AfriForum in hof oor regter in ‘Kill the Boer’-appèlsaak

Appèlregter Raylene Keightley (Foto: Supreme Court of Appeal)

AfriForum se hofsaak, waarin die onttrekking van waarnemende appèlregter Raylene Keightley versoek word, het vandag in die hoogste hof van appèl begin. AfriForum se regspan het in 2023 ʼn formele versoek aan die registrateur van dié hof gerig dat regter Keightley haar onttrek aan die paneel regters wat moet beslis oor AfriForum se appèlaansoek teen Julius Malema en die EFF se dreunsang van “Kill the Boer”.

Uitspraak in die saak is voorbehou.

Die aansoek is ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat waarnemende appèlregter Keightley in ʼn 2018-hofsaak sterk menings téén AfriForum gehuldig het. Een van haar kommentare het aan die hand gedoen dat die organisasie aan “anachronistiese standpunte” vasklou. Tydens daardie saak het Keightley ook te kenne gegee dat indien sy dalk in die toekoms vir enige saak van AfriForum voorsit, sal die organisasie dit moontlik gepas vind om haar onttrekking te versoek.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit betreurenswaardig dat AfriForum ten opsigte van regter Keightley se onttrekking van regsaksie gebruik moes maak. Die organisasie het gehoop dat regter Keightley haar uit beginsel vrywillig en in die belang van die beskerming van die integriteit van die howe sou onttrek.

In ʼn brief van Keightley se regsverteenwoordigers aan AfriForum in September verlede jaar, beweer Keightley dat AfriForum vroeër reeds van die uitlatings bewus was en dat sy “selektief” aangehaal word. Haar regsverteenwoordigers dui ook in hierdie brief aan dat sy die aansoek om haar aan die saak te onttrek, sal teenstaan.

Kriel sê regters met, volgens lede van die publiek se waarneming, duidelike vooroordele wat hofuitsprake beïnvloed, ondermyn mense se vertroue in die land se regstelsel. “AfriForum sal doen wat dit verg om te verseker dat die ‘Kill the Boer’-appèlsaak voortgesit word sonder enige regterlike partydigheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andries ·

Gaan lees haar Bio dan sal jul sien hoekom sy nie kwalifiseer nie.

Bennie ·

Raak ontslae van haar. Sy is definitief nie in staat om objektief te wees nie. Nog ‘n liberale een wat sal verongeluk wat sy kan.

Wikkie ·

Haar absolute arrogansie gaan haar in die toekoms nog duur te staan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.