5 kinders dood toe vragmotor deur skoolheining ploeg

vyfhoek primary school potchefstroom laerskool

Die owerhede Donderdagmiddag by die skool. (Foto: Verskaf)

Vyf leerders is dood en vier ander ernstig beseer nadat ’n vragmotor Donderdagmiddag deur die heining van ’n laerskool naby Potchefstroom in Noordwes geploeg het. Daar word vermoed dat die bestuurder beheer oor dié vragmotor verloor het nadat ’n band gebars het.

Dié bewering kon egter nog nie bevestig word nie.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê verskeie ambulansdienste is vanmiddag na die Laerskool Vyfhoek sowat 10 km buite Potchefstroom langs die N12-hoofweg ontbied waar paramedici die vragmotor in die skool se parkeerterrein aangetref het.

Die vragmotor het met hul aankoms naby verskeie tydelike klaskamers gestaan. Drie leerders was in dié stadium nog onder die vragmotor vasgekeer, terwyl ander rondom die vragmotor gelê het.

Hulle is vermoedelik almal tussen 7 en 11 jaar oud.

Meiring sê vier laerskoolkinders het geen teken van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar. Drie ander is in ’n kritieke toestand aangetref, terwyl nog twee ernstige beserings opgedoen het tydens die voorval.

Die leerders is almal op die toneel van gevorderde lewensondersteuning voorsien. Een van hulle het egter kort daarna aan sy of haar beserings beswyk.

Die oorlewendes is vanmiddag na ’n nabygeleë hospitaal vervoer vir mediese behandeling.

Volgens Meiring het die bestuurder van die vragmotor ook beserings tydens die tragedie opgedoen.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder, het vanmiddag aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

  • Die berig is gewysig sedert dit gepubliseer is. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Mens se hart is in duisend stukke wanneer jy van hierdie tragedie lees. Hoe verskriklik is dit nie. Mag God almal betrokke vashou en krag en sterkte gee in die hartseer tyd. So jammer om van julle groot verlies te hoor. Hierdie raak die hele skooltjie se kinders. Ai, mens weet eintlik nie wat om te sê nie….

Nettie ·

Sjoe, dis ontsettend. My hart breek vir die families. Sterkte. Ons bid vir julle. Ook vir die bestuurder. En die hele skool se kinders en personeel. Mag God almal toevou in Sy liefde.

Sarel ·

Bestuurder & Eienaar ( indien nie selfde persoon ) moet albei vervolg word.

N ·

Ok Sarel. Onthou dit as jou motor se wiel eendag bars en jy maak n ongeluk.

Hannes ·

Waarom?? Wat weet jy wat die res nie weet nie? Jy het geen inligting” behalwe hierdie berig nie, maar VERVOLG wil jy VERVOLG .
En OORDEEL HET JY KLAAR GEOORDEEL
Sal die bestuurder en die eienaar hierdie ONGELUK vooraf beplan het ???
????????????

Darts girl ·

Sarel kom ek vra jou dit… As jy ry met jou motor gaan jy weet wanneer die motor se band gaan bars? Indien nie, wat laat jou dink die drywer of eienaar van die vragmotor sou dit weet!?

Harley Davidson ·

Ek stem saam as die voertuig nie padwaardig is nie maar as die band gebars het sou die bestuurder nie veel anders kon doen nie.

Maritza ·

Sjoe Sarel. Betuig liewer simpatie met die familie voor jou sommer net oordeel. Laat die ondersoek sy gang gaan en lewer dan jou opinie.

AH ·

Bietjie kras nie waar nie? As ‘n voertuig se band bars verloor mens maklik beheer oor die voertuig. Ek praat van ondervinding!

Miskruier ·

Ons dorpie word as ompad gebruik omdat die vragmotors n tolhek wil vermy. Die vragmotors ry ook nie 40km per uur nie.

Darts girl ·

Sterkte aan al die families en so ook die personeel van die skool my hart gaan uit na julle in die hartseer tyd

ronel ·

My hart breek as ek dit lees, klein onskuldige kindertjies het in hul ouers se ore gebabbel daai oggend, en die dag se dinge is dalk bespreek, en een frats en daai stemmetjies is vir altyd stil, hoe ‘n ouer daarmee moet voortleef is vir my onbegryplik!

Francois ·

Simpatie met almal betrokke – die gemeenskap is geskud. Maar teen die spoed wat n groot persentasie vragmotors op die N12 in volle afwesigheid van verkeerspolisie en veiligheidspersoneel heeltemal onverantwoordelik deur Potch en oor rooi verkeesligte jaag, was hierdie n ramp wat gewag het om te gebeur – en dit naby n weegbrug waar alle voertuie veronderstel is om stadiger te ry teen n laer spoedgrens. En as hoofroete na verskeie dele van die land en Namibië, besef min mense hoeveel swaar voertuie deur die dorp ry. Dit gebeur gereeld met my dat die lig reeds vir my groen oorgeslaan het om die pad te kruis, dan jaag hulle nog oor die rooi lig.

Swerwer ·

Ag genade, dit is so hartseer. Simpatie en meegevoel met die families van die kinders, voorspoed en sterkte met die herstel van die ander kinders. Waarom is die lewe so deurmekaar.

Karina ·

Bitter tragies. My simpatie vir die familie. Hulle moet gebroke wees. Sterkte ook aan die skool personeel en ander leerders. Gebede vir julle almal. Verseker was dit weer spoed wat die ongeluk veroorsaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.