Adriaan Vlok sterf

Adriaan Vlok. (Foto: Verskaf)

Adriaan Vlok, die oudminister van wet en orde en korrektiewe dienste, is Sondagoggend ná ʼn kort siekbed in die Unitas-hospitaal in Centurion oorlede. Hy was 85 jaar oud.

Peet Bothma, gesinswoordvoerder, sê die oorsaak van Vlok se dood is nog nie bevestig nie. Sy gesondheid het wel die afgelope paar maande agteruitgegaan.

Vlok het tydens sy politieke ampstermyne, tussen 1986 en 1994, in die kabinet van PW Botha en FW de Klerk gedien.

Hy het in 2006 groot opslae gemaak toe hy die voete van Frank Chikane, voormalige sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, gewas het. Chikane was destyds die teiken van ʼn sluipmoordaanval toe Vlok in die kabinet gedien het.

Vlok was die afgelope klompie jare by ’n projek, Feed a Child, in Centurion betrokke, wat op die versorging van ondervoede kinders toegespits is.

Hy word deur sy eggenoot, Antoinette, drie kinders, vier kleinkinders en een agterkleinkind oorleef.

Adriaan Vlok. (Foto: Verskaf)

“Die gesin is baie hartseer. Op die ouderdom van 85 het jy ʼn goeie lewe gehad, maar dit bly altyd ʼn skok. Selfs al was iemand siek,” het Bothma Sondag aan Maroela Media gesê.

Bothma sê aangesien ʼn groot gedeelte van Vlok se familie in Australië woon, sal begrafnisreëlings eers in ʼn later stadium bevestig kan word.

Rooies Strauss, ʼn sendeling, pastoor en krokodilboer van Upington in die Noord-Kaap, het Sondag op Facebook hulde aan Vlok gebring, en gesê dat Vlok nou “verlos is van die wêreld en by die Een is wat hy so liefgehad het”.

“Vir my was hy meer as net Adriaan Vlok – vir my was hy soos ’n Pa,” het Strauss geskryf.

“Ek sal sy lag mis. Wanneer hy my bel, het hy alle nuus en getuienisse so geniet. Hy wou altyd oor krokodille weet en of hulle oukei is. Wanneer hy School of Fire [wat sendelinge oplei] besoek het, het hy agter in die bus saam met die studente gesit en lag. Hy het nog ons Kruis by ons sendingstasie geplant.

“Hy het so vir armes omgegee, daarom het hy kos uitgedeel en gehelp waar hy kan. Ons as familie sal hom mis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Siimpatie aan die familie. Maar hy was ook n man wat sy rug op sy manskappe gedraai het. Het opdrag gegee vir sekere klandestine operasies en later als ontken

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.