17 haaikarkasse naby Gansbaai gekry

Die haaie het vandeesweek uitgespoel. (Foto: Marine Dynamics/Facebook)

Altesaam 17 haaikarkasse is vandeesweek by Pearly Beach naby Gansbaai in die Wes-Kaap aangetref, nadat hulle dae gelede deur twee orkas (moordvisse) gedood is.

Die twee orkas, genaamd Port en Starboard, is nie vreemdelinge aan die Suid-Afrikaanse kus nie en is berug vir verskeie aanvalle wat hulle deur die jare op haaie geloods het.

Ralph Watson, ʼn haaiwetenskaplike verbonde aan die Marine Dynamics-akademie, sê hy en ʼn span wetenskaplikes het Sondag die twee orkas aan die kus van Gansbaai opgemerk.

“Ons het gesien hoe die orkas herhaaldelik in ʼn klein area in die water afduik,” sê hy.

“Dit het vir byna twee uur aangegaan voordat die orkas die gebied verlaat het.”

Die span van Marine Dynamics is Dinsdag na Pearly Beach ontbied nadat 11 haaikarkasse op die strand uitgespoel het. Die haaie is geïdentifiseer as platneus-sewekiefhaaie en van die strand verwyder.

Watson, tesame met nog ʼn kenner, Alison Towner, het die nadoodse ondersoeke op die haaie gedoen en bevind dat elkeen se lewer afwesig is.

Die orka-paar wat verantwoordelik is vir die aanvalle. (Foto: Marine Dynamics/Facebook)

Maroela Media het met vorige orka-aanvalle berig dat hulle net haaie se lewers teiken omdat dit vol van ʼn ryk olie is. Wanneer haaie robbe eet, vervaardig hul liggame die ryk olie wat in die lewer gestoor word. Hierdie olie is al waarna orkas op soek is.

“Die haaie is almal wyfies van tussen 1,6 m en 2,3 m lank. Hulle het ook soortgelyke beserings opgedoen as haaie wat in Valsbaai deur dieselfde orka-paar gedood is.”

Donderdag het Watson en sy span nóg haaikarkasse in dieselfde gebied aangetref, wat beteken in totaal het 17 platneus-sewekiefhaaie uitgespoel.

ʼn Tweede nadoodse ondersoek word vir Vrydag beplan om te bepaal of die bykomende haaie ook deur die twee orkas gedood is. Die wetenskaplikes is egter op die oog af oortuig dat dié haaie ook deur die orkas aangeval is.

“Dit sal dan die grootste getal haaie wees wat hierdie spesifieke orka-paar op een slag in hierdie gebied gedood het,” sê Towner.

“Daar kan boonop nog meer haaie wees wat bloot net nie uitgespoel het nie.”

Towner lei al sedert 2015 die navorsing oor orka-aanvalle op haaie in Gansbaai. Die navorsing word deur verskeie orka- en haaiwetenskaplikes voortgesit.

Die betrokke orkas het vermoedelik lank reeds uit Gansbaai vertrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Cherokee ·

Jagters wat somtyds die prooi is.
Die natuur is rof maar pragtig, Ronel.

Nettie ·

Dit was geweldig interessant om te lees. Hartseer vir die haaie, hoewel ek geen voorliefde vir hulle het nie. Ek wonder hoe byt die Orca’s net die lewer uit? Die berig stel dit amper asof dit chirurgies “verwyder” is.

En hoe weet Orca’s dis waar die lewer sit? Leer die mammas hulle kleintjies om dit so in die hande te kry? Is dit slegs ‘n lekkerny, of het die Orca’s dit spesifiek ook nodig in hulle dieet, en in sulke groot hoeveelhede?

Val hulle die haaie aan direk na die haaie weer op hul beurt die olie ingeneem het, of neem die Orca’s net aan die haaie se lewers sal die olie bevat?

Cherokee ·

Nettie, ons gaan Maan toe en Mars toe, maar het nie antwoorde vir sulke alledaagshede.

Jaco ·

Dit is beslis ‘n interessante vraag oor hoe Orca’s so presies weet waar om die lewer van ‘n haaie aan te val. Die Orca’s is baie intelligente diere en hulle het waarskynlik ‘n baie goed ontwikkelde kennis van die anatomie van haaie en ander diere wat hulle jag. Dit kan moontlik wees dat hulle die lewer van die haaie as ‘n baie belangrike bron van voeding erken, en dit is moontlik dat hulle dit geleer het deur middel van ‘n kombinasie van instinktiewe jagvaardighede en geleidelike aanleer. – ChatGPT

Marisa W ·

Dis is net weer ‘n teken van die wonderlike balans in die natuur wat ons moet beskerm, maar nie inmeng nie

Helene ·

Ek het n vreeslike respek vr haaie, en hou baie van hulle. Dis so hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.