112 operasies later: ‘Ek het vrede gemaak’

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Mari Jansen van Vuuren (38) het al 112 operasies ondergaan. (Foto: Verskaf)

Nadat Mari Jansen van Vuuren (38) as negejarige dogtertjie in ernstige motorongeluk in Mbombela (Nelspruit) betrokke was, moes sy van vooraf leer kruip voor sy weer kon loop.

Nou, 28 jaar later, het sy al 112 operasies ondergaan en wag sy moedeloos op ʼn volgende een wat soos ʼn berg voor haar lê.

Jansen van Vuuren se ma en die rots in haar lewe, Daleen (56), is boonop twee jaar gelede aan ʼn hartaanval dood. Vir Jansen van Vuuren was dit ʼn groot emosionele terugslag.

“Daardie vrou was deur alles aan my sy,” het Jansen van Vuuren vandeesweek hartseer aan Maroela Media gesê.

‘Nog só klein’

Die ongeluk is destyds veroorsaak toe ʼn voertuig in die kombi waarin Jansen van Vuuren ʼn passasier was, vasgeploeg het. Jansen van Vuuren en die ander insittendes was van ʼn kerkfunksie op pad huis toe, toe die ongeluk tussen Mbombela en Witrivier plaasgevind het

Die betrokke motoris was onder die invloed van drank en het oor ʼn rooi lig gejaag toe hy die kombi getref het. Jansen van Vuuren is uit die voertuig geslinger en is so ernstig beseer dat sy vir drie en ʼn half maande in ʼn koma was.

Mari Jansen van Vuuren as kind in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Ten tyde van die ongeluk – wat op 28 Januarie 1994 plaasgevind het – was sy maar net twee weke lank in gr. 4.

“Toe ek wakker word, was ek so kwaad. Ek kon nie verstaan waarom dit met my gebeur het nie, ek was nog so klein.”

Sy het verskeie ernstige beserings opgedoen, onder meer  ʼn gebreekte bobeen en pelvis. Sy het ook beserings aan haar buik opgedoen, met haar niere en blaas wat die ergste beskadig is. Die grootste gedeelte van haar regterboud is in die ongeluk afgeskeur en Jansen van Vuuren se geslagsdeel en -organe is uitgeruk nadat haar lies in die ongeluk oopgeskeur is.

Sy was ʼn jaar en agt maande in die hospitaal, waarvan sy vir sewe maande in die Muelmed-hospitaal in Pretoria behandel is. Sy voer sedertdien ʼn stryd met haar gesondheid en moes skool in gr. 9 (st. 7) verlaat.

Sy moet gereeld rus omdat sy nie lank op haar voete kan staan nie en haar liggaam baie gou moeg word.

“Dit is alles permanente beserings. Tot vandag toe moet ek ’n suprapubiese kateter en ’n kolostomiesak dra. Ek het sowat 31% funksie in my regternier en 62% in my linkernier. Ek is medies ongeskik verklaar.”

Jansen van Vuuren se een been is ook 1,2 cm korter as die ander.

“Ek het al 112 operasies ondergaan – onder meer rekonstruktiewe chirurgie aan my buik, wat my maag, niere en blaas insluit. Ek moes ook veloorplantings aan my boud ondergaan en my blindederm is gebruik om ʼn kanaal na my blaas te skep vir die suprapubiese kateter.”

Dít is juis dié kateter wat nou probleme veroorsaak. ʼn Abses wat gevorm het, het al verskeie kere sedert Mei vanjaar gebars en lek in haar buik in. Dokters het aanbeveel dat Jansen van Vuuren dringend geopereer moet word, aangesien dié abses tot sepsis kan lei wat lewensgevaarlik kan wees.

Sy het egter nie die R140 000 wat sy voor die tyd vir die operasie moet betaal nie.

