Phala Phala-diefstal: Twee uit op borgtog

Phala Phala drie weer in die hof

Van links na regs is Inanuwela David (39), Frolina Joseph (31) en haar broer Ndilinasho David Joseph (27). (Foto: Isabel Venter)

Twee van die drie verdagtes wat in verband met die diefstal van duisende dollar op pres. Cyril Rampahosa se Phala Phala-wildplaas in hegtenis geneem is, is Vrydag op borgtog vrygelaat.

Landdros Predeshni Poonan het in haar uitspraak bevind daar is ʼn balans tussen die regte van die beskuldigdes en dié van geregtigheid wat hul vrylating regverdig.

Frolina Joseph (31) en haar broer Ndilinasho David Joseph (27) is onderskeidelik op R5 000 en R10 000 borgtog vrygelaat.

Nòg Frolina nòg haar broer het Vrydag tydens die uitspraak enige reaksie getoon.

Phala Phala drie weer in die hof

Van links na regs is Inanuwela David (39), Frolina Joseph (31) en haar broer Ndilinasho David Joseph (27). (Foto: Isabel Venter)

Frolina het vir die duur van haar verskyning die heeltyd met haar hand oor haar oë gestaan. Ndilinasho het net vir die vloer getuur.

Hul medebeskuldigde, Inanuwela David (39), het kort-kort na Poonan gekyk. Sy borgtogaansoek sal eers in Desember aangehoor word nadat sy regsverteenwoordiger aangedui het hy sal eers dan weer beskikbaar wees.

Die staat het aangedui dat hy David se aansoek om borgtog gaan teenstaan omdat ʼn bykomende klag van geldwassery hom in die gesig staar.

Aanklagte van huisbraak en diefstal is, net soos in die geval van Frolina en Ndilinasho, ook teen hom aanhangig gemaak.

Die staat voer aan al drie die beskuldigdes het in Februarie 2020 op die president se wildplaas ingebreek en sowat $580 000 gesteel wat in ʼn rusbank in ʼn woonplek versteek was.

Volgens die staat het hulle na bewering eers op 8 Februarie 2020 verkeerdelik saam met nog ander verdagtes op ʼn ander plaas ingebreek maar niks gesteel nie omdat dit die verkeerde plaas was. Dit is eers die dag daarna dat hulle glo op die president se plaas ingebreek het.

Frolina het glo voorheen as ʼn skoonmaker op die president se plaas gewerk.

Phala Phala drie weer in die hof

Ndilinasho David Joseph (27), een van die beskuldigdes wat daarvan verdink word dat hy by pres. Cyril Ramaphosa se plaas ingebreek het staan Vrydag met ‘n gebuigde hoof en luister in die landdroshof in Bela-Bela, Limpopo. (Foto: Isabel Venter)

Sy en haar broer het albei in hul eedverklarings, wat deel uitgemaak het van hul borgtogaansoek, aangedui dat sou die staat voorgaan met die saak teen hulle, hulle onskuldig gaan pleit. Hulle voer aan die staat het ʼn swak saak teen hulle.

Poonan het beveel dat sowel Frolina as Ndilinasho met elke hof verskyning in die hof moet aanmeld en nie met enige staatsgetuies mag inmeng nie.

Die broer en suster het nie enige merkbare emosie getoon nie en die hof met geboë hoofde verlaat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

George ·

Oor borg vir die diewe as moordenaars. Ja ja ek weet hulle werk op jou worth en finasiele rekords.

Michael ·

En Ramaphosa kom niks oor al het hy miljoene onverklaarde rande in dollars in sy rusbank versteek. Hys die eintlike skelm

John ·

Kan iemand dalk vir ons verduidelik hoekom die mense vir so lank bekend was, maar steeds los rond geloop het.
Die oomblik toe Cyril se storie op die lappe kom, en daar ”n goeie “cover story” vorendag kom, toe kan ons eers die mense vervolg.

Van waar ek sit lyk dit vreemd – meer vrae moet gevra word.

domheks ·

Hulle moet nou net bietjie somme begin maak met al die aankope wat hulle gedoen het, dan gaan die bedrag baaaaaie meer weer as wat cr wil erken. WARM geldjies!

Andre ·

…wonder of die besk. al hulle paspoorte en “reistoelae” ontvang het?

Johann ·

So…wat van die veronderstelde verklaring van die geld? Of is RamaNocio verhef bo wat die res van SA moet en mag doen?

Karoo ·

Haai julle…. hoekom nou staan en skaam wees en ‘n maskwr dra en onder die banke induik?

Di ·

Trane kom te laat! Komies hoe kriminele altyd kop onderste bo sit as hulle in die howe moet verskyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.