53 Eskom-sake deur Valke ondersoek

(Foto: Dirk Hermann/Facebook)

In die lig van groeiende bewerings van grootskaalse korrupsie – nogal deur belangrike ministers in die kabinet – by Eskom, het die polisie bevestig die Valke ondersoek reeds 53 sake wat ʼn regstreekse uitwerking op beurtkrag het. Altesaam 31 mens is ook al in verband hiermee in hegtenis geneem.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die Valke kyk “holisties” na al hierdie sake. Aanklagte teen verdagtes wat reeds in hegtenis gemeem is, wissel van kabeldiefstal en die diefstal van geleiers, transformators en brandstof, tot beweerde sabotasie.

Die polisie het in opdrag van die nasionale polisiehoof, genl. Fannie Masemola, ook ʼn toegewyde span wat permanent sake in eMalahleni (Witbank) en Middelburg in Mpumalanga – die episentrum van die land se kragvoorsieningsvermoë – ondersoek. Die polisie ondersoek tans 39 sake en 86 mense is al aangekeer. In die meeste gevalle spruit die aanklagte uit beweerde onwettige steenkool-mynbedrywighede en altesame 30 sake is tans op die hofrol, sê Mathe.

Volgens Mathe het die nasionale gesamentlike operasionele intelligensiestruktuur, bekend as NatJoints, ook ʼn komitee op die been gebring om spesifiek die ontwrigting van bedrywighede, bedreigings van nasionale sleutelpunte, strategiese instellings, kritieke infrastruktuur, voorvalle en noodgevalle wat met die nasionale kragstelsel verband hou, te pak.

Die prioriteitskomitee vergader weekliks en daar is ʼn bykomende komitee wat “permanent by Eskom gesetel is en 24 uur van die dag werk om daaglikse misdaad wat gepleeg word te monitor en om te verseker alle misdaadtonele word hanteer”. Die komitee mobiliseer ook die nodige hulpbronne, sê Mathe.

“Die mandaat van die komitee is die koördinering van alle sake wat verband hou met operasionele sekuriteit oor energie.”

Die Valke het nog nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Richard Mantu, woordvoerder van die departement van openbare ondernemings, het by navraag gesê minister Pravin Gordhan “verafsku” korrupsie in alle vorme en veroordeel dit ten sterkste. Dit nadat hy in mediaberigte geïdentifiseer is as die einste minister wat André de Ruyter sonder sukses genader het met bewerings van korrupsie deur ministers in die kabinet.

“Die minister doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners, ongeag hul posisie in die samelewing, om te onderskei tussen agterdog, gerugte en bewyse; indien enigiemand bewyse oor korrupsie het, moet hulle dit eerder aan wetstoepassingsowerhede oorhandig,” sê Mantu.

Hy sê maatskappybestuur vereis van die Eskom-raad om die feite te bepaal en te beraadslaag oor die kwessies wat De Ruyter in die TV-onderhoud geopper het. Daar moet dan aan die departement en die parlement terugvoer gegee word en afhangend van die bewyse wat voorgelê word, moet wetstoepassingsowerhede ook ingelig word.

“Korrupsie was ongetwyfeld ʼn kenmerk in Eskom en verskeie ander openbare en private instellings, soos tydens die Zondo-kommissie se verhore en gevolglike bevindings en aanbevelings gehoor is.

“Mense pleeg korrupsie tot hul eie voordeel. Ons weet ook dat staatskaping in die formele sin dalk geëindig het, maar korrupsie is steeds ʼn plaag wat ons as aandeelhouer en regeringsverteenwoordigers uit ons instellings wil uitroei.

“Eskom is geen uitsondering in dié verband nie,” sê Mantu.

Gevaarlike kartelle

Daily Maverick het intussen Maandag onthul dat twee senior kabinetslede glo bande het met vier misdaadkartelle wat in Eskom bedryf word. Weens regsredes het die webwerf nie die name van die betrokke ministers bekend gemaak nie. Die kartelle staan bekend as die Presidential Cartel, Mesh-Kings Cartel, Legendaries Cartel en die Chief Cartel.

Intelligensie wat reeds oor die kartelle ingesamel is, verbind die misdaadgroepe met die sabotasie van Eskom se kragsentrales, asook met ʼn program van politieke destabilisering en het met ʼn waarskuwing gekom: “Indien jy vermoor wil word, kom speel jy hier.”

Luidens die berig dui intelligensie daarop dat die sogenaamde gebiedsleier (waarvan die naam weerhou word) verantwoordelik is vir die aanhitsing van openbare oproer in Mpumalanga – deur ʼn moordebende wat as Team Shikisha bekend staan – en dat dit gedoen word ter ondersteuning van dié leier se pogings om president te word.

