Plofstof, ammunisie op plaas gevind

Kratte met vuurwapens en plofstof is Saterdag onder die grond op ʼn plaas naby Rustenburg, Noordwes, gevind. Die plaas is geleë op Boons, sowat 45km suid van Rustenburg.

Kaptein Adele Myburg, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag gesê ʼn plaaswerker was op ʼn stootskraper besig om van bloekombome ontslae te raak, toe hy op die kratte afgekom het.

Die werker het die plaaseienaar in kennis gestel, wat die polisie ontbied het.

“Gewere, handgranate, plofstof en ammunisie is toegevou in plastiek en foelie gevind,” het Myburg gesê.

“Van die items was erg geroes en daar word vermoed dat dit vir langer as tien jaar begrawe was. Die gebied is met ʼn metaalverklikker deursoek en daar is ook op ʼn landmyn afgekom,” het Myburg bygevoeg.

Die items is vir ballistiese toetse gestuur. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.