Afrikaanse matrieks sê ‘nee dankie’ vir wiskunde

Argieffoto bloot ter illustrasie van wiskunde. (Foto: Unsplash)

Al minder leerders neem deesdae wiskunde tot in matriek, wys syfers van die departement van basiese onderwys. Dié tendens is selfs meer opvallend onder leerders in Afrikaanse skole, waar net ʼn kwart (24%) van leerders verlede jaar wiskunde in matriek geskryf het, teenoor 36% nasionaal.

Dié kommerwekkende tendens is die afgelope week in Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) se matriekverslag uitgelig.

Hiervolgens het die persentasie Afrikaanse matrikulante wat verlede jaar wiskunde in die eindeksamen geskryf het, met amper tien persentasiepunte sedert 2018 afgeneem, van 34,1% in 2018, tot ʼn skamele 24,4% verlede jaar. Hierteenoor het die getal Afrikaanse matrikulante wat wiskunde geletterdheid neem, in dieselfde tydperk van 65,9% tot 71,3% toegeneem.

Nasionaal lyk die syfers effens beter, met 36% van matrikulante verlede jaar wiskunde geskryf het, teenoor 45,6% in 2018.

Grafika: Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum.

“Hoewel Afrikaanse skole indrukwekkende prestasies in wiskunde behaal, is daar ʼn merkbare neiging dat ʼn kleiner persentasie van Afrikaanse leerders dié vak kies, in vergelyking met die nasionale gemiddeld,” lui die SOS se verslag.

“Dit is kommerwekkend, veral aangesien wiskunde ʼn sleutelvak is wat toegang tot verskeie komplekse en gesogte studierigtings bied. Deur eerder wiskundige geletterdheid te kies, ʼn vak wat as relatief makliker beskou word, sluit Afrikaanse leerders hulself moontlik onbedoeld van hierdie geleenthede uit.”

Johan Koekemoer, hoof van onderrig en leer aan die SOS, sê die redes vir ʼn daling in wiskunde-kandidate, veral onder Afrikaanse leerders, is veelvoudig.

“Dit kan wees dat skole leerders aanmoedig om wiskunde geletterdheid te neem, sodat die slaagsyfer beter lyk, of sodat leerders ʼn hoër TP-telling (vir toelating aan universiteit) kan kry. Ons sien byvoorbeeld dat regsfakulteite uit hul nate bars, omdat matrikulante dit kan studeer sonder om suiwer wiskunde op skool te gehad het.”

Hy sê ʼn gebrek aan goed opgeleide wiskundeonderwysers, veral op die platteland, maak dit vir skole soms baie moeilik om wiskunde aan te bied en in sommige gevalle word die vak heeltemal gestaak. “Wiskunde-angs is ook ʼn werklike probleem. Ons kinders het enorme druk om te presteer en kan boonop keuring verloor weens politieke redes. Dus leer kinders om wiskunde te doen binne omgewings wat nie ʼn liefde vir die vak kweek nie. Mettertyd los hulle weer die vak.”

Hy meen ook die manier waarop wiskunde-onderrig plaasvind, moet verander.

“Ons onderwysers se onderrigstrategie neem nie die konteks van die kind voor hulle in ag nie. In ʼn nuwe era hou ons nog aan met ou praktyke. Ons gee nog huiswerk in plaas van voorbereiding en ons gebruik nog wit- en swartborde om werk te verduidelik in plaas van om dinamiese sagteware en nuwe tegnologie in te span. So maak ons die vak vir die kind voor ons ontoeganklik.”

Hy stel voor dat ouers en onderwysers kinders meer gereeld aanmoedig om buite te speel, eerder as om voor die TV te sit of huiswerk te doen. “So kan kinders voldoende op ʼn psigomotoriese vlak ontwikkel om wiskundige denke te akkommodeer.”

Verbetering in wiskunde-slaagsyfer wel verblydend

Volgens die SOS se matriekverslag is die 10%-verbetering in die nasionale wiskunde-slaagsyfer, van 53,5% in 2014 tot 63,5% in 2023, wel verblydend. “Ons sien ʼn positiewe tendens in die prestasie van leerders in dié kernvak oor die afgelope tien jaar. Net in die afgelope jaar het ons ʼn 8,5%-styging in die slaagsyfer gesien, asook ʼn styging in die getal kandidate wat onderskeidings behaal het (3,5%). Dit is boonop die grootste persentasie leerders wat die afgelope 30 jaar ʼn onderskeiding vir wiskunde behaal het.