Lewenslange dekking, maar … 

Ná die ongeluk het Jansen van Vuuren lewenslange dekking deur die Padongelukkefonds (POF) ontvang. Oor die afgelope 28 jaar is al haar doktersbesoeke, hospitaalrekeninge en medikasie deur dié fonds betaal. Die meeste van Jansen van Vuuren se dokters is by die Pretoria-Oos-hospitaal en is al so vertroud met Jansen van Vuuren se ingewikkelde toestand dat sy dit nie kan of wil waag om na ʼn staatshospitaal te gaan nie.

Mari Jansen van Vuuren moes as negejarige dogtertjie van vooraf leer kruip voordat sy weer kon loop. (Foto: Verskaf)

Sy het destyds ook ʼn eenmalige bedrag van die POF ontvang, wat deur ʼn prokureur bestuur is omdat Jansen van Vuuren toe nog minderjarig was. Dié firma is egter destyds gelikwideer en Jansen van Vuuren het tot vandag toe omtrent nie ʼn sent van die R2,1 miljoen-uitbetaling gesien nie.

Hoewel haar ma destyds sommige rekeninge uit haar eie sak betaal en dit dan later by die POF teruggeëis het, het die fonds gewoonlik kwotasies vooraf goedgekeur en die rekeninge vooruitbetaal.

In Mei vanjaar het Jansen van Vuuren weer ʼn kwotasie aan die fonds vir die operasie gestuur wat sy nou moet ontvang, maar die fonds het haar per e-pos ingelig dat hy nie meer betalings vooruit doen nie. Jansen van Vuuren moet dus self die R140 000 betaal wat sy dan ná die tyd kan terugeis.

“Nou sit ek met ʼn probleem. Ek het hierdie operasie dringend nodig, maar ek het nie soveel geld om te betaal en dan later terug te eis nie. Ek verstaan ook dat die hospitaal dit nie kan goedkeur indien hulle nie voorafbetaling ontvang nie.”

Die R1 900 wat Jansen van Vuuren elke maand van haar ongeskiktheidspensioenfonds ontvang, is egter nie naastenby genoeg om dié bedrag voor te skiet nie.

Sy verdien boonop geen ander inkomste nie. Jansen van Vuuren wou al verskeie kere haar eie klein sakeonderneming begin – soos om op T-hemde te druk – maar kry nie genoeg inkomste om in so iets te belê nie. Die R1 900-toelaag wat sy ontvang, moet al haar maandelikse uitgawes dek.

Mari Jansen van Vuuren en haar broer, Nick, as kinders. (Foto: Verskaf)

Haar vriendin, Celest Breytenbach, ondersteun haar egter baie, asook haar broer, Nick, met wie sy ʼn baie hegte verhouding het. Hulle ry haar rond en Breytenbach help haar onder meer met ander daaglikse aktiwiteite, soos om te bad. Dit is juis Nick wat onlangs ʼn BackaBuddy-fondsinsamelingsinisiatief begin het met die hoop om genoeg geld in te samel om sy suster te help. 

Vrede gemaak

Ondanks die vele uitdagings wat Janse van Vuuren in die gesig staar, bly sy positief.

“Ek was al baie kere in sak en as, maar ek het ʼn paar jaar gelede ʼn kopskuif gemaak. Ek het vrede gemaak met dit wat met my gebeur het; met wie ek is en hoe ek leef.

“Dit kon soveel erger gewees. Ek is dankbaar dat ek leef en vir wat ek het. My broer sê altyd my ‘lewe het ʼn doel’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KatjieDeKat ·

Baie sterk vrou hierdie, WOW! Groot respek aan jou, Mari.

Nico ·

Wat het met die dronk bestuurder geword, seker onskuldig gepleit, nou kom die padogelukkefonds met die verskonings. Sou dit ‘n anderskleurige gewees het, sou die blanke wat die oorsaak van die ongeluk lankal toe gesluit gewees het. Betaal so baie vir die padongelukkefonds vir elke liter brandstof wat in gegooi word, die prokureurs het ‘n vet aandeel.

Ronél ·

Mag ons almal wat hierdie artikel lees, dankbaar wees, in alle omstandighede. Seën en guns op jou pad Mari.

Delia ·

Ek voel ook so. Kla soms omdat my spiertjies bietjie styf is as ek opstaan. Nie weer nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.