47 bedreigde aasvoëls vrek ná vergiftiging

(Foto: Megan Whittington/Wildlife ACT)

Altesaam 47 bedreigde aasvoëls het in Zoeloeland, KwaZulu-Natal, gevrek nadat hulle glo slagoffers van ʼn massavergiftiging was.

Die meeste van die aasvoëls se koppe was boonop verwyder, vermoedelik om vir tradisionele medisyne gebruik te word.

Wildlife ACT, bewaringsvennoot van Ezemvelo KZN Wildlife, se wildbewaarders het Sondag die gru-ontdekking gemaak.

Al die voëls wat gevrek het, was witrugaasvoëls en sowat 35 hiervan se koppe was verwyder. Wildbewaarders het op nog vyf aasvoëls afgekom wat nog nie van die vergiftiging omgekom het nie. ʼn Verdere vyf bruinarendkarkasse is ook op die toneel aangetref.

Die wildbewaarders, wat opgelei is om sulke voorvalle van vergiftiging te hanteer, het die oorlewende aasvoëls op die toneel behandel voordat hulle na ʼn rehabilitasiefasiliteit geneem is.

Die toneel is ook ontsmet om te verseker dat geen verdere vergiftiging plaasvind nie.

Die presiese besonderhede rondom die vergiftiging is onduidelik, maar ʼn saak is intussen by die polisie aanhangig gemaak.

(Foto: Anel Olivier/Wildlife ACT)

Brent Coverdale, voël- en soogdierkenner verbonde aan Ezemvelo KZN Wildlife, sê die jongste vergiftigingsvoorval beklemtoon weer eens die benarde situasie van aasvoëls in beide KwaZulu-Natal en Suid-Afrika.

“Een van die grootste bedreigings wat aasvoëls in Suid-Afrika in die gesig staar, is vergiftiging vir die gebruik van tradisionele medisyne,” sê hy.

“Die huidige vlaag van vergiftigings is onvolhoubaar en sal lei tot die totale uitwissing van aasvoëls in die land en terselfdertyd verwoestende omgewingsgevolge hê.”

Die departement van bosbou, visserye en die omgewing het reeds ʼn plan beraam om die land se aasvoëlbevolking teen onder meer stropers te beskerm. Dit kom nadat dit aan die lig gekom het dat meer as helfte van Suid-Afrika se aasvoëlspesies kritiek bedreig word.

Dit is destyds aangeteken dat daar van witrugaasvoëls slegs 68 bekende broeipare in Suid-Afrika oor is. Dié getal is aansienlik minder ná die jongste slagting.

Die departement gee toe dat tradisionele genesers en die verenigings waaraan hulle behoort ʼn kardinale belangegroep is om die bewaring van aasvoëls te verseker.

Inkosi Gumbi, leier van die plaaslike tradisionele owerheid, het intussen onderneem om die beskerming van aasvoëls te prioritiseer en diegene wat met hul liggaamsdele handel aan die owerhede oor te handig.

“Die verlies aan soveel aasvoëls in Zoeloeland is betreurenswaardig omdat dit die gesondheid van ons ekosisteem en die lewensbestaan van ons mense raak,” het hy gesê.

“As verteenwoordiger van die Gumbi-gemeenskap kan ek sê dat ons hard daaraan werk om ʼn bewaringsgebaseerde ekonomie te vestig en onwettige aktiwiteite soos hierdie hok te slaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.