Grafika: Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum.

Luidens die verslag speel wiskunde ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van logiese denke, probleemoplossing en analitiese vaardighede.

Veral Afrikaanse leerders het hul goed van hul saak gekwyt. Altesaam 51,0% van die leerders in Afrikaanse skole behaal meer as 50% in wiskunde. Dit is 23 persentasiepunte hoër as die nasionale syfer van 27,9%. Die helfte minder Afrikaanse leerders (16,5%) het ook wiskunde gedruip, teenoor die druipelinge nasionaal (36%). Afrikaanse matrikulante was boonop drie keer meer geneig om ʼn onderskeiding vir wiskunde te behaal. Een uit elke tien Afrikaanse matrikulante (10%) wat wiskunde geskryf het, het ʼn onderskeiding daarvoor gekry, teenoor 3,5% van matrikulante nasionaal.

“Die konsekwent hoër wiskunde-prestasie van Afrikaanse skole kan aan bekwame onderwysers en die voordeel van moedertaalonderrig toegeskryf word, wat ʼn positiewe impak op leerders se akademiese welslae het. Afrikaanse skole het in 2023 altesaam 19,1% van alle wiskunde-onderskeidings opgelewer, hoewel hulle slegs 8% van skole uitmaak,” lui die verslag.

Hier is die 20 beste skole in wiskunde:

Grafika: Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum.

 

Grafika: Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Monique ·

Dit is so, Leerders word aangemoedig om Gelets te vat, sodat die skool se slaagsyfers kan styg!

Martie Smartie ·

Buite te gaan speel? Ipv husiwerk doen? Really. Tegnologie ipv skryf op ‘n bord? Regtig. In ons dae het ‘n swartbord heel goed gewerk. Ekstra klasse kan help. En die vak wiskundige geletterheid moet nie as plaasvervanger vir wiskunde aangebied word nie. Wiskunde poet verpligtend wees vir almal, standaar of hoër graad. Punt stop. WG moet ‘n additionele vak wees. En die gehalte van wiskunde onderwys is ‘n reuse probleem. Doen werkswinkels elke kwartaal vir alle wiskunde onnies. Laat wisk onnies affilieer by ‘n liggaam wat toesien dat hulle behoorlik gekwalifiseer is.

Anna84 ·

Ek stem 100% saam dat die gebrek aan goeie wiskunde onderwysers ‘n reuse probleem is. My kind is tans in Gr10 en die juffrou wat vir haar klas gee, verduidelik een keer. As jy nie verstaan nie, word jy eintlik gedwing om vir wiskunde ekstaklasse te gaan wat ouers ‘n fortuin kos. Ons betaal reeds duisende rande skoolgeld, en dit vir onderwysers wat nie eintlik in die beroep wil wees nie. Ek haal egter my hoed af vir die onderwysers wat wel daar is omdat hulle daar wil wees. Mens kan dit onmiddelik sien as jou kind se rapport kom. Moeilike vakke wat goed geslaag word omdat die onderwyser dit interessant maak, so kinders luister beter en dit maak dit weer op die beurt makliker om te leer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis kommerwekkend. Duisende jong Afrikaners maak self belangrike beroepsrigtings se deure toe. Wiskunde is ‘n bogger, maar kinders moet vasbyt. Plattelandse kinders wat skole bywoon wat nie wiskunde aanbied nie moet dié vak dan aanlyn aanpak.

VaalDonkie ·

In my opinie moet jy nie wiskunde vat as jy dit nie nodig het vir die rigting waarin jy wil studeer nie. Dis net onnodige stres vir niks. Die probleem is jy moet al in Graad 10 daai besluit maak, en op daai stadium weet bitter min kinders en hul ouers wat hulle vir die res van hul lewens wil doen.

daarsdit ·

Dit maak nie saak of kinders Wiskunde vat om verder te gaan leer nie, meeste ouers kan dit nie meer bekostig nie en ons kinders kry nie beurse nie.

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid gaan die kaf van die koring skei. Besluit of jy die koring of die kaf wil wees. Jou toekoms is in jou eie hande. Besluit of jy ook by die karavaan lange toue onwettige immigrante wil aansluit wat op pad na die VSA is.

anna2023 ·

Hoekom Wiskunde neem as jy reeds besuit het in watter rigting jy wil studeer en jy reeds weet dis nie nodig nie. Hoekom wil jy die lewe vir jouself (of jou kind) moeilik maak deur duisende te spandeer op ekstra klasse nie te praat van al die emosionele stres nie. Nie almal kan (of wil) ‘n BsC of Bcom graad doen nie en soos hierbo genoem meeste kan dit deesdae in elk geval nie bekostig nie. In my opinie is ekstra klass en tutors ook noe altyd die regte ding nie – leerder leer nie om hulle self te help nie.

Tino ·

Wiskunde gaan nie net oor ‘n vak nie maar ‘n denkwyse, n dieper verstaan van dinge en logika. Om hierdie dinge vinnig te kan benut in elke dag se lewe is van kardinale belang.

Ek sal wiskunde hoer graad sterk voorstel om die koring van die kaf te onderskei, dit vat moeite as dit nie natuurlik kom nie wat beteken dit leer jou om te werk na iets toe.

As jy dom is, weet j nie jy is dom nie en dit pla jou nie want jy weet nie wat jy mis nie. Dis net moeilik vir die ander.

Hierdie ding van onderwysers wat net hoe persentasie prestasie jaag is ‘n probleem, ‘n goeie syfer op lae kwaliteit is minder werd vir die kind as ‘n gemiddelde of ondergemiddelde syfer op ‘n hoe kwaliteit item

Karina ·

Dank die swak wiskunder onderwysers af en stel bekwame mense aan. Kinders wat wiskunde moet neem, moet noodgedwonge ekstra klasse loop agv die swak onderwysers. Ouers sukkel reeds genoeg en nou is dit ‘n ekstra onnodige uitgawe ten spyte van die hoë skoolfonds wat betaal moet word.

Bolandse Nooi ·

Eh-eh-eh ………….. nee, ongelukkig het julle my verloor met wiskunde as vak, juis a.g.v. ‘n laerskool onderwyseres wat my as “een van die dommes” beskryf het en met ‘n “gaan sit agter in die klas!” ‘n naambord gegee het wat tot nou toe nog by my vassteek. Ek het in die vorige eeu (BAAAAAAAAIE lank terug!) met skool klaargemaak en daardie ek-is-te-dom-vir-wiskunde steek tot vandag in my kop vas. Ek tel nóú nog op my vingers ….

Francois ·

As ;n kind aan die einde van Gr.9 presies weet watter beroepsrigting hulle wil volg en Wiskunde is nie ‘n toelatingsvereiste nie, dan mag Wiskunde Geletterheid beslis help om die TP-telling te lig. Vir sommige studierigtings is ‘n blanke kind se enigste opsie om 1 van 40 plekke te kry om in die top 10 aansoekers te wees so die TP-telling is belangrik. Vir my eie kinders het ek gesê hulle sal wel Wiskunde tot Gr 12 neem en hulle gaan reeds van Gr.4 elke week na ekstra klasse. As mens eers ‘n “gly” in Wiskunde vang of sukkel sonder hulp dan is dit verby. As enkel ouer moes ek noodgedwonge op sekere plekke sny om die ekstra klasse te bekostig maar gemiddelde van 88% en 96% in die laaste eksame wys dit help.

anna2023 ·

@ Tino dit beteken nie jy is dom as jy nie wiskunde kan baasraak nie.

anna2023 ·

@ Tino dit beteken nie jy is dom as jy nie wiskunde kan baasraak nie.
E was een van die gelukkiges wat dit gesnap het maar ek onthou oukies wat altyd verkleineer is omdat hulle gesukkel het en dit was baie jare terug. Maar sommige van daai outjies is nou profesioneel gewys baie suksesvolle entrepreneurs en beter af finansieel as die Top akademiese kinders van daai jare. Ek voel dis bitter onregverdig om ‘n kind minderwaardig te laat voel omdat die kind of sukkel met wiskunde of die besluit geneem het om dit eerder te los.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.