440g by geboorte: Drie jaar later verbaas sy ouers steeds

Ruaché Botha (3) het 440g by geboorte geweeg. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Ruaché Botha het maar net 440 gram by geboorte geweeg en was so lank soos ’n pen. Drie jaar later, veg hierdie dogtertjie dapper en dansend voort.

Maroela Media het destyds berig dat Ruaché op 15 Mei 2019 op 25 weke in die Life Wilgers-hospitaal met ’n noodkeisersnee in die lewe gebring is nadat haar ma, Mari (32), komplikasies met haar swangerskap ervaar het.

Dokters het Mari en haar man, Johan, aanvanklik op die ergste voorberei en gewaarsku dat Ruaché dalk nie sou oorleef nie. Haar longetjies was onderontwikkel en haar vel het skoon geskeur as ’n mens daaraan raak. Sy was altesaam 330 dae in die hoësorgeenheid van dié hospitaal behandel.

“As ek dink waar ons vandaan kom en waar ons vandag is, dan weet ek eintlik nie hoe ons dit gemaak het nie,” het Mari en Johan by hul huis in Kempton Park aan Maroela Media gesê.

“In die hospitaal het ons dit dag tot dag gevat en later maand tot maand. Nou is ons darem al op jaar tot jaar. Ons staan steeds in verbasing.”

Ruaché Botha (3) het 440g by geboorte geweeg. (Foto: Verskaf)

Ruaché Botha (3) het 440g by geboorte geweeg. (Foto: Verskaf)

Johan sê hy vra gereeld vir Mari of sy ooit sou kon voorstel dat hulle vandag ʼn borrelende, woelige driejarige sou hê.

“Dis ʼn voorreg om haar mamma en pappa te wees. Om te sien waar sy was en wat sy vandag regkry, maak die wonderwerk net soveel groter,” sê Mari.

Ruaché se immuunstelsel is steeds effens swak, hoewel sy nie in die algemeen ʼn sieklike kind is nie. Sy was onlangs vir ʼn week in die hospitaal waar sy vir Covid-19 en die RS-virus behandel is.

Johan en Mari Botha by hul dogtertjie, Ruaché (3). (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Mari sê egter die feit dat Ruaché nie meer tekortkominge of gestremdhede het nie, is ongelooflik.

Sy ontvang nog elke week fisio- en arbeidsterapie en moet binnekort ’n spraakterapeut gaan sien.

Ruaché kan self eet, maar het nog ’n voedingsbuis in haar maag om haar voeding voldoende te reguleer en te verseker dat sy genoeg kos inkry. Sy het ook ’n trageotomiebuis in haar keel. Dié buis verhinder haar egter nie om te praat en te sing nie – dikwels tot ander se verbasing.

Ruaché praat ook in gebaretaal.

Wat haar fisieke ontwikkeling en gewig betref is Ruaché nog nie heeltemal op die ontwikkelingsvlak van haar eweknieë nie. Daar skort egter niks met haar intellektuele ontwikkeling nie en sy is dolgelukkig by haar kleuterskool, Kabouterland.

Ruaché is boonop lekker lank en dans graag op die maat van haar gunstelingliedjies. Mari gee musieklesse en sit gereeld saam met Ruaché agter die klavier waar hulle lekker saam musiek maak, sing en lag.

Ruaché Botha (3) het 440g by geboorte geweeg. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Mari ly aan lupus, ʼn outo-immuunsiekte waar die liggaam sy eie gesonde weefsel aanval, en het die afgelope paar jaar ook haar eie gesondheidstryd gevoer. Sy en Ruaché het destyds saam om hul lewe in die hospitaal geveg nadat Mari met nierversaking in die waakeenheid opgeneem is waar sy dialise moes ontvang.

Sy was self meer as 50 dae in die hospitaal. Sy het verlede jaar ’n nieroorplanting gehad en doen nou alles moontlik om haar gesondheid sterk te hou.

Die familie het steeds baie mediese uitgawes en agterstallige mediese skuld van ongeveer R150 000. Mari se ma, Felicia van Niekerk, het ’n Back a Buddy-geldinsameling vir die gesin gestig om hulle met dié uitgawes by te staan.

Mari en Ruaché maak graag saam musiek. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Om finansiële druk van hul skouers af te haal sal mamma [Mari] meer tyd gun om met Ruaché te werk en die proses tot volkome genesing versnel,” het Van Niekerk in ʼn inskrywing op Back a Buddy gesê.

Benewens musieklesse bied Mari ook lewensafrigting aan terwyl Johan onlangs sy eie vervoermaatskappy op die been gebring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Die dierbaarste ou gesiggie! Die vonkel in die ogies laat hom sommer diep in ‘n mens se hart kruip met die eerste oogopslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.