Aftreeoord-moord: Man met voetboeie in hof

Tersius du Plessis tydens vanoggend se hofverskyning. (Foto: Tania Heyns)

Die 36-jarige man wat tydens sy eerste hofverskyning in soveel woorde gesê het dat hý die een is wat die 86-jarige Johanna Rossouw in Januarie by haar huis in die Eden Park-aftreeoord in Emalahleni (Witbank) vermoor het, het Donderdag weer in die landdroshof in die stad verskyn.

Tersius du Plessis het vanoggend in voetboeie en omring deur verskeie korrektiewe beamptes in die hofsaal in afwagting van sy verskyning in die beskuldigdebank gesit. Hy het vir verslaggewers in die hof beduie dat hy met hulle wil praat. Die beamptes het hom egter nie toegelaat nie.

Du Plessis het later in die beskuldigdebank beswaar aangeteken toe die staat aandui dat die saak vir verdere ondersoek uitgestel moet word. Du Plessis se regsverteenwoordiger het aangevoer dat hy reeds al die inligting wat benodig word, verskaf het.

Tersius du Plessis. (Foto: Maroela Media)

Hy het egter later ingestem dat die saak tot Junie uitgestel word nadat die staatsaanklaer aan landdros Vusimuzi Mtsweni gesê het dat die nadoodse ondersoek nog uitstaande is.

Du Plessis verskyn nou weer op 15 Junie in die hof.

Maroela Media het vroeër berig Du Plessis staan tereg op aanklag van moord en motordiefstal.

Rossouw is op 31 Januarie in haar huis in Fuchsiastraat in die Eden Park-aftreeoord oorrompel en vermoor. Sy is sowat 30 keer met ’n mes gesteek. Haar hande is agter haar rug vasgebind en ’n mus is in haar mond gedruk. Seep is oor haar gesig uitgegooi.

Du Plessis het na bewering met Rossouw se wit Honda Jazz die perseel verlaat. ’n Ondersoek het die polisie na Krugersdorp gelei waar die motor verlate gevind is.

Du Plessis het hom kort daarna by die Mondeor-polisiestasie in Johannesburg oorgegee en tydens sy eerste verskyning gebieg dat hy Rossouw vermoor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Nicci ·

Hierdie sinnelose moorde op ons oumense maak my briesend. Hulle moet die doodstraf terug bring. Wat het geword van ‘n oog vir ‘n oog……………

Daniel ·

Dink jy die doodstraf is ‘n goeie idee terwyl die ANC aan bewind is?

Phillip ·

nog so jonk en klaar sy lewe weggegooi . sou graag wou weet hoekom hy dit gedoen het het sy ma hom gedryf tot die daad

Androclus ·

Bv. as hy 25 jaar tronkstraf kry dan is nog steeds jonk so ini laat 50’s so lewenslank sal beter klink vir my.

modiglianigirl ·

Géén rede sal OOIT kan regverdig wat hy gedoen het nie.

Daleen ·

Wat is fout met jou Phillip hoe kan jy die belaglike vraag vra of sy ma hom daartoe gedryf het? NIKS NIKS regverdig om enige iemand ooit te vermoor nie maak nie saak WAT NIE.

Pampoen ·

As hulle sê dat die nadoodse ondersoek nog nie gedoen is nie, bedoel hulle die lykskouing? Kan hulle die arme tante ses maande lank laat lê? Of wag hulle vir forensiese bewyse wat onleed moet word? Ek hoor daar is ‘n groot agterstand by die laboratoriums. Dinge sal moet spoed kry!

E ·

Ek hoop net daar is forensies om hom skuldig te kry. En dat die polisie dit nie weer opgemors het nie. Op die stadium klink my dis net sy erkentenis, of is daar enige video? In elk geval is hy ‘n stuk gemors as hy dit gedoen het. Ek is seker hy het iets persoonlik teen sy slagoffer gehad. Soveel keer gesteek !!!

Androclus ·

Nee man hyt daardie ou vrou lelik dood gemaak,waaroor nog ‘n prokureur en hy is skuldig “Life” please

Blikkies ·

Die ander lesers gaan my seker nou uithaal. Hierdie ou is ‘n skurk en verdien alles wat sy kant toe kom, ek voel ook bitter jammer vir die slagoffer en haar familie, MAAR……….is daar ‘n rede hoekom hy nie ook op R500.00 Borg vir moord vrygelaat kan word nie?

Toetsie ·

Hoor presies wat jy sê…vergeleke met ander, is dit onregverdig.

Cherokee ·

1783 letter by Benjamin Rush: Two wrongs won’t right a wrong.

Johanna ·

Waarom n 86 jarige vrou 30 X met n mes gesteek?
Dig klink na woede teenoor n ou vrou….
Iemand wat baie oud was het die man dalk in sy kinder jare te na gekom…… en iets trigger trauma en dit gaan oor in Moord.
N Bose sirkel

chrismar ·

“Du Plessis het hom kort daarna by die Mondeor-polisiestasie in Johannesburg oorgegee en tydens sy eerste verskyning gebieg dat hy Du Plessis vermoor het.”?Dit is seker hoekom hofsake so sloer.Het hy gebieg oor Rossouw of oor Du Plessis?

Nico Strydom ·

Dagsê Chrismar
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.