50 vir flinke Faf teen Skotte

Faf de Klerk (regs) sal sy 50ste toets vir Suid-Afrika teen Skotland speel. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

ʼn Mylpaal wink vir Faf de Klerk wanneer die Springbokke die naweek in hul openingswedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Skotland in Marseille speel.

Dit sal die blondekop skrumskakel se 50ste toets vir Suid-Afrika wees.

“Dit is ʼn groot mylpaal vir enige speler, maar om dit in die openingswedstryd van ʼn Wêreldbeker te vier, maak dit net soveel meer spesiaal,” het Jacques Nienaber Woensdag gesê nadat die Springbok-span aangekondig is.

De Klerk het sy internasionale buiging in 2016 teen Ierland in Kaapstad gemaak en volgens Nienaber het hy homself intussen as een van die span se sleutelspelers gevestig.

“Ons is saam met hom opgewonde en natuurlik sal ons alles in die stryd werp om dit nie net ʼn spesiale geleentheid vir hom te maak nie, maar ook vir die hele span.”

De Klerk is saam met Cobus Reinach, Grant Williams en Jaden Hendrikse een van vier skrumskakels in die Bokke se Wêreldbeker-groep, maar baie van sy teenstanders meen dat hy onder die heel beste spelers in dié posisie tel.

Kieran Hardy het byvoorbeeld in aanloop tot verlede jaar se Wallis-toer sy lof besing.

“Die manier waarop hy die spel dikteer, bied ’n unieke uitdaging, maar ek dink Faf de Klerk is een van die beste skrumskakels in wêreldrugby en dit is ’n wonderlike geleentheid om teen hom kragte te meet,” het die Rooi Drake se nommernegespeler destyds gesê.

De Klerk vier ’n drie by die vorige Wêreldbeker-toernooi.  (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Volgens oudskrumskakel Conrad Breytenbach laat die 31-jarige speler beslis sy teenwoordigheid agter die skrum geld.

Die voormalige Blou Bul-speler, wat die openingsdrie in die 1998-Curriebekereindstryd teen die WP gedruk het, meen dat enige skrumskakel ʼn bal kan uitgee en die werk doen wat van hom verwag word. Maar wat van iemand ’n spesiale no. 9 maak, is daardie ekstra dinge soos om druk op die teenstanders se losskakel te plaas, kruisverdediging en goeie lyne te hardloop.

“Faf se werkverrigting, buiten sy normale pligte as ’n skrumskakel, is ongelooflik hoog gedurende ’n wedstryd en dit laat hom beslis bo ander uitstyg,” het Breytenbach aan Maroela Media gesê.

Terselfdertyd is De Klerk se dapperheid – hy is nie bang vir veel groter spelers nie – en sy bulterriër-houding op die veld van sy grootste sterk punte.

Ja, hy het in 2019 onder kritiek deurgeloop omdat hy die bal te veel in Japan weggeskop het, maar Maroela Media-lesers het hom ná Suid-Afrika se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog as hul gunstelingspeler van die toernooi aangewys.

Die Springbokke speel Sondag om 17:45 teen Skotland en die wedstryd word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Ox Nche, Trevor Nyakane, RG Snyman, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Grant Williams en Willie le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koeksuster ·

Faf Faf, jy wie jou teenstanders kafdraf!
Die skare blaf en jou moves is laf
Druk nou nog ‘n drie vir die fans, ou Faf!

John ·

Dit breekmy hart om te weet dat daar soveel jonger en beter spelers nie in Frankryk sal wees nie aangesien van die besuurs span se keuses van ou spelers wat nie daar hoort nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.