Aardverwarming kan kospryse, inflasie laat styg – studie

(Argieffoto: TLU SA)

Aardverwarming en hittegolwe kan voedselpryse en algehele inflasie in die toekoms wêreldwyd laat toeneem, het wetenskaplikes by die Europese Sentrale Bank in nuwe navorsing bevind.

Die uitwerking gaan wissel, maar dit sal oral – veral in ontwikkelende lande – gevoel word, lui die studie wat Donderdag in die joernaal Communications Earth and Environment gepubliseer is.

Uiterste weersomstandighede, waaronder hittegolwe, droogtes en oorstromings, kom toenemend gereeld voor namate die klimaat warmer word. Dit eis ʼn tol op sleutelsektore in die ekonomie, waaronder boerdery en voedselproduksie.

Vir die nuwe studie het navorsers van die Potsdam-instituut vir klimaatsimpaknavorsing (PIK) en die Europese Sentrale Bank gekyk na historiese prys- en weerdata uit 121 lande tussen 1996 en 2021.

Hulle het bevind dat stygende temperature weens klimaatsverandering na verwagting die koste van voedsel wêreldwyd elke jaar tot 2035 met tussen 1,49 en 1,79 persentasiepunte gaan opjaag.

(Foto: Jekesai Njikizana/AFP)

Die uitwerking van toekomstige verwarming en hitte-uiterstes op algehele inflasie gaan tussen 0,76 en 0,91 persentasiepunte wees, na gelang van die beste of ergste uitkoms.

“Ons vind sterk bewyse dat hoër temperature, veral in die somer, of op plekke waar dit warm is, prysstygings in hoofsaaklik voedselinflasie maar ook algehele inflasie veroorsaak,” sê Maximilian Kotze, een van die navorsers.

Kotze sê die uitwerking op voedselpryse en inflasie weens toekomstige aardverwarming gaan die felste gevoel word in “streke wat reeds warmer is”, en veral in armer en ontwikkelende dele van die wêreld.

Kwaaier uiterstes

(Argieffoto; Droogtehulp SA NPC)

Afrika en Suid-Amerika gaan die vastelande wees wat die meeste geraak word, het die navorsers bevind.

Die Noordelike Halfrond gaan hoër pryse weens klimaatuiterstes egter nie vryspring nie, sê Kotze.

“In daardie plekke in die Noordelike Halfrond, hoofsaaklik in die somer, is waar dit veral gaan gebeur. In die res van die wêreld gaan dit meer oor die hele jaar versprei word,” het hy gesê.

Die navorsers het nie bewyse gevind dat aardverwarming ʼn beduidende uitwerking op enige ander huishoudelike koste, benewens elektrisiteit, gaan hê nie.

Dit strook naastenby met ander studies wat die besonderse gevoeligheid van landbou vir klimaatskokke gewys het, sê Kotze.

Die navorsing het ook bevind dat ʼn groot hittegolf oor Europa in die somer van 2022 waarskynlik voedselinflasie met 0,67% laat styg het. Die grootste uitwerking was in die suide van Europa.

“Toekomstige klimaatsverandering gaan die uitwerking van sulke hitte-uiterstes, asook hul moontlike uitwerking op inflasie versterk,” lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Ek verstaan wragtag waar nie hoekom mense nog sulke snert glo nie. As jy die strooi wil glo wat die openbare media, regerings, drukgroepe en andere loop en verkondig dan het ek nie raad vir jou nie. Wat is eintlik die doel van die storie. Wie het die begin versprei? Om dom te wees is reg, om onnosel te wees opsioneel.

Oom ·

In die verlede is negatiewe klimaatsgevolge meer kere in Suid-Afrika met versoeke om sondevergiffenis met opregte gebed omgekeer as deur te luister na al hierdie tipe bangmaakpraatjies en kwasi plannetjies van ongelowige “wetenskaplikes”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.