Roossenekal-boer wil teenklag teen ‘betreders’ indien

eramsus-roossenekal

Frederick Benjamin Erasmus. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Die boer van Roossenekal in Limpopo wat daarvan beskuldig word dat hy op ʼn groep van drie mans geskiet het, gaan ʼn klag van betreding teen hulle aanhangig maak.

Frederick Benjamin Erasmus (22) het Woensdag in ʼn beëdigde verklaring gesê hy is verlede Vrydag in hegtenis geneem voor hy kans gekry het om ʼn klag by die polisie in te dien. Adv. Dennis Smith, sy regsverteenwoordiger, het die verklaring by die hofrekord ingelees as deel van Erasmus se borgtogaansoek.

Hy het verskyn op drie aanklagte van poging tot moord en drie van naamskending. Luidens die klagstaat het Erasmus Vrydag op sy pa se plaas skote geskiet na broers Solly en Phillamon Mtsweni, asook Silvernos Gokova.

Volgens die klagstaat sou Erasmus ook die drie die k-woord genoem het.

Erasmus het Maandag vir die eerste keer in die rondgaande hof op Roossenekal, sowat 100 km van Groblersdal, verskyn. Sy saak is aanvanklik tot volgende jaar uitgestel omdat dié hof vir die feestyd gesluit het. Hierna is sy saak na die Groblersdal-landdroshof verwys sodat die borgtogaansoek daar aangehoor kan word.

In sy verklaring sê Erasmus hy is Maandag by die Roossenekal-polisiekantoor in hegtenis geneem toe hy opgedaag het om ʼn klag van onwettige betreding teen die Mtsweni-broers en Gokova aanhangig te maak.

“Ek is in aanhouding geplaas sonder dat ek my verklaring kon indien … ek is ook meegedeel dat ek nie ʼn saak kan open nie omdat ek in hegtenis geneem is en sal moet wag tot ek vrygelaat is,” sê Erasmus in sy verklaring.

“Ek is hierna aangehou sonder dat ek die kans gegun is om ʼn borgtogaansoek in te dien.”

eramsus-roossenekal

Frederick Benjamin Erasmus (22) Woensdag in die landdroshof in Groblersdal waar hy borgtog toegestaan is. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Erasmus het verder in sy verklaring gesê hy is ʼn Suid-Afrikaanse burger en dat sy paspoort verval het. Hy is getroud, het ʼn nege maande oue baba en is die gesin se broodwinner.

Erasmus het onderneem om nie met die ondersoek of enige getuies in te meng of hulle te intimideer nie. Hy het ook geen vorige veroordelings of enige hangende sake teen hom nie.

“Dit sal in die belang van reg en geregtigheid wees om my op borgtog vry te laat,” voer Erasmus aan.

Die staat het nie Erasmus se borgtogaansoek teengestaan nie. Sers. Johannes Phetla, ondersoekbeampte in die saak, het getuig dat Erasmus hom nie tydens sy inhegtenisneming teëgesit het nie en sy samewerking met die ondersoek gegee het.

Op ʼn vraag van die hof het Phetla getuig die broers en Gokova “was besig met betreding op die plaas”.

“Eintlik … hulle het deur die draad gekom en wou deur die plaas gaan. Hulle was op die plaas wat behoort aan die applikant [Erasmus] se pa,” het Phetla getuig.

Hy het verder getuig: “Die applikant [Erasmus] en sy pa was in ʼn bakkie, hulle het gery om na beeste te gaan kyk op die plaas toe hulle drie onbekende mans daar sien. Hulle het na die mans gery, in die bakkie, om hulle te vra wat hulle daar maak.”

Die mans het toe gevlug, die hoë bosse in.

“Die applikant [Erasmus] het toe uitgeklim om te kyk waar hulle wegkruip en dit blyk een van die slagoffers het uitgekom en hom begin dreig.”

Volgens Phetla het Erasmus omgedraai en sy vrou se vuurwapen uit die bakkie gaan haal. “Hy het ʼn skoot na die klaer se voete geskiet.”

