22 tweelinge – met juffies daarby – by Pta laerskool

Daar is vanjaar altesaam 22 tweelinge by Laerskool Magalieskruin. (Foto: Verskaf)

Op ʼn pragtige foto van ʼn groot groep tweelinge wat vanjaar by Laerskool Magalieskruin in Pretoria in die skoolbanke is, is daar twee gesigte wat – letterlik – tussen die haasbekkies en poniesterte uitstaan: Dié van twee personeellede by die skool wat ook ʼn tweeling is.

Dit was ʼn gelukskoot soos min toe Marizet en Aloizé Richardson, tweelingsusters van Pretoria, binne die bestek van ʼn maand elkeen ʼn pos by Laerskool Magalieskruin gekry het.

Marizet en Aloizé (albei 29), is nou deel van ʼn allemintige 22 stelle tweelinge by Laerskool Magalieskruin.

Marizet is ʼn gr. 3-onderwyseres en Aloizé is onlangs bevorder tot naskoolhoof. Marizet vertel aan Maroela Media die leerlinge en ander onderwysers was ewe geskok en opgewonde toe hulle hoor sy en Aloizé is ʼn tweeling, want hulle “verskil soos dag en nag”.

“Aloizé is kort met ʼn bril, en meer sportief as ek, terwyl ek meer by kultuur betrokke is, sang, koor en redenaars, en is meer van ʼn ekstrovert as sy,” sê Marizet.

“Sy is saggeaard en ek is meer van ʼn go-getter wat daarvan hou om dinge gedoen te kry. Ons is uiterse pole van mekaar, maar ons vul mekaar wonderlik aan.”

Marizet (links) en Aloizé (regs) Richardson. Hulle het grappige hemde met die beskrywings “Thing 1” en “Thing 2” gedra vir die fotosessie. (Foto: Verskaf)

Sy sê die leerlinge is ook nou sommer baie nuuskierig oor die feit dat hulle ʼn tweeling is. “Die kinders kom praat kort-kort met ons, want hulle kan nie glo ons is ʼn tweeling nie.

“Die ander personeellede en van die leerlinge het natuurlik vantevore in die verbygang gehoor ons is susters, maar min mense het geweet ons is ʼn tweeling, juis omdat ons so uiteenlopend en onidenties is.”

Die tweelingsusters het onderskeidelik in Centurion en die Moot gewerk toe Aloizé kort op Marizet se hakke ʼn pos by Laerskool Magalieskruin aanvaar het.

“Ons albei wou graag nader aan ons ma wees, wat in Montana woon. Ons was bitter gelukkig om albei ʼn pos by dieselfde skool te kry, en dit sommer ook net vyf minute van ons ma af.”

Marizet vertel sy is eerste gebore, en het vyf minute voor Aloizé in die wêreld gekom. Volgens Marizet het haar suster altyd ʼn “huppel in haar trippel” en is sy entoesiasties oor die groot, nuwe rol wat sy by die skool vervul.

“Ons is dankbaar vir haar vir die nuwe uitdaging wat oor haar pad gekom het.”

Die skool spog vanjaar met altesaam 21 stelle tweelinge van gr. RR tot gr. 7. Elke graad spog met minstens een stel tweelinge: Gr. RR spog met twee stelle, gr. R met een stel, gr. 1 met vier stelle, gr. 2 met drie stelle, gr. 3 met een stel, gr. 4 met een stel, gr. 5 met drie stelle, gr. 6 met een stel en gr. 7 met vyf stelle.

“Ek het een stel tweelinge in my netbalgroep en een stel tweelinge in my koorgroep. Hulle is omtrent so uiteenlopend soos ek en my suster,” sê Marizet.

“Dit is vir my en Aloizé lekker, want ek sien een kant van die kinders deur die dag by die skool en sy sien weer ʼn ander kant van hulle by die naskool.”

Volgens Lindy Bootha, bemarkingsbestuurder by die skool, was dit op die dag van die fotosessie met die tweelinge “te kostelik” om die klomp ewebeelde bymekaar te sien.

“Daar is heelwat van hulle wat baie kleiner is en hulle het almal so hand aan hand aangekom, duidelik baie lief vir mekaar. Dit was vir hulle spesiaal dat ons ʼn ophef kon maak van hoe oulik en uniek hulle is.”

Aloizé en Marizet het ondanks hulle uiteenlopende persoonlikhede steeds ‘n goeie verhouding. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Witwax ·

Dit is nou baie oulik, hulle moet dit laat aan teken op die Wêreld boek van rekords.

Martie ·

George dit mag 44 wees maar dalk is dit ‘n rekord dat daar in elke graad tweelinge is en tweeling onderwysers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.