12-jarige sterf: ‘Ek dank die Here hy het nie pyn gehad’

Cyle Welgemoed en sy beste vriend, Janco. Foto: Verskaf

Niks kon ʼn groter glimlag op Cyle Welgemoed se gesig sit as wanneer hy kon gaan motorfiets ry nie, vertel sy ma, Lynette.

Dít was haar 12-jarige seun se grootste passie en gunstelingtydverdryf. Maar Sondag het dié vreugde in ʼn tragedie ontaard – Cyle het in ʼn motorfietsongeluk op die gesin se tuisdorp, Despatch in die Oos-Kaap, gesterf.

“Cyle en sy vriend Janco het Sondag oudergewoonte in die bos naby ons huis gaan motorfiets ry. Die twee was soos boeties, hulle was altyd by mekaar. Jy kon hulle nie skei nie,” vertel Lynette. “Ons het net Vrydag vir Cyle sy nuwe motorfiets gekoop. Die twee het gaan ry, teruggekom huis toe om te kom eet en was daarna weer uit op die motorfietse.”

Lynette vertel sy het op die bank gesit toe sy skielik ʼn harde slag gehoor het. Sy het opgespring en na buite gehardloop. “Ek het yskoud geraak. Ek het dadelik geweet iets is fout.”

Janco het uit die bos gery gekom. “Tannie, kom help! Cyle het deur ʼn muur gery.”

Lynette se man het dadelik in die motor gespring en na die nabygeleë parkie gejaag  waar die ongeluk gebeur het. Lynette het intussen die nooddienste gebel, asook ʼn familievriend om te kom help. Sy het toe nog nie geweet hoe ernstig Cyle se beserings was nie.

Kort daarna het haar man teruggekeer. “My vrou, kom. Hy gaan dit nie maak nie,” het hy gesê. “Ek het daar gekom en vir Cyle by die muur sien lê. Ek het hom geroep, ‘Seun, antwoord mamma asseblief.’ Hy het nie reageer nie. Hy was toe reeds dood. Die nadoodse ondersoek het later gewys hy is op slag dood. Hy het sy nek gebreek.”

Lynette sê dit bring vir haar ʼn mate van berusting dat haar kind nie gely het nie. “Ek kan net vir die Here dankie sê hy het nie pyn gehad nie.”

Sy is verpletter oor haar seun se dood, sê Lynette, maar sy sou niks anders gedoen het nie. “Cyle was mal oor motorfietsry. Niks kon ʼn groter glimlag op sy gesig sit nie. Dit was sy lewe. Ons was altyd so versigtig as wat ons kon wees. Hy het geweet hy mag nêrens heen ry sonder ʼn valhelm nie. Hy is nie eers toegelaat om die motorfiets van die oprit af in die motorhuis in te trek sonder ʼn valhelm nie. Ons was absoluut so versigtig en veiligheidsbewus as wat ons kon wees.”

Cyle Welgemoed. Foto: Verskaf

Wat presies tot Sondagmiddag se ongeluk gelei het, is nog onseker. “Dit was regtig ʼn fratsongeluk. Janco het vir ons vertel hulle het baie stadig gery en die volgende oomblik het Cyle se motorfiets net versnel en hy het begin wobble. En toe is hy oor so ʼn heuweltjie-ding en in die muur in,” sê Lynette. “Ons weet nie wat fout gegaan het nie, maar dit vorm deel van die ondersoek.”

Cyle was ʼn gr. 5-leerder in Laerskool Frans Conradie. Lynette het ook ʼn sewejarige dogter, terwyl haar man ʼn ouer dogter het wat in Johannesburg bly.

Lynette het nie antwoorde oor hoe ʼn ouer deur so iets moet kom, hoe ʼn mens dié verlies verwerk nie. “Ek weet nie. Ek sit partykeer so en dan dink ek my kind gaan nou by die deur instap. Ek sien vir Janco met sy fiets aangery kom, dan wag ek dat Cyle agter hom ook om die draai kom. Dan kom hy net nie om die draai nie…”

So groot as wat haar hartseer is, so mooi is die herinneringe aan haar “vreugdekind”. “Hy het altyd geglimlag, altyd gelag. Hy was mal oor visvang en was net ʼn vry kind. Nie baie lief vir leer nie, maar mal oor skool toe gaan! Seker vir die maatjies. Soos een van die kinders in sy skool in ʼn briefie geskryf het, selfs al sou Cyle by die skool seerkry, sal hy nog steeds lag. Niks kon sy gees blus nie.”

ʼn Gedenkdiens sal Saterdag vir Cyle in die DRC-kerk in Despatch gehou word. ʼn Motorfietskavalkade sal vooraf deel van die stoet na die kerk vorm. Cyle sal veras word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Leser ·

Sjoe ja, ek sluk self bitter swaar aan die knop in die keel. Ek het nie woorde vir hierde ouers nie…Mag die Here julle vashou in hierdie tyd.

Lyndall ·

My hart breek vir julle “(xxx Mag die Here jou troos in hierdie tyd.

chantel ·

ai mamma my hart is so seer vir julle.
Dink nie dis ‘n seer wat ooit weg gaan nie maar dalk beter raak met tyd en mens kan nooit se hoelank dit gaan vat nie. Ek kan myself nie indink hoe jul moet voel nie, maar weet dat ek aan jul dink.
Baie sterkte

Genieve ·

Knop in my keel…sterkte aan die ouers en sy beste vriend gaan vir hom netso groot vermisting wees.