Phetla het ook getuig dié betrokke klaer – hy het nie genoem of dit een van die broers of Gokova is nie – is toe moontlik gewond. “Dit is onseker of hy raakgeskiet is en of hy op ʼn ander wyse beseer is. Ek kon nog nie die mediese verslag bekom nie,” het Phetla op ʼn vraag van die hof getuig.

Luidens ʼn aanvanklike polisieverklaring van brig. Hlulani Mashaba sou Erasmus glo verskeie skote op die drie mans afgevuur het.

Volgens Phetla sal ʼn mediese verslag nou bepaal hoe die man beseer is. Hy word nog in ʼn hospitaal behandel.

Die hof het borgtog van R4 000 aan Erasmus toegestaan.

Die saak is tot Januarie uitgestel vir verdere ondersoek, wat die afneem van getuieverslae, die mediese verslag en ballistiese toetse behels.

Moedeloos met betreding

eramsus-roossenekal

James Language, veiligheidvoorsitter van die TLU Oos-streek (voor in die blou hemp), het saam met nog ondersteuners by die landdroshof op Groblersdal opgedaag in solidariteit met Frederick Benjamin Erasmus wat onder meer van poging tot moord aangekla word. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media).

James Language, veiligheidsvoorsitter van TLU se Oos-streek, het buite die hof sy misnoeë met die saak te kenne gegee. Hy is ook ʼn boer op Roossenekal.

“Betreding is die voorloper van groter misdaad en word te maklik deur die wetstoepassers as niks afgemaak nie,” sê hy.

Volgens hom is dit die betreders op die plaas wat as spioene optree vir sindikate wat hulle toespits op die steel van hout, vee en wild.

Johan Holtzhausen, nog ʼn boer van Roossenekal, het dit beaam en sê sindikate in die omgewing kos boere duisende rande.

“Ons moet veiligheidsmaatskappye aanstel teen astronomiese bedrae wat ons eerder in ons boerderye kon benut.

“Tot die howe nie besef waarteen ons baklei nie, gaan ons aanhou sukkel,” sê hy.

Volgens Language en Holtzhausen is daar ʼn verdere wanopvatting dat veediewe steel omdat hulle honger is.

“Nee, dit is nie meer so nie. Dis ʼn sakeonderneming. Hier is plase waar die sindikate tot 48 vragte hout per dag steel. En die houtdiewe wat die drade knip, maak weer plek vir die veediewe om in te kom,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Miskruier ·

100% waar, ek n 100km verder het dieselfde probleme. My omheining word opgeknip om die bondels hout vas te bind. Dis nie meer vroue wat hout op die kop uitdra nie maar jong mans wat heinings vernietig om reuse bondels op drapale uit te dra.

Michael ·

Die man het niemand geskiet anders sou hulle skietwonde gehad het .Hy moes onmidelik ‘n saak al is dit net vir rekord gemaak het.Hy het net een fout gemaak die wet sê jy mag net skiet wanneer jou lewe in onmidelike gevaar is.

Wondermaarnet ·

Die polisie sal mos hul mense beskerm en eerder die witman aankla. Ek hoop die saak word uitgegooi.

ES ·

Ek is seker die klag dat hy hulle die k-woord tegesnou het is ook onwaar. Boere is die grootste slagoffers van moord en geweld omdat hulle meestal ver gelee is van enige sekuriteit of polisie.

Die feit dat hy sy samewerking gegee het is ‘n baie goeie ding – veral omdat die ondersoek beampte (wat vir die staat getuig) dit bevestig het. Dit wys hy is nie skuldig van enige misdryf nie – die twee mans het privaat eiendom betree waar hulle in die eerste plek nie hoort nie!

SjN ·

Gewoonlikik het hul nie voertuie op uit te kom na n toneel nie, maar as daar kleur betrokke is, geskied optrede onmiddelik. Sterkte aan die man.

John ·

Sterk te aan Meneer Erasmus en hoop die waarheid kom uit…..Hy het net gedoen wat al die oorlede boere moes gedoen het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.