Afrika-renostergetalle styg eerste keer in meer as dekade

(Argieffoto: Platinum Rhino)

Renostergetalle in Afrika het verlede jaar gestyg, die eerste bietjie “goeie nuus” in ʼn dekade vir ʼn dier wat uitwissing weens onder meer ongebreidelde stropery die hoof moet bied.

Die syfer op die vasteland het teen die einde van verlede jaar op 23 000 gestaan. Dit is ʼn toename van 5,2% in vergelyking met ʼn jaar tevore, het die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN) gesê.

“Met hierdie goeie nuus kan ons vir die eerste keer in ʼn dekade ʼn sug van verligting slaak,” sê Michael Knight, ʼn wildlewe-ekoloog en voorsitter van die IUCN se Afrika-renosterspesialistegroep.

Die IUCN kombineer renosterskattings van verskeie lande om die vasteland se totaal te bepaal en sê ʼn “kombinasie van beskerming en biologiese bestuursinisiatiewe” het gelei tot ʼn 4,2%-toename in die getal swartrenosters. Dié syfer staan nou op 6 487.

Witrenosters het met 5,6% toegeneem en staan nou op 16 803 – die eerste toename sedert 2012, sê die IUCN.

“Dit is onontbeerlik om die positiewe verwikkeling verder te konsolideer en daarop voort te bou en nie ons waaksaamheid te verslap nie,” sê Knight.

Renosters is afgemaai in dekade lange stropery wat gedryf is deur die vraag uit Asië, waar horings in tradisionele medisyne gebruik word vir die kwansuise terapeutiese waarde daarvan.

Meer as 550 renosters is verlede jaar in Afrika gestroop, die meeste daarvan in Suid-Afrika, sê die IUCN.

Suid-Afrika is die tuiste van byna 80% van die wêreld se renosterbevolking. Stropery het toenemend begin om private reservate te teiken in die soektog na renosterhoring wat uiters gesog is op die swart mark. Die prys van renosterhoring is op dieselfde skaal as dié van goud en kokaïen en word teen ʼn geraamde $60 000 (sowat R1,1 miljoen) per kilogram verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karoo ·

Shhhhhh IUCN moet asb nie hiermee spog nie, die stroopers vryf hulle hande.

Dirk ·

Hoe lui dit…the best way to predict the future is to create it. Knap gedaan! Dit is werklike goeie nuus, mag die syfers net meer en meer styg.

Anel ·

Goeie nuus maar sou dit nie verkondig nie. Veral nie getalle bekend maak nie, want dan is dit baie goeie nuus vir stropers. My beskeie mening!

Tsek! ·

Fantastiese nuus vir die eerste keer in amper tien jaar. Hoe meer stropers uitgedun word hoe beter lyk die renoster syfers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.