Liesl ·

My hart raak sommer baie seer! Sterkte met seker een van die grootste verlies wat daar kan wees. Daar`s ‘n spreekwoord wat se ‘n kind begrawe sy ouer, nie anders om. My hart gaan uit na julle toe. Mag ons Vader vir jul net vertroosting bring.

Ilze ·

Sjoe ek is ene hoendervleis en wil huil vir julle part. Sterkte met die seer ?

Gesiggie ·

Ai hoe hartseer! Baie sterkte mamma en pappa mag die Hemelse Vader julle vertroos in hierdie baie hartseer tyd.

Marinda ·

Ai dis so bitter hartseer. Was daar nie ‘n fout met die motorfiets gewees nie, aangesien dit ‘n nuwe motorfiets was. Gaan daar ondersoek na die motorfiets gedoen word om vas te stel of daar nie ‘n probleem was nie. Sterkte aan die ouers

Chris Venter ·

Baie sterkte aan die familie, mag God julle troos in hierdie tyd.

Gesiggie ·

Aan hierdie Mamma en Pappa… wat soveel seer het, Jesus het sy Engel kind kom haal… ons sal nie verstaan hoekom, maar Hy weet beter, my Innige meegvoel aan jul om n kind te verloor is die grooste seer, en niemand sal ooit daai leemte kan vul. Rus sag by Jesus Cyle… jou glimlag sal altyd deel wees van almal se lewe. Sterkte aan elkeen wat deel was van sy lewe.

Jocelyn ·

Ek voel hoe my hart breek soos ek jou storie lees. Ek is diep seer vir jou as familie vir jou groot verlies. Bid dat die Here jou en gesin deur hierdie swaar tyd dra.

Nettie ·

My hart breek vir dié ouers – sterkte aan die gesin, vriende en familie!!!

As kinders, het ons net so lekker gebaljaar op “veld bikes” – eendag het die petrolkabel van een van die motorfietse waarop my neef, nou ook al oorlede (wreed vermoor!), vasgehaak en het hy dwarsdeur ‘n yslike “bramble” bos gery, met die pynlike gevolge. En dit was in die dae voor valhelms ‘n verpligting was. So ‘n ongeluk gebeur só gou. Ek hoop die ouers, vriende en familielede vind vertroosting in die feit dat Cyle gesterf het terwyl hy iets gedoen het waarvan hy baie gehou het en dat hy nie onnodig gely het nie. Weer eens, baie sterkte!!!!!!!!

Ook 'n Mamma ·

Sjoe!! My trane sit vlak! Ons oudste seun is ook 12 en net so lief vir veld motorfiets ry!! Julle seun laat my so dink aan ons seun (net met blonde haartjies). As ouers doen mens alles wat mens kan vir hulle veiligheid maar op die ou einde is dit nie in ons hande nie. Baie baie sterkte vir julle!! :-(

Joe ·

Ekt op 12 begin ry, en het die vryheid gehad, dié was n ongeluk, net soos wat kinders en adults al dood is terwyl hulle rugby, krieket, hokkie speel. Motorfiets ry soos hy, is n sport.

Cindy ·

Ai toggie dus n bittere swaarpilletjie om te sluk. Ek het geen woorde nie. Geen woorde sal die pyn en verlange beter maak nie. Troos jou daaraan Cyle het gedoen wat hy geniet het. En ek is seker hy wou julle nie deur die pyn sit nie. Ongelukkig het die Here hom so nodig gehad vir sy duties. Ek glo en vertrou God sal julle krag gee. Dink net aan my 3 seuns. Ek wil nooit ooit deur die seer gaan nie. En wens dit vir niemand toe nie. Hy glimlag van bo af… En geniet sy motorfiets terdee. Sterkte Clinton en Lynette xxx oumie oupie, tannie en oom

Juanita ·

Dis hartverskeurend. Dink aan julle. Daar is net nie woorde nie.

Gerda ·

Baie sterkte aan die familie. My seun is op 29 Junie oorlede op sy motorfiets, Ook op slag. Nek gebreek. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

Ansie ·

Ek bid dat ons Vader julle styf in sy hand sal hou in hierdie moeilike tyd. Rus in vrede ‘vreugdekind’

Grys ·

Nou al die tweede voorval waar ek hoor van n KTM wat net versnel, daar was ook n ander kind dood was in Dirt and trail magazine as ek dit nie mis het nie… jammer om te hoor wonder of

Diefie ·

Mag die Vader julle saggies en teer in Sy hand van vertroosing hou.

Abe ·

Maroela,
Dankie vir ‘n mooi en volledige berig. Sterkte aan die gesin.

Willie ·

Trane in my oe… ek het self op motorfietse groot geword…

Tessa ·

Ek dra jullebin my hart. Geen ouer behoort hierdie pyn te ervaar nie. Ek het self 3 kinders wie nou al grootmense is en selfs vandag besef ek hulle word net n rukkie aan ons geleen. Die herrineringe sal vir ewig bly julle twee ouers sal mekaar troos en Cyle se sussie. Bid is al wat julle kan doen vir krag om elke dag stukkie vir stukkie te neem. Ons weet nie al die waaroms en hoekoms . Daar is baie mense wie julle in gebed sal hou

Tessa ·

Ek dra julle in my hart. Geen ouer behoort hierdie pyn te ervaar nie. Ek het self 3 kinders wie nou al grootmense is en selfs vandag besef ek hulle word net n rukkie aan ons geleen. Die herrineringe sal vir ewig bly julle twee ouers sal mekaar troos en Cyle se sussie. Bid is al wat julle kan doen vir krag om elke dag stukkie vir stukkie te neem. Ons weet nie al die waaroms en hoekoms . Daar is baie mense wie julle in gebed sal hou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.