1 dood, 1 beseer ná skietery by winkelsentrum

Cresta-winkelsentrum (Foto: chuckv.co.za)

ʼn Verdagte is doodgeskiet en ʼn sekuriteitswag ernstig beseer toe daar Dinsdag ʼn skietery by die Cresta-winkelsentrum in Johannesburg uitgebreek het.

Die polisie het hulle Dinsdagmiddag na die winkelsentrum gehaas nadat hulle in kennis gestel is van ʼn rooftog by ʼn winkel wat elektroniese toebehore verkoop, sê brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder. ʼn Groep mans het na bewering die winkel binnegekom en verskeie elektroniese toestelle gesteel. Terwyl hulle gevlug het, het hulle verskeie skote in die lug afgevuur.

Een van die skote het ʼn sekuriteitswag in sy 30’s getref. Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is die man in sy bobeen geskiet en was hy in ʼn ernstige toestand toe die paramedici by die winkelsentrum aankom.

Foto: ER24

“Die man is op die toneel behandel en met ʼn ambulans na die naaste hospitaal gehaas,” sê Meiring.

Volgens Peters het die rowers weggejaag van die toneel, maar is hul Nissan NP200 deur die polisie se teen-bende-eenheid op die snelweg opgemerk. “ʼn Skietery het tussen die polisie en die rowers uitgebreek en een van die verdagtes is dood verklaar op die toneel.”

Peters sê een ander verdagte is gearresteer, maar die laaste verdagte het dit reggekry om die polisie te ontglip. “Die derde verdagte is steeds voortvlugtend maar die polisie is warm op sy spoor,” sê Peters.

Die polisie soek ook na ʼn tweede voertuig, ʼn wit Volkswagen Polo, wat in die rigting van Primville verdwyn het.

ʼn Vuurwapen is in die Nissan-voertuig gekry en sal ballisties getoets word om te bepaal of dit ook met ander misdade verbind kan word.

Meiring sê drie van die winkel se personeellede is ook medies ondersoek nadat hulle glo deur die rowers aangerand is.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

emily ·

Kersfees kom nader Misdaad neem toe, Hopelik sal die nie korrupte polisie lede hulle oral sigbaar maak.
Blameer ons slapgat regering, Misdadigers het mos meer regte as ons.

PG ·

Ek het nog min boodskappe gelees en daar kom net altyd n verdagte weg – altyd !!!

Lee ·

Ek stem saam met jou PG. Altyd een wat wegkom. Ons Polisie doen nie meer fuksheid soos voorheen nie. As ek na party van hulle kyk weet ek nie hoe hulle in die uniform pas nie. Dis tyd hulle bietjie ge-streamline word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.