17 reeds die naweek op Wes-Kaapse paaie dood

Die ongelukstoneel waar 12 mense Saterdagoggend (15 Desember 2018) gesterf het. Foto: Verskaf

Die langnaweek het op ʼn donker noot in die Wes-Kaap begin met altesaam 17 mense wat reeds op paaie in dié provinsie gesterf het.

Owerhede vrees dié dodetal kan nog styg, veral aangesien die Wes-Kaap ʼn gewilde bestemming vir die Desembervakansie is.

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, sê vier voetgangers is sedert gisteraand in verskillende voorvalle dood in onderskeidelik Milnerton, die Paarl, Eersterivier en Khayelitsha. Daarby het nog ʼn motoris Vrydagaand in Milnerton gesterf toe hy beheer oor sy voertuig verloor het en in ʼn ongeluk betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig nog 12 mense het gesterf toe ʼn minibustaxi vanoggend net ná 03:00 op die N1 tussen Touwsrivier en De Doorns teen ʼn betonpilaar gebots het. Drie van dié oorledenes was kinders.

“Ons het reeds etlike padblokkades die naweek gehou. Altesaam 2 256 voertuie is voorgekeer en 1 195 bestuurders se bloedalkoholvlakke is getoets. Daar was ses bestuurders wat vir dronkbestuur in hegtenis geneem is. Die hoogste lesing was 0,73 mg/1 000 ml, wat drie keer oor die wetlike perk is. Dit was in Vredendal,” sê Africa.

Volgens Africa is boetes ter waarde van altesaam R401 950 by die padblokkades uitgereik. ʼn Hele paar jaagduiwels is ook aangekla. “Die hoogste spoed wat tot dusver in die Wes-Kaap gemeet is die naweek, was 157 km/h in ʼn 120 km/h-sone in Brackenfell. Nog ʼn motoris is in Oudtshoorn vasgetrek wat 133 km/h in ʼn 100 km/h-sone gejaag het, asook ʼn motoris in Knysna wat 77 km/h in ʼn 60 km/h-sone gery het,” sê hy.

“Ons wil weer ʼn ernstige beroep op motoriste doen om nie hul reis verder aan te pak wanneer hulle moeg is nie. Trek eerder af en rus. Dit is nie die moeite werd om moeg agter die stuur te wees nie.”

African News Agency berig die ANC in die Wes-Kaap het intussen met skok gereageer oor die talle sterftes wat reeds op paaie in die provinsie plaasgevind het en het padgebruikers gevra om meer geduldig en verdraagsaam te wees.

“Dit is ʼn skokkende begin vir die feestyd en ons het met hartseer van hierdie padsterftes verneem. Ons doen ʼn beroep op padgebruikers om hul eie en ander se veiligheid die eerste prioriteit te maak,” het die party in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andrea ·

Iemand het my attent gemaak daarop en mens sien dit beslis. Dalk maar toevallig omdat beide daagliks gebeur!

Die waarheid ·

Dit is hoe mense van n land waar hulle daagliks gebrein spoel word en steeds swaarkry hulle frustrasies op die pad uit haal. Ek glo die swart bevolking is al net so frustreerd soos ons net om die teenoorgestelde redes en daarom al hierdie pad ongelukke. Ek neem maar aan die meeste is swart mense want daar is tien keer meer van hulle op die paaie as wit mense.

Johan ·

Nee dis van Riebeeck se skuld. Moes nooit beskawing na hierdie helhool bring nie!

kolla ·

Teen watter spoed moet jy ry om iemand wat 120kp/h ry op ‘n nasionale pad verby te steek? Ek is oortuig dat 150/160km/h gereeld bereik word.

Pietsepan ·

Is daar dan betonpilare in die Wes-Kaap wat voor motors kan inhardloop? Die taxibedryf se eienaars moet grootliks die blaam dra vir die baie taxiongelukke. Daar is nog baie ander redes vir die warboel wat op ons paaie heers maar die verhouding van taxi verwante ongelukke wys watter onbevoegdheid onder hulle heers. Onthou dat dit baie moeilik vir ‘n bestuurder, wat ‘n stadige voertuig wil verbysteek, is om die spoed van ‘n aankomende voertuig te skat wat te vinnig ry. Dit is die grootste gevaar van te vinnig ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.