2019 algemene verkiesing: Só lyk SA se politieke landskap nou

Argieffoto: Phillip Bruwer

Suid-Afrika se sesde demokratiese algemene verkiesing sal in alle waarskynlikheid binne die volgende 12 maande plaasvind.

Maroela Media het met politieke ontleders gesels om uit te vind hoe lyk die plaaslike politieke landskap tans, en waar partye en kiesers nou met mekaar staan met dié algemene verkiesing wat binnekort op hande sal wees.

Prof. Theo Neethling, hoof van die Universiteit van die Vrystaat se departement politieke studies en regeerkunde, reken die brandpunte binne die partye nou is of die ANC se steunbasis tot onder 60% sal daal met ʼn toename van steun vir die DA en EFF, en of die ANC sy posisie sal kan handhaaf met die DA en die EFF se steunbasis wat albei hul plafonne bereik het.
Neethling wonder ook of die DA sy sterk vertonings in die metro’s kan voortsit in enkele provinsies of sal die DA se groeiende swart steunbasis maar tot die stedelike gebiede en metro’s beperk wees?

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Het die stof in die ANC gaan lê?

ʼn Mens sou dink dat die ANC ná sy leierskapkonferensie in Desember 2017 met pres. Cyril Ramaphosa aan die stuur van sake die party se uitdagings kan oorkom en ʼn nuwe rigting kan inslaan.

Prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê egter die konferensie het nie die sekerheid meegebring waarvoor aanvanklik gehoop is nie.

“Ons staan midde-in ʼn regimeverandering waar die Ramaphosa-groepering die Zuma-elemente in die groter stelsel verwyder en hiermee saam is die Zuma-groepering besig om terug te veg.

“Die ANC se steunbasis lê op die oomblik rondom 50% en sou die Zuma-groep mobiliseer en hul steun ten koste van die ANC gebruik, kan die party die komende verkiesing verloor.

“Kortom, Ramaphosa is tans nie heeltemal seker dat hy noodwendig die algemene verkiesing sal wen nie.”

Neethling sê die vraag is of die ANC onder Ramaphosa daarin kan slaag om sy steunbasis op te stoot of minstens te handhaaf noudat Zuma nie die party ten laste lê nie. Hy reken die party sal alles in sy vermoë doen om nasionaal nie onder 60% te sak nie.

“Die party kan dit regkry deur veral daardie ANC-ondersteuners te mobiliseer wat in die onlangse verlede in groot getalle weggebly het van die stembus.

“Aan die ander kant is die vraag of die aantygings van korrupsie en wanadministrasie teen die sekretaris-generaal, Ace Magashule, tot vervolging kan lei. As dit negatief vir Magashule gaan wees, kan dit ook negatief vir die ANC wees. Magashule sal immers ʼn sleutelfiguur in die ANC se verkiesingsveldtog wees en korrupsie gaan ʼn belangrike kwessie in die komende verkiesingsveldtogte wees.

Duvenhage sê die manier waarop Ramaphosa se ANC en ander steun mobiliseer, is vir hom soortgelyk aan die Zimbabwe-situasie ná pres. Robert Mugabe die referendum in 1999 verloor het en daar met die grondkwessie gewerk is om verder steun te probeer werf.

“Daar is geweldig baie emosie rakende die grondkwessie en die behoud van artikel 25 van die Grondwet. Boonop staan ons in ʼn onsekere omgewing met ʼn sosiale dinamika van rassespanning wat al hoe meer intensief en sensitief word.

“Dan is daar natuurlik die ekonomie – wat op die oomblik effens beter vooruitsigte het – maar in die algemeen onderpresteer ons en staatkundig sit ons met ʼn verswakking van die staat en strukture van die staat. Die situasie is onstuimig en onseker.”

Mmusi Maimane lei die anti-Zuma-betogers op 18 April 2017 in Polokwane, Limpopo Foto: DA, Twitter

DA het sy eie probleme

Net soos die ANC het die tweede grootste party en amptelike opposisie, die DA, ook in die laaste tyd groot uitdagings gehad om te hanteer.

