200 SA’ners is plesierig in Kanada

Só is daar verlede jaar by Spencer Smith Park in Burlington gekuier. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaners in die Kanadese provinsie Ontario is ’n sprekende voorbeeld daarvan dat ’n Suid-Afrikaner dalk die land kan verlaat, maar dat Suid-Afrika nooit sy mense sal verlaat nie.

Sowat 200 Suid-Afrikaners sal later vandeesmaand in die Kanadese stad Burlington bymekaarkom om saam in die vreemde uit te span en te doen wat Suid-Afrikaners maar alte goed doen: eet en kuier.

Dié Suid-Afrikaanse geselligheid in Kanada het ’n paar jaar gelede danksy die Suid-Afrikaner Jaco Scholtz tot stand gekom, nadat hy aanvanklik ’n klein groep Suid-Afrikaners oorgenooi het vir ’n potjiekoskuier by sy nuwe tuiste in die vreemde.

Scholtz het in Desember 2018 saam met sy vrou, Chrizel, en seuntjie – toe vier jaar oud – na Kanada verhuis. Die gesin van Boksburg aan die Oos-Rand het destyds nes menige Suid-Afrikaner besluit om hulle in ’n ander land te vestig sodat hulle ’n beter toekoms vir hul kinders kon bied.

Jaco Scholtz (Foto: Verskaf)

Jaco en Chrizel het destyds maar ’n week voor die trek die nuus ontvang dat hulle nóg ’n kleinding ryker gaan word.

“Ons het eers in ’n klein dorpie met die naam van Chatham gewoon en ná ons eerste jaar Burlington toe getrek. Ons het ’n potjie by ons nuwe huis gehou en ek het ’n WhatsApp-groep begin met al die Suid-Afrikaanse manne in die omgewing om die potjie te bespreek.

“Ná die kuier het ek besluit om die WhatsApp-groep aan die gang te hou en die naam te verander na ‘Manne medi Planne’ en so voeg ons toe net meer en meer mans by. Die groep is om ’n lekker netwerk te vestig en nuwe manne te verwelkom.”

Die groep – wat aanvanklik net sewe lede gehad het – het nou al byna 80 lede.

En só het ’n jaarlikse kuier in Spencer Smith Park aan die oewer van die Ontario-meer in Burlington verlede September ontstaan. “Die manne op die groep het almal gedink dis ’n bakgat plan en dit was ’n groot sukses met ongeveer 150 Suid-Afrikaners wat dit verlede jaar bygewoon het.”

Só is daar verlede jaar by Spencer Smith Park in Burlington gekuier. (Foto: Verskaf)

Scholtz verduidelik dat die Spencer Smith Park weens sy grootte en ligging die perfekte plek is om te kuier. Daar mag egter tot die Suid-Afrikaners se spyt nie in die park gebraai word nie.

Suid-Afrikaners in Kanada kan egter vanjaar weer ’n lekker piekniekmandjie pak en op 17 September saamkuier.

Elke Suid-Afrikaner by dié kuier ontvang met hul aankoms ’n plakker met sy of haar naam, waar hulle vandaan kom, die jaar waartydens hulle na Kanada verhuis het en hoeveel kinders hulle het, “om die ongemaklike vrae” aan die begin te verhoed.

Jaco en Chrizel Scholtz se seuntjie, Chris-Jaco, het verlede jaar naamplakkers uitgedeel, (Foto: Verskaf)

“Die kinders speel dan almal lekker saam in die massiewe park. Daar word ook so ’n bietjie krieket en rugby tussendeur gespeel en baie geklets,” verduidelik Scholtz oor die jaarlikse kuier in die vreemde.

“Die geselsies gaan gewoonlik oor mekaar se agtergrond, waar jy bly, en só kom mens gou-gou agter hoe klein die wêreld is.”

Scholtz het self vier Suid-Afrikaners wat saam met hom op hoërskool (Hoërskool Oosterlig in Boksburg) was by dié kuier in Burlington raakgeloop.

Scholtz vertel dat hy gereeld na familie en vriende in Suid-Afrika en natuurlik die Suid-Afrikaanse humorsin verlang. “Veral as ek weer na die briljante Courier Guy-advertensie kyk,” skerts hy oor die advertensie wat Suid-Afrikaners die afgelope week aan die skater het.

“’n Mens sal altyd verlang na die goeie ou dae, maar Kanada bied ons soveel en ons maak elke dag nuwe herinneringe hier,” verduidelik Scholtz. “Met die gemeenskap wat so groot word, voel dit soms letterlik of mens nie eens weg is van jou kultuur of land nie. Jy kan nie eens meer skinder in Afrikaans in die winkels of op strand nie. Daar is al heelwat mense wat vir ons kom sê dis so lekker om mense te hoor Afrikaans praat.”

Dít is juis hoe Scholtz en sy vrou van hul beste vriende in Kanada ontmoet het.

“Die eerste jaar is die ergste en daarna raak dinge net beter. Só ’n kuier beteken die wêreld veral as jy ’n splinternuwe immigrant is, want dit wys jou jy is nie alleen nie en ons kan duisende kilometers ver van Suid-Afrika nog steeds ons kinders aan Afrikaans en ons tradisies blootstel.”

Die volgende kuier vind op 17 September in Spencer Smith Park in Burlington plaas. Vir meer inligting, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Eks bly vir julle. Ons het Australië oorweeg maar is bly ons het nie gegaan nie, met hul wetgewing is die plek effektief n buitelig tronk.

Treurwilger ·

Johan,
Te verstane dat die Covid- oorreaksie in Aus die indruk geskep het, maar só erg is dit nie. Eintlik is die polisie so tandeloos dat kriminele bedrywighede plek-plek taamlik erg raak vir ‘n sogenaamde ‘veilige’ land.

Republikein in die Wes Kaap ·

Bêre tog net daai lapvlag en Springbok trui. Julle is nou Kanadese met nuwe lojaliteite.

SjN ·

Knap gedaan, mag die tradisie voortgaan, net die biltong, beskuit, koeksisters en melktert het gekort saam met die verversings.

Wildemien ·

Ek wil net altyd weet – watse werk doen al die mense daar in die vreemde?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.