ABB betaal R5,5 miljard om Amerikaanse klagte oor Eskom te skik

Die Kusile-kragsentrale naby eMalahleni in Mpumalanga. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die Sweeds-Switserse maatskappy ABB het ingestem om $315 miljoen (sowat R5,5 miljard) te betaal om die Amerikaanse aanklagte – dat hy Eskom vir staatskontrakte omgekoop het – te skik.

Twee filiale van die ingenieurswesereus het elk skuldig gepleit op een klag van sameswering om die Amerikaanse Wet op Buitelandse Korrupte Praktyke te skend as deel van ʼn vervolgingsooreenkoms wat drie jaar lank uitgestel is. Die Amerikaanse departement van justisie sê die skikking is in samewerking met die owerhede in Switserland, Duitsland en Suid-Afrika bereik.

Die kwessie wentel om die Kusile-kragsentrale, die wêreld se vierde grootste steenkoolaangedrewe kragsentrale ter wêreld – en ʼn kragsentrale wat ook geteister word deur bewerings van korrupsie sedert die sukkelende Eskom in 2007 al opdrag gegee het dat die aanleg gebou word.

In Oktober is agt mense, onder wie die voormalige Eskom-hoof Matshela Koko, in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met die werk wat ABB gedoen het.

Tussen 2014 en 2017 het ABB, deur sy filiale, “verskeie” staatstenders gekry en glo onwettige betalings gedoen aan een van Eskom se amptenare, sê die departement.

“ABB het met die subkontrakteurs gewerk ten spyte van hul swak kwalifikasies en gebrek aan ondervinding. In ruil daarvoor, is ABB onbehoorlik bevoordeel om werk by Eskom te kry. Dit het vertroulike en interne inligting oor Eskom ingesluit.”

ABB was betrokke in “skynonderhandelings” met die Eskom-amptenaar en het die betalings valslik as ʼn werklike sakeuitgawe opgeteken, lui die verklaring van die departement.

Bjorn Rosengren, uitvoerende hoof van ABB, sê die maatskappy het te midde van die gebeure ʼn nuwe gedragskode bekend gestel, werknemers opgelei en ʼn verbeterde beheerstelsel in werking gestel om te verhoed dat ʼn soortgelyke situasie weer gebeur.

Rosengren sê in ʼn verklaring van ABB die maatskappy het ʼn beleid van “geen genade nie teenoor onetiese gedrag”.

Die Amerikaanse agentskap sê die boete is met 25% verminder in die lig van ABB se “buitengewone” samewerking en “grootskaalse” remediëringspogings.

Die departement het egter ook verwys na twee ander misdaadresolusies in 2004 en 2010. ʼn Filiaal van ABB het in 2001 ook skuldig gepleit aan tendermanipulasie.

Amerikaanse wetgewing oor buitelandse korrupte praktyke geld vir buitelandse maatskappye wat ook in die VSA genoteer is, soos in die geval van ABB.

Vrydag het die kantoor van die Switserse prokureur-generaal gesê ABB is met sowat R75,4 miljoen vir die kwessie beboet. ABB sê hy hoop ook om binnekort met Duitse owerhede ʼn resolusie te bereik.

ABB se skikkings beloop in die geheel sowat R5,7 miljard en word aangedui in die maatskappy se finansiële syfers vir die derde kwartaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.