“Die DA se onlangse federale kongres het goed afgeloop en die besluite oor kontensieuse sake het nie tot skerp verdelings in die party gelei nie,” sê Neethling.

Hy en Duvenhage meen albei dat die party punte by ondersteuners gewerf het op die rug van Zuma se probleme en die Ramaphosa-faktor stel aan die party talle nuwe uitdagings.

“Daarby sit die DA met die situasie rondom Patricia de Lille, wat pas uit die party geskop is, en dit mag die party se steun, veral onder bruin kiesers in die Wes-Kaap, sleg beïnvloed.

“Die ander uitdaging waarmee die DA sit, het te make met die verskuiwing van ʼn liberaal-demokratiese party na ʼn sosiaal-demokratiese party, wat sterk saamhang met die party se groeiende swart steun van die afgelope jare. Die verskuiwing mag dalk goed wees om die party se swart kiesersteun te verbreed, maar dele van die wit steunbasis lyk minder entoesiasties hieroor omdat dit die DA ideologies nader aan die ANC posisioneer,” voeg Neethling by.

“Ek wil by Gerhard van Onselen van die Instituut vir Rasseverhouding aansluit en sê die hele grondkwessie het amper as ʼn reddingsboei vir die DA gekom. Die party kan homself nou posisioneer teenoor die verwydering van grond sonder vergoeding, maar die feit bly staan dat die drie grootste partye in die land nou primêr werk met die grondkwessie,” sê Duvenhage.

Foto: Facebook via Economic Freedom Fighters.

En die EFF?

Neethling sê, net soos die DA, kan die EFF ook nie meer munt uit Zuma se foute slaan nie. Boonop slaag die EFF ook daarin om sy profiel in die media hoog te hou ten opsigte van veral die emosionele kwessie van grondonteiening en selfs wat die begrafnis van Winnie Mandela-Madikizela betref.

Duvenhage meen die EFF is ook maar kwesbaar omdat daar eintlik baie konflik binne die party se strukture is.

Volgens ʼn verslag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het sowat 61% van dié party se parlementslede sedert die 2014-verkiesing bedank of is self deur die party uitgeskop of vervang. In die verslag was daar 19 bedankings en uitsettings in die party se koukus wat uit 31 lede bestaan met ʼn totaal van 24 veranderinge wat al gemaak is. Die EFF het egter die verslag verwerp en gesê dit is maar net belaglike aantygings wat deur sommige mense gemaak word.

“Verder wil die gerugte dat die EFF homself weer met die ANC kan belyn en dat Julius Malema weer na die regerende party sal terugkeer, net nie gaan lê nie. Daardie moontlikheid is steeds daar,” sê Duvenhage.

Kleiner partye?

“Wat die kleiner party betref, dink ek die IVP kan dalk ʼn ekstra klompie stemme bykry met die onsekerheid wat tans in KwaZulu-Natal heers, maar die res van die partye wat nou op rondom 1% staan, gaan nie hul stembasis in die volgende verkiesing vergroot nie,” sê Duvenhage.

Neethling stem saam op hierdie punt: “Ek dink nie daar gaan veel veranderinge kom wat die ander kleiner partye betref nie. Die vraag is of die VF+ dalk sy steunbasis kan versterk deur wit kiesers by die DA af te neem – veral waar Afrikaners dalk voel die DA, as ʼn soort sosiaal-demokratiese party,  is nie langer ʼn politieke tuiste vir hulle nie. Die party se nuwe leier, dr. Pieter Groenewald, boesem vertroue in as ʼn stewige politikus wat sterk uitkom vir sy beginsels. Dit sal interessant wees om te sien of die nuwe leierskap ʼn verskil kan maak vir dié party.”

Oudpres. Jacob Zuma gesels met kiesers op 3 Augustus 2016 by Ntolwane Primary School in Nkandla, KwaZulu-Natal (Foto: Presidensie)

Waar laat dit die Suid-Afrikaanse kiesers?

