Affie sterf kort ná orkes se roerende optrede

Annerien Mills (Foto: Facebook)

Enkele dae nadat die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) se jeugsimfonieorkes die gehoor in Bloemfontein in trane gehad het met hul aangrypende uitvoering, moes hulle hul geliefde fluitspeler aan die dood afstaan.

Annerien Mills (17) is Saterdagmiddag by haar ouerhuis in Pretoria aan ’n hartkwaal oorlede.

Sy het die vorige dag vanaf haar skool se interskolebyeenkoms met Oranje Meisies Hoër teruggekeer ná dáárdie aangrypende vertolking van Ennio Morricone se “Gabriel’s Oboe” wat weens beurtkrag in die duister uitgevoer is.

Annerien is in haar slaap dood nadat sy die middag op haar bed gaan lê het.

“Annerien, jou plekkie is leeg. Jou fluit nou stil, maar jou nagedagtenis leef voort in elke blou Affiehart,” lui ’n inskrywing op die skool se Facebookblad nadat klasmaats Sondag die tyding van haar dood meegedeel is.

“’n Pragtige, liewe kind met ’n fyn sin vir humor. Ons harte is stukkend,” het Marna Jordaan, skoolhoof, aan Maroela Media gesê.

Die skool het Dinsdagoggend ’n gedenkdiens vir Annerien by die skool gehou. Die orkes het tydens die diens wéér Ennio Morricone se “Gabriel’s Oboe” uitgevoer. Annerien se musiekonderwyser het egter hierdie keer haar plek ingeneem.

(Foto: Verskaf)

“Sy was ’n ongelooflik liefdevolle kind wat altyd ’n glimlag op haar gesig gehad het. ’n Regte ou grapjas,” het haar oom, Henry Miles, vanoggend namens die familie aan Maroela Media gesê.

Isabel Lombaard, ’n maat van Annerien, sê Annerien was lief vir musiek en het baie kennis daaroor gehad. “Dit was vir haar lekker om musiek te maak en te sien hoe ander mense dit geniet.”

Annerien was in graad 11.

Annerien Mills (Foto: Verskaf)

Isabel vertel dat Maandag ’n besonder moeilike dag vir Annerien se klasmaats was. Haar skoolmaats het wit strikke in hul hare gedra en ’n blom skool toe geneem ter nagedagtenis aan Annerien.

Haar voogklas het as huldeblyk wit ballonne die lug ingestuur.

“Ons is almal baie lief vir haar en het almal saamgehuil – of jy nou met haar goeie vriendinne was of nie. Dit is regtig ’n sussieskap.”

Annerien word oorleef deur haar ouers, John en Anneke, ouboet Joubert en tweelingboetie Henré.

Daar sal Woensdag 10:00 tydens ’n dankdiens vanuit die NG gemeente Tygerpoort afskeid van Annerien geneem word.

Indien die skyfievertoning nie sigbaar is nie, laai dit hier af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Di ·

Tragies dat so ‘n talentvolle jong meisie op so jong ouderdom oorlede is. Sterkte aan al haar vriende en familie.

Pieter ·

Ek glo ons Hemelse Vader, het vir sy koningkryk n fluitspeler kom haal. Sterkte aan haar geliefdes wat afgterbly. mag julle verstroosting vind , in al die goeie tye saam met haar hier op aarde, en wees verseker dat julle haar weer eendag in die Hemel sal sien

Veronica ·

Ai tog ! Kan my nie indink die pyn en verlang in almal se harte! Vrede en berusting bid ek julle toe.

Casper ·

Hoe hartseer om so jong dame voortydig aan die dood afte staan.Rus sag in Jesus se woning meisiekind Mag julle as ouers krag van Bo kry en mag Hy wat oor lewe en dood beskik julle troos in hierdie hartseer tyd.

Jakkie ·

Sjoe dit is hartseer. Ek kan nie eers dink waardeur haar ouers tans gaan nie.

Jsgroen ·

Ken daai gevoel. Self ons seun op 15 jaar ouderdom verloor laas maand. Sou vandag sy 16de verjaarsdag gevier het. Dankie Affies, Charlie Hofmeyer het ook ‘n hartroerende eerbetoon aan hom gedoen soos julle aan haar betoon het. “n Hele lewe nog voor en moet nou al gaan. Ons hartseer is saam met die familie.

Rooi rissie ·

My hart huil saam elke liewe ouer wat n kind aan die dood afgestaan het dis nie maklik om met die seer verlange pyn en al die vrae aan te gaan nie. My innige meegevoel en simpatie met die ouers as ook vriende en familie. Mag ons skepper verstroosting bring vir almal wat hierdeur geraak word. Baie sterkte aan almal

Nettie ·

Ai, hoe hartseer Jsgroen. Mag God julle ook dra deur hierdie verskriklike tyd. Innige simpatie met julle ontsettende groot verlies.

Nettie ·

Hoe ontsettend. Een van my grootste vrese, as die mamma van ‘n 15-jarige seun met ‘n hartkwaal. Ek wonder wat haar hart probleem was? Dit moet so ‘n skok wees. My hart gaan uit na die boeties en mamma en pappa. Mag God julle almal, en al die ander familie en vriende, deur hierdie dae dra. Ons innige meegevoel met julle almal.

Chris ·

Dit is hartseer. So baie jongmense sukkel deesdae met hul harte. Baie sterte vir die familie in hul uur van rou en afskeid.

Lillian ·

Jyt jou rol op aarde vervul en Jesus het jou kom haal. Baie sterkte aan al haar geliefdes

LeanetteS ·

AG NEE!!! Ek het die video van hulle gekyk met die Bloemfontein kompetisie!! Dit was asemrowend, hemels spesiaal!!! Nou sy weg!!! RIV liewe mensie.. Jy speel nou in hemelse lig by Jesus se voete!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.