92 sake van hofrol verwyder weens swak polisiewerk

Albert Fritz, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. (Foto: ANA)

Ondoeltreffende ondersoekwerk deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het daartoe gelei dat altesaam 92 sake van die hofrol verwyder is.

Só het Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR van gemeenskapsveiligheid, Woensdag gesê tydens die bekendmaking van die eenheid wat toesig hou oor hofsake in die provinsie se verslag van 1 Julie tot 30 September. Die verslag fokus veral op geslag- en gesinsgeweld asook moord op vroue.

Fritz sê sy departement is ingevolge die Grondwet verplig om toesig te hou oor die polisiediens se optrede en doeltreffendheid. Die eenheid wat toesig hou oor hofsake is om dié rede op die been gebring en om verslag te doen oor sake wat van die hofrol verwyder is weens die ondoeltreffendheid van die polisie. Die eenheid moet ook kyk wat gedoen kan word om dié sake weer op die hofrol te kry en moontlike tugstappe te oorweeg.

Die eenheid het in die betrokke tydperk gefokus op die volgende areas: Bishop Lavis, Mfuleni, Delft, Mitchells Plain, Gugulethu, Nyanga, Harare, Philippi, Khayelitsha, Philippi-Oos, Kraaifontein en Ravensmead.

Van die 92 sake wat van die hofrol verwyder is, is 52 verwyder weens dossiere wat nie by die hof ingedien is nie en 40 weens ondersoeke wat nie afgehandel is nie.

Altesaam 66 van die 92 sake handel oor geslag- en gesinsgeweld, insluitend seksuele misdrywe, aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer, die oortreding van ʼn beskermingsbevel, moord en poging tot moord.

Fritz het spesifieke na twee kommerwekkende gevalle verwys. In die een saak is ʼn man aangekla van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die verdagtes het op 31 Oktober 2019 die eerste keer in die hof verskyn. Die saak is daarna na Februarie, toe Maart, toe April, toe Mei en toe Junie uitgestel waarna dit van die hofrol verwyder is aangesien die dossier nie na die hof gebring is nie.

In die ander saak is ʼn man aangekla oor hy glo nie ʼn beskermingsbevel nagekom het nie. Hy het in Oktober 2019 die eerste keer in die hof verskyn en nadat die saak ook talle kere uitgestel is, is dit sowat agt maande later van die hofrol verwyder.

Fritz sê hoewel die Covid-19-pandemie druk op die strafregstelsel veroorsaak het, is dit steeds onaanvaarbaar om iemand wat as ʼn bedreiging vir die gemeenskap gesien word, vry te laat.

“Hierdie sake is ernstig en dit is onaanvaarbaar dat dossiere nie in howe beskikbaar is nie.”

Oor geslag- en gesinsgeweld sê Fritz dat almal op alle vlakke van die regering moet saamwerk om dié tipe misdade te bekamp, veral omdat dit so gereeld voorkom.

Fritz het ook die eenheid se beamptes geloof vir hul harde werk om toesig oor die polisie te werk te doen.

“Gedurende die oorsigtydperk was dit moeilik vir die eenheid om toegang tot howe te kry wees die pandemie, en tog het hulle voortgegaan om hul noodsaaklike werk te verrig, met die fokus op geïdentifiseerde polisiekantore, ernstige algemene misdade en geslag- en gesinsgeweld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Suzette ·

Daar gaan nog van die hofrol verwyder word – hierdie is net die begin…. ons wag om te kyk wanneer die sake op die rol geplaas word van al die korruptes en hul kaders wat deur die valke in hegtenis geneem is….eish!!!!

Anel ·

Hoeveel omkoop geld is daar betrokke? Verder, die lot weet niks van ondersoekwerk nie, want dit is WERK. En stel weer ‘n slag blankes aan!!! En miennie sê hulle doen nie aansoek nie. Hulle word net nie gekies vir die keurings nie.

Hercules ·

as veteraan SANAB en Moord & Roof speurder laat sak ek my kop in skaamte!! sies grootBek Chillies, jy wat nie eens weet wat is ‘n SAP 3 of 5 nie!!

Magda ·

Waar is die EFF/ ANC NOU – dalk of dalk nie deel van die sake wt sommer net so verwyder/ verdwyn . Skaam my dood as n Suid Afrikaner vir die KORRUPTE SWART ANC REGERING – KORRUPT TOT OP DIE BEEN TOE. Hulle moet OORSEE en in SA aangekla word vir OORLOGS MISDADE want dit wat hulle hier doen is gelykstaande aan OORLOG MISDADE – Mense word vermoor / hongersnood / geen blyplek / geen werk – NET KORRUPSIE TOT OP DIE HOOGSTE GRAAD.

Cecilia ·

Dis om v naar te word. Dis duidelik soos daglik d SAPS lid is omgekoop om d dossiee te laat verdwyn Ondersoek watter SAPS lid was in beheer vd sake en ek kan 100% waarborg gee dis d selfde lid 52x wat betrokke is.

johanf ·

So, sonder onskuldige bevindings gaan hul huistoe, Covid se skuld, bog….
Slapgat lede van die SAPD wat nie hul werk reggedoen het nie…… Teleurgesteld in die betrokke lede, gaan hulle disiplenêr verhoor word….

Mariana ·

Wat help die polisie enigsins, hoekom is hulle nog daar. Net soos als in die nuttelose regering is die polisie ook maar net daar. Geen wet en orde en kriminele het oorgeneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.