funksioneer om die regering nie net oor operasionele bedreigings in te lig nie, maar die onderliggende faktore daaragter. Het die regering ‘n behoorlike begrip van die dinamika waarmee hulle te kampe het? En hoeveel van die probleme spruit voort daaruit dat die ANC in alliansie is met ‘n deel van die probleem, en voorheen blatant kant gekies het teen ‘n ander deel van die probleem?

Dit lyk of die regering wel ‘n paar lesse geleer het. Daar is nou uit Cosatu-geledere oproepe om ‘n groter vakbond-samehorigheid. Amcu word genooi om deel te wees daarvan. Maar hoe doeltreffend Cosau nou ‘n vredesrol kan speel terwyl die interne struwelinge in die federasie woed, is minstens effens bedenklik.

Intussen betaal die land die prys van geskende beleggersvertroue.

Dit is nou gebiedend noodsaaklik dat die regering diegene wat goed ingelig is oor wat aangaan – ook akademici en tegnokrate soos kundiges binne Solidariteit, se kundigheid begin poel om nie net die huidige krisis die hoof te bied nie, maar om sake op die arbeidsterrein in die algemeen, maar in die mynbedryf in die besonder te stabiliseer. En vir ‘n verandering kan die regering dan ook sommer luister na voorstelle oor wetswysigings wat op rede geskoei is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae