Afrikaans: Van 44 tot 7 miljoen in 2041

Daar was in 2022 opnuut talle aanslae teen Afrikaans maar die taal, nes sy mense, het gewys dat doemprofete hom nie gaan onderkry nie.

Afrikaanssprekendes trek boonop laer om dié taal en dit is in geen onsekere terme beter bewys as ná die oënskynlik ondeurdagte opmerking van die Suid-Afrikaans gebore aktrise Charlize Theron dat net 44 mense nog dié taal praat.

ʼn Verslag van die Afrikaanse Taalraad en die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), “Die algemene demografie van Afrikaans 2022”, wys egter dié taal, wat vanjaar sy honderdste bestaansjaar vier, is springlewend en gesond, ten spyte van uitdagings wat hom in die gesig staar.

Die verslag stippel die uitwerking van veral emigrasie, verengelsing en verstedeliking op Afrikaanssprekendes uit en bevind die getal sprekers van dié taal kan teen 2041 tot meer as 7 miljoen toeneem.

Jong taal wat steeds groei

Afrikaanssprekendes se getalle sal in absolute terme van 7,11 miljoen (2021) tot 7,12 miljoen (2031) groei, het die navorsers bevind. Die nuus is egter nie regdeur goed nie en die studie wys ook die Afrikaanssprekendes krimp relatief tot die algehele bevolking van 11,7% (2021) tot 9% (2041). Dit sal hul toegang tot staatshulpbronne verswak.

Die ontleding van die stand van Afrikaans dui daarop dat “Afrikaans in sekere opsigte nog relatief gesond is, maar dat daar ook rede tot kommer is”.

Sommige segmente van die Afrikaanse bevolking geniet hoë vlakke van taaloordrag, terwyl taaloordrag in ander sfere as “beslis bedreig” of “baie bedreig” bestempel kan word, het die navorsers bevind.

Verskillende faktore word gebruik om bedreigde tale se lewenskragtigheid te meet, soos taaloordrag tussen geslagte; die absolute getal sprekers en gemeenskapslede se houding teenoor hul eie taal.

Deur elkeen van die faktore te ontleed kan die kwesbaarheid of bedreigingsvlak van ʼn taal in elke konteks bepaal word. ʼn Bedreigingsvlak van 5 word as sterk positief beskou en ʼn vlak van 1 as sterk negatief.

“In die geval van Afrikaans word alle segmente van die Afrikaanse bevolking deur verengelsing geraak, wat ʼn gekwantifiseerde negatiewe uitwerking op die groei van die taal het en in die toekoms sal hê.”

Hoewel verengelsing toeneem, meen die navorsers Afrikaans se gemiddelde bedreigingsvlak is realisties gesproke op ʼn bedreigingvlak van drie of vier. Dit is egter nie ʼn probleem uniek aan Afrikaans nie, maar vir alle inheemse tale.

“Afrikaans is nie ʼn klein taal nie en toon as ʼn jong taal steeds groei. Nietemin kan Afrikaans volgens berekeninge waarskynlik reeds in 2022 sy posisie as derde grootste taal in die land aan Engels afstaan, ʼn direkte gevolg van (middelklas)-verengelsing in al die land se inheemse taalgemeenskappe,” lui die verslag.

Top-50-munisipaliteite met Afrikaanssprekendes
ProvinsieGetal munisipaliteite%
Wes-Kaap2142%
Gauteng816%
Noord-Kaap612%
Oos-Kaap48%
Vrystaat12%
Limpopo12%
Mpumalanga48%
KwaZulu-Natal12%
Noordwes48%

 

Soet en suur

Afrikaans word ook algaande deur ʼn krimpende minderheid gepraat en verstaan – en dit sluit tweede- en derdetaalsprekers in. ʼn Minderheidstaal is boonop baie meer kwesbaar vir negatiewe drukfaktore en Afrikaans kan, in hierdie lig gesien, as “baie bedreig” beskou word.

