9-jarige oorleef kopskoot tydens rooftog

(Foto: Dall-E)

Inwoners van Witrivier is erg geskok ná ʼn 9-jarige seun Woensdagoggend by sy ouerhuis deur ʼn gewapende rower in die kop geskiet is.

Volgens Dawie Bronkhorst, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Witrivier, het die voorval omstreeks 10:50 plaasgevind.

“ʼn Gewapende rower het glo die gesin se huis binnegedring. Die 9-jarige slagoffer se ouer broer (12) sê hy het ʼn geraas gehoor, waarna ʼn skoot geklap het. Die rower het dadelik van die toneel gevlug en die 9-jarige seun is oomblikke later met ʼn skietwond aan sy kop aangetref.

“Hy is dadelik na die Mediclinic-hospitaal in Nelspruit geneem waarna hy ʼn operasie moes ondergaan. Hy is egter stabiel.”

Bronkhorst sê Blackwater, Defence RSA en I-Secure was eerste op die toneel, waarna ER24 en Securicon Lowveld ook oomblikke later opgedaag het.

“Die polisie en die honde-eenheid is ook na die toneel ontbied om ondersoek in te stel. Al die sekuriteitsmaatskappy van die dorp was by die toneel teenwoordig, sowel as lede van die GPF en AfriForum se buurtwag.”

Hy sê die verdagte was – volgens die amptelike verklaring wat by die polisie afgelê is – heeltemal in swart geklee en het te voet in die rigting van die Sabie-pad gevlug.

“Ons het dadelik ʼn ondersoek van stapel gestuur en het tot omstreeks 16:00 na die verdagte begin soek.

“Ons is tans besig om beeldmateriaal in die omgewing na te gaan om te sien of ons nie verdere leidrade of identifikasie van die verdagte kan kry nie.”

Die polisie het nog nie op navrae gereageer nie.

Ondersoeke duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.