Afpersbewerings rakende OB net nog ʼn ‘vertragingstaktiek’

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Bewerings dat hoëprofiel-parlementslede glo gepoog het om adv. Busisiwe Mkhwebane af te pers om die ondersoek na haar te staak, is net nog ʼn vertragingstaktiek.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep, het Dinsdag tydens die debat oor die parlement se begroting in die Nasionale Vergadering gesê die parlement moet nie eens aandag gee aan die bewerings nie en eerder net die proses oor Mkhwebane se moontlike verwydering as Openbare Beskermer (OB) afhandel.

Narend Singh, IVP-hoofsweep, meen egter dat die bewerings wel deur die parlement ondersoek moet word. Daar word onder meer beweer dat ANC-LP’s glo derduisende rande van Mkhwebane gevra het om die ondersoek te staak.

Mulder meen dit is net nog ʼn vertragingstaktiek met die art. 194-komitee se werk wat al langer as ses maande voortduur en die afgelope ruk telkens vertraag is weens Mkhwebane se gebrek aan regsverteenwoordiging.

Mkhwebane se beweerde finansiële beperkings is volgens Mulder nie die parlement se probleem nie en dit is tyd dat sy om regshulp by die Regshulpraad aansoek doen aangesien haar regsverteenwoordiging al van die duurste in Suid-Afrika is. Mulder meen verder daar kan nie ʼn situasie wees waar die parlement as gyselaar gehou word nie en die ondersoek kan ook nie laat vaar word nie.

Mkhwebane het sedert die begin van April al reeds verskeie kere voor die komitee verskyn sonder regsverteenwoordiging nadat die kantoor van die OB dit aan die begin van Maart duidelik gemaak het dat hy net tot einde Maart vir haar regskoste kan betaal. Nieteenstaande is ʼn verdere R4 miljoen beskikbaar gestel. Daar is vroeër berig Mkhwebane se regskoste bring nou die finansiële volhoubaarheid van die kantoor van die OB – wat reeds ʼn uiters beperkte begroting het – in die gedrang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico ·

Lekker om so rond te ploeter, in afwagting van haat uiteindelike pensioen

Kokerboom ·

Dis ‘n absoluut skreiende skande dat die OB sage net aanhou en skaars geld so vermors. Die mense het geen gewete! Die rampokker regering kan net met mag omvergewerp word anders hou verwoesting aan. Demokratiese stem aksies gaan NOOIT werk…

JohanR ·

Net nog minder as vyf maande totdat sy al haar voordele kry. Hou aan OB, hou aan met vertraagings jou groot SKELM!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.