Afrikaanse se vitaliteit verskil egter op verskillende gebiede en hoewel die algemene prentjie is dat Afrikaans goed vaar in domeine soos die kunste, vaar dit weer sleg in sektore soos die onderwys en die regstelsel – en taaloordrag tussen die generasies “ly onvermydelik hieronder”, aldus die verslag.

Afrikaans beskik ook oor ʼn goed ontwikkelde taalinfrastruktuur in die vorm van woordeboeke en instellings en daar is groot kunstefeeste, talle gevestigde skeppende kunstenaars – en gretige verbruikers.

Die navorsers het bevind sommige Afrikaanse organisasies slaag goed daarin om dienste aan die Afrikaanse gemeenskap in sakeondernemings te omskep of om kulturele entrepreneurskap te bedryf.

Dié positiewe kenmerke dra by tot ʼn betreklik dinamiese Afrikaanse ekonomie, maar ʼn kwesbare aspek hiervan is die stelsel se afhanklikheid van ʼn klein aantal befondsers van die Afrikaanse taal en kultuur. Sonder húlle sou dit moeilik wees om die aktiwiteite in alle domeine op die huidige vlak te handhaaf.

Afrikaans in onderrig

Funksieverliese in een domein spoel dikwels oor na ander domeine en dit verbaas nie dat verengelsing ook in die skoolstelsel tot ʼn tasbare probleem ontwikkel het nie, lui die bevindings. Die redes hiervoor verskil gedeeltelik van streek tot streek.

“In die provinsie Wes-Kaap vind verengelsing van skole plaas ten spyte van ʼn relatief goedgesinde onderwysdepartement, terwyl dit in Gauteng as ʼn doelbewuste politieke strategie aangedryf word en Afrikaansmediumonderrig kan weens nuwe nasionale wetgewing en ʼn ongunstige politieke landskap reeds in 2023 daar ʼn kantelpunt bereik.”

Luidens die navorsing is die groei van Afrikaanse private skole en private tersiêre instellings ʼn reaksie op die kwesbaarheid van die Afrikaanse onderwyspyplyn.

“Dit sal egter sukkel om die behoefte vir Afrikaansmediumonderrig ten volle met private instellings te dek, veral op die korter termyn. Daarbenewens het die privatisering van onderwys ook moontlike negatiewe sosiale gevolge.”

Die verslag lui daar moet aandag gegee word aan Afrikaans in die onderwys, deur skole van strategiese belang vir die behoud van die Afrikaanse pyplyn in spesifieke buurte behoorlik te ondersteun. “Waar geen Afrikaanse skole meer oor is nie, moet op Afrikaans as vak in andersins Engelse skole gefokus word.”

Bedingingsmag

Afrikaans het ʼn goed georganiseerde groep burgerlike organisasies en vakbonde wat die taal se bedingingsmag saambondel en Afrikaans verdedig. Dit is ʼn bate wat volgens die navorsers nie onderskat moet word nie en een wat in die toekoms selfs belangriker gaan word en gebruik kan word om met die staat te onderhandel, waar nodig.

“Die verlies aan bedingingsmag, in relatiewe terme, kan Afrikaans se algemene isolasie verdiep en dit moeiliker maak om taalverskuiwings in belangrike domeine teë te werk. ʼn Belangrike faktor hier is Afrikaans se isolasie wat met die vinnige groei van die Afrikatale kan verdiep.”

Die verslag se skrywers sê voorts ʼn groeiende Afrikaanse ekonomie kan ʼn positiewe uitwerking op taalhoudings hê en die groeimoontlikhede van ’n inklusiewe en verwelkomende Afrikaanse ekonomie wat geleenthede en voordele vir sy sprekers skep, moet ondersoek word.

“Die verhouding tussen Afrikaans en die private sektor moet versterk word en daar moet nagedink word oor die skep van nuwe waardekettings, nuwe markte en nismarkte waarin Engels moeilik kan meeding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.