Duvenhage reken dit is nog nie ʼn uitgemaakte saak dat die verkiesing wel in April of Mei 2019 sal plaasvind nie. Ramaphosa mag dalk die politieke klimaat lees en voel ʼn vervroegde verkiesing kan voordelig wees.

Hoe dit ook al sy, hy dink nie Suid-Afrika sal weer die konvensionele stempatrone sien wat sedert die 1994-verkiesing oorheers het nie. “Daar is steeds te veel onsekerheid binne die ANC oor wie die party is en waarvoor jy stem. Die DA speel op ʼn manier gevaarlik met die ondersteuningsbasis van die minderheidsgroepe binne die party en die EFF is ook kwesbaar oor die konflik binne die party.

“Dit lyk vir my of dié verkiesing dalk op ʼn meer gelyke vlak sal uitspeel in die sin van die patroon van ʼn een party-dominantestelsel wat besig is om weg te val. Dit sal al hoe meer plek maak vir koalisiepolitiek en ek voorsien dit sal die pad vorentoe vir Suid-Afrika wees.”

Neethling reken dit is moeilik om presies te voorspel wat kiesers in die volgende verkiesing by die stembus sal doen. “Sommiges mag dink ʼn swak uitslag by die stembus vir die ANC is ʼn goeie ding, maar indien dit tot samewerkingsooreenkomste en koalisies tussen die ANC en die EFF lei in die parlement en sommige provinsies, kan dit die swaartepunt van die politieke toneel binne die land heeltemal na links skuif.

“Die politiek is dinamies van aard en baie gaan nog gebeur voor die 2019-verkiesing. ʼn Belangrike vraag is of daardie groot deel van die kieserskorps wat in onlangse jare buite stemming gebly het, gemobiliseer kan word om wel by die stembus op te dag. Ek reken die ANC en die EFF sal veral die partye wees wat daarby kan baat.”

  • Luister ook boaan hierdie berig na ʼn podsending waar Esté Meyer Jansen met prof. André Duvenhage van die NWU gesels oor die Suid-Afrikaanse politieke landskap en ʼn vooruitskou kry van hoe sake staan 12 maande voor die land se sesde algemene verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ampie

Glo darem nie dat die ANC ongeveer 50% van die steun het nie, dit is heelwat meer. Dink met die dubbelprater CR kry hulle baie steun terug want Zuma is uiteindelik uit. En ja, Mini mandela se DA gaan baie steun onder blankes en kleurlinge verloor…

Genieve

Gaan dit ooit die moeitewerd wees om nog jou kruisie te gaan maak die hele spul is almal korrup.

Casper Labuschagne

Politieke ontleders is in die stede, maar doer in die bos woon 20 miljoen kiesers in wat nog nooit eens van die DA gehoor het nie en die ANC sal ewig hul bevryders wees. Daar lê ‘n onstuimige tyd voor. Die ANC kan of verdeel in ‘n faksie van ANC populiste en Afrika nasionaliste onder Zuma, met sosialisme die uitgangspunt van beide faksies. ANC populiste sal dalk noodgedwonge met die EFF moet saamsmelt. Ramaphosa gaan dit al hoe moeiliker vind om skoon te vee en boonop in in sy posisie te bly, en ekonomiese groei sal agterbly. Met elke verkiesing… Lees meer »

Harry

Omtrent 100 jaar gelede het Nicolaas “Siener” Van Rensburg onder andere bekend gemaak dat ons nie polities gaan wen teen die huidige swart regering nie, maar wel op ‘n ander manier – “Nadat ons volk hom voor die Here verootmoedig het, sien ek ’n groot wonderwerk gebeure en daarna sien ek die Vierkleur wapper oor ’n vrye volk”. Dit lyk dus of die verdeeldheid onder die ANC na ‘n groot oorlog kan lei wat binne die volgende 12 maande kan begin?

marous

Wonder of dit ‘n vakansiedag gaan wees ? Sal graag wil gaan jukskei speel en dalk ‘n paar melkterte verorber ….die hele dag lank.