Die gebiedsheerser het glo ook ʼn vertroueling, ʼn senior polisie-offisier, wat enige ondersoeke na sy belange in die wiele ry of ondermyn. Die intelligensie lui volgens die berig voorts: “Die betrokkenheid van hooggeplaaste politieke rolspelers bly ongelooflik moeilik om na te speur. Dit is hoofsaaklik omdat niks op skrif gestel word nie en alle kommunikasie deur derdepartye gedoen word, wat enige direkte verband omseil. Verskeie onafhanklike bronne dui op soortgelyke spore van betrokkenheid [deur die ‘gebiedsleier’].”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Manie ·

Raai raai riepa, ek wonder wie vanuit Mpumalanga wil graag president word?

Di ·

Ja kyk die NES word nou UITEINDELIK oopgekrap!! Ons wag in spanning om te sien wie agter al hierdie “diefstal” sit. Tydens Andre se tydperk by Eskom wou GEEN HULP verleen word nie, nou word alles skielik ondersoek en dinge gebeur. Dit is duidelik dat hy die waarheid gepraat het terwyl almal hom afgemaak het as ‘n “regse” en leuenaar, maar nou skielik word alles wat hy kwyt geraak het, oopgevlek

Pietertjie ·

Jippieee! Nóg 53 Zondo kommissies oppad. Ons gaan baie hê om te lees. Tyd om papier-invoere te verhoog.

Papsak ·

Andre het waarheid gepraat hy kon nie met hulp gehelp word nie maar nou kom alles uit hoekom nou so vinnig mmm so hy is nie n leunaar nie ek nog altyd gese hy praat waarheid hy het hulle senuwees punte gebrand ek is bly dit kom alkes uit

Marthinus Johannes ·

DUS is De Ruyter reg, Die ANC en trawante probeer nou alle “stops” uit te haal om hom kamme te vervolg en dit terwyl hy die waarheid gepraat het en dat die publiek en almal nou daavan wert. Nou gaan Al wat leef en beef nou krap. ANC nou op die after pote en kloutjiez in die lug SOOS spinnekoppe.

Witbaard ·

Hulle ondersoek die “puppets” wat die vuil werk moet doen. Die groot visse swem rustig rond. Waar is daardie spesiale ondersoek eenheid wat so goed gedoen het. Waarom jag hulle nie die baasbreine nie?

Manie ·

Dis makliker om die klein vissies te vang, dan het hulle mos kwansuis hulle werk gedoen.

Jaco ·

Wanneer noem De Ruyter of Die Valke nou die name betrokke by dié sake? Almal versprei gerugte, maar dis ook maar net waar dit bly.

domheks ·

Die klomp kaders beskerm die een die ander. As jy prez is is jy ook gevrywaar. Pravin moet ook maar begin erken Andre de Ruyter het by hom gekla – maar bokkerol het gebeur! Wonder wanneer die nuwe kabinet aangekondig gaan word – die begrotings toespraak al ou nuus????

Shakespeare ·

Die Valke se tande is al lankal uitgetrek met BEE aanstellings en “State Capture” deur korrupte ministers en kaders.

Chris dupreez ·

Ek wonder of David Mabuza nou ondersoek gaan word as n bende ( kartel ) leier en n moordenaar.

gpsa ·

Nou sal polisie ondersoeke dalk ernstig hanteer word, en nie die kriminele die volgende dag laat gaan nie.

LANA is ELANè ·

En daar gaan dadels van kom, die valke se poppemeester is tog die ANC hoe gaan hulle verby dit kom?

Nie Verbaas ·

Van die wat gearresteer is wonder ek by myself hoeveel het al in die hof verskyn en is agter tralies. My raaiskoot, nie een nie so blah blah blah met arrestasies.

Blikkies ·

Eish, hoekom spring almal nou skielik rond, hoekom was dit nie al lankal gedoen nie.

Jannie van Niekerk ·

En wat as die wetstoepassers saam met die skelms werk?

Danie ·

Kla hulle sommer van manslag en moord ook aan. Duisende mense wat van mediese toerusting afhanklik was is oorlede oor die krag situasie. Ons soek geregtigheid vir hulle

annie ·

Hoekom het Tjoekepaf, Mantashiert en Gordhaan so heftig gereageer? Lg voer aan De Ruyter wil eerder poliesman speel as kragstasies herstel, as hy korrupsie haat? Cyril ly skynbaar aan ‘n onttrekkingsindroom; mediteer oor wat ander verkeerd gedoen het hopende dat as hy terugkeer al die probleme opgelos is en hy en Charles in sý goue koets ry en soos heersers van ouds goue munte strooi op die pleps… (Daar’s glo iets oor in ‘n ander bank ná die Phaleis-spook besweer is…)

Theunis ·

Baie dankie mnr de Ruyter, jy het ‘n blik “wurms” oopgemaak, die Ministers keer nou vir al wat dit werd is, per ongeluk nie om verantwoordelikheid te neem nie maar wel deur om “blame shifting” te doen, wat ‘n skandaal vir die regering en ANC , maar dit is perongeluk hulle tipe etiket en self waardes.
Weereens bewys : Met geen spesifike verwysings nie, dit is defnitief die leë dromme wat die grootste